Die konferensