Mnr. Johann Zietsman, die wêreldbekende kenner van hoëdrukbeweiding, verduidelik hoe die konsep werk.

Diere se impak op die veld deur nie-selektiewe beweiding – wat op hoëdruk- en ultrahoëdrukbeweiding neerkom – vorm deel van herlewingslandbou wat die laaste tyd sterker in Suider-Afrika begin posvat het. Herlewingslandbou gaan dus nie net oor saaiboerdery met onder meer geen- en minimumbewerking nie, maar sluit ook veeboerdery in.

Mnr. Johann Zietsman se beeste in Zambië word bestuur met ’n ultrahoëdigte, vinnige rotasie-weidingstelsel. Hy sê wins uit beeste gaan daaroor om jou veld te verbeter deur weiding wat goed bestuur word, teen ’n hoë intensiteit en wat vinnig afgewissel word.

Zietsman, weidingkenner van Chisamba in Zambië, het op Landbouweekblad se Herlewingslandboukonferensie op Reitz gesê met konvensionele beweiding stagneer die ekostelsel.

Dit kan met ultrahoëdrukbeweiding omgekeer word, waarvolgens die boer beheer toepas sodat die beeste nie-selektief wei deur verskuifbare skokdrade in die weidingkampe te span. Die beeste word dus gedwing om alles te vreet wat in die klein “kampie” voorkom.

As hulle die gras in die strook deeglik bewei het, word die skokdrade verskuif om ’n nuwe strook te skep. Dit kan op enige veldtipe gedoen word. Dié soort beweiding moet egter deeglik deur die boer beplan en bestuur word om seker te maak die veedruk is hoog genoeg om die veld goed te benut. Die grondoppervlak moet ook volkome versteur word om sodoende die weiding én grond te verbeter.

Pas bestuur aan

Beesboere moet ’n kopskuif maak en produksie per hektaar uitdruk en nie bloot per dier nie, het Zietsman gesê. Saaiboere mik na ’n hoë opbrengs per hektaar en bestuur die saaiboerdery daarvolgens. Hulle sal byvoorbeeld nie mielies twee meter uitmekaar in die ry plant om sodoende groot koppe te oes nie.

Beesboere, daarenteen, sal eerder ’n lae belading op die veld handhaaf en dan met swaar speengewigte spog. Dit is tyd dat veeboere eerder vir maksimum wins per hektaar teel en bestuur. Zietsman se raad is dat ’n boer eers ’n behoorlike, sistematiese uitleg van die beweiding moet doen. Die vee moet altyd vrye toegang tot water hê.

Só word beheerde, nie-selektiewe beweiding suksesvol toegepas. Die beeste het die veld deeglik benut.

Die grootte van die beskikbare weiding wat elke keer met die dwarsdraad in die strook afgespan word, bepaal die mate van veedigtheid en dus die weidingsintensiteit en grondversteuring.

“Ek het op 12 Januarie 1995 die eerste keer met ultrahoëdrukbeweiding begin deur die beeste met verskuifbare elektriese heinings te beheer. Voorheen het ek nie gedink dit is moontlik om vleisbeeste só in die veld te beheer nie, want dit is voorheen basies net met melkbeeste op aangeplante weiding gedoen. Ek het die teendeel bewys. Hulle het binne ’n dag of twee geleer om die elektriese heinings te respekteer,” het Zietsman gesê.

Enige terrein is geskik

Hierdie soort beheer is op haas enige terrein moontlik. Die boer moet volgens Zietsman egter verskeie bestuurbare veranderlikes in gedagte hou:

Veedigtheid, wat die impak en intensiteit van beweiding bepaal.

Die herstelperiode, wat die groeikragtigheid en voedingswaarde van die veld bepaal.

Die tydperk van beweiding. Die veld moenie jaar ná jaar in dieselfde seisoen bewei word nie, aangesien dit die samestelling van die grassoorte nadelig kan beïnvloed.

Droogtereserwe. Dit is noodsaaklik om te verseker dat daar genoeg gras vir die vee is om tot die begin van die volgende groeityd te bewei. Wanneer ’n boer hoëdruk- of ultrahoëdrukbeweiding toepas, moet hy dit in samehang met sy omgewing doen, wat die veedigtheid per hektaar sal bepaal.

Beweiding goed vir grond

Beweiding is goed vir die grond. Dit kan só bestuur word dat 50% van die materiaal afgevreet word, terwyl die res van die plantmateriaal na die grond terugkeer wanneer dit plat- en ingetrap word. Die grond vind terselfdertyd ook baat by die vee se mis, urine, speeksel en mikrobes in die mis.

