Die Covid-19-pandemie en die veranderinge wat dit wêreldwyd veroorsaak het, het die probleme wat globale voedselstelsels moet oorkom en die ontwrigtende impak van klimaatsverandering onderstreep. Daarom is dit noodsaaklik dat produsente, ondernemings en plaaslike boere volhoubare praktyke toepas, sê mnr. Unathi Mhlatyana, besturende direkteur van McCain Foods Suid-Afrika.

Volgens Mhlatyana is voedselproduksie en -verwerking wêreldwyd verantwoordelik vir meer as ’n kwart van die koolstofvrystellings wat tot klimaatsverandering lei. “Die Verenigde Nasies voorspel dat die huidige wêreldbevolking van 7,9 miljard tot 9,7 miljard in 2050 sal vermeerder. Dit is noodsaaklik dat landboupraktyke aangepas moet word, anders sal dit ’n 87%-toename in koolstofvrystellings kos om die wêreld te voed.”

Daarom het die maatskappy hom verbind tot nuwe pogings om sy impak op die klimaat te minimaliseer en voedselsekerheid te verbeter.

Die slim en volhoubare kweek van aartappels, deur herlewingslandboupraktyke te gebruik, sal geld vir 100% van sy aartappelproduksie teen 2030. Dit sal teen 2025 ’n vermindering in die hoeveelheid koolstof per ton teweeg bring, ’n vermindering van 25% vir opberging en vervoer tot gevolg hê en waterverbruik met 15% verbeter.

Die vermindering van koolstofvrystellings kan teen die einde van die dekade met 50% verminder word deur hulpbronne doeltreffend aan te wend en volkome oor te skakel na hernubare krag. Die maatskappy het hom ook daartoe verbind dat teen 2025 geen van sy aartappels op vullisterreine sal beland nie en sy verpakking volkome herwinbaar, herbruikbaar en geskik vir die maak van kompos sal wees.

Die maatskappy bly ook verbind tot voedselveiligheid en -gehalte en sal teen 2025 die soutinhoud van sy aartappel- en versnapperingsprodukte met 15% verminder en meer gesonde kos by sy aanbieding insluit.

Sedert die pandemie begin het, het McCain en die McCain Foundation wêreldwyd skenkings gelykstaande aan 53 miljoen etes gemaak en sy vennootskappe met voedselbanke verdubbel. Die maatskappy hoop om teen 2025 sowat 200 miljoen maaltye aan voedselbanke en nie-regeringsorganisasies wêreldwyd te skenk.

Mhlatyana sê McCain se verbruik van hernubare krag het sedert 2019 met 5% toegeneem en koolstofvrystellings het met 6% gedaal. Besoek mccain.com/sustainability vir nog inligting.