Die grond word boonop belug danksy die kloue se impak, terwyl dit terselfdertyd ’n goeie saadbedding voorberei sodat nuwe grasse gevestig kan word. Plantmateriaal wat onder hoë druk platgetrap word, verrot volgens Zietsman vinniger as wanneer dit meganies gesny en op die oppervlak gelos word.

“Tydbeheerde beweiding is dus altyd goed vir die grond. Bestuur vir kwaliteit op suurveld en kwantiteit op soetveld,” sê Zietsman. Daar is geen twyfel oor die feit dat nie- selektiewe beweiding tot laer individuele diereproduksie (liggaamskondisie) lei nie, sê Zietsman. Dus moet bestuurs- en teelprak- tyke in werking gestel word wat dié afname teenwerk.

Dit behels die volgende: Genotipes moet ’n hoë, inherente liggaamskondisie hê. Met konvensionele “wetenskaplike” teling, waar vir groei (grootte) en voerkraal (voeromsettingsverhouding) geselekteer word, lei dit tot geneties maerder diere. Zietsman beveel die gebruik van inheemse Afrika-beesrasse aan.

Die voorbeeld van veldherstel danksy hoëdrukbeweiding beteken die boer kan sy koeie op groen gras laat kalf.

Die koeie moet op groen gras kalf. Herbesetting word deur koeie se kondisie met kalftyd bepaal. Byvoeding moet die rumen in staat stel om gras doeltreffend te verteer. Speen kalwers op die ouderdom van vier tot vyf maande om koeie kans te gee om vetreserwes op te bou voor die volgen- de kalftyd.

Die grootste fout wat boere op suurveld begaan, is om konstant ’n lang herstel-periode te handhaaf.

‘Moenie bang wees vir oorbeweiding’

Die grootste fout wat boere op suurveld begaan, is om konstant ’n lang herstelperiode te handhaaf. Dit lei tot swak gehalte veld en gevolglik lae liggaamskondisie. Ter wille van goeie diereproduksie moet veld soms kort ná beweiding vir ’n paar weke weer bewei word.

“Moenie bang wees vir oorbeweiding nie, net solank dit nie-selektief is en die veld weer later ’n ruskans kry om volkome te herstel en ’n droogtereserwe op te bou. Op soetveld is gehalte nie ’n groot kwessie nie. Weens die droër toestande en wisselvallige reënval moet herstelperiodes lank wees, tesame met ’n groot droogte- reserwe,” het Zietsman aanbeveel.

Deurlopende ultrahoëdrukbeweiding is noodsaaklik op suurveld. Hier kan veedruk té hoog wees (en tot besoedeling van die gras lei), of nie hoog genoeg nie (om volkome benutting te verseker). Die veldbelading moet wissel van 1 000 tot 5 000 GVE per hektaar. Dit sal ook vir genoeg versteuring van die plante en die grond sorg.

Soetveld kan teen ’n laer veedruk (’n paar honderd GVE per hektaar) goed benut word, maar waar kaal grond hoë diere-impak benodig, sal die veedruk hoog (’n paar duisend GVE per hektaar) moet wees. Dit is ook interessant om te besef in dorre soetveldareas is ’n sarsie ultrahoëdruk-impak van diere elke paar jaar noodsaaklik vir die ekosisteem.

Dit is blykbaar ’n nabootsing van wat die groot troppe van miljoene springbokke baie jare gelede gedoen het.

Monitor die gevolge

Dit is noodsaaklik om die gevolge van bestuur gedurig te monitor. Diere moet daagliks gemonitor word vir grasinname (vol rumen) en gedrag (rustigheid) en op langer termyn ook vir liggaamskondisie. Kyk daagliks na die plant- en grondversteuring. Opnames moet gedoen word om grasdigtheid en die samestelling van die grassoorte dop te hou.

Enige ongewenste gebeurtenis moet reggestel word deur die bestuur aan te pas. Zietsman sê sy veld het binne ’n baie kort tydperk drasties verander. Die drakrag op sy swak benutte suurveld is onmiddellik verdubbel. Ná twee jaar het dit verdriedubbel en ná sewe jaar het dit viervoudig toegeneem.

Die samestelling van die grassoorte het ná ’n jaar van 4,5% smaaklike soorte tot 26% smaaklike soorte verander. “Wees egter bedag daarop dat dié gunstige vordering ook in ’n kort tydperk uitgewis kan word as die boer verkeerde bestuursbesluite neem.”

Navrae: Mnr. Johann Zietsman, e-pos: barzed2013@gmail.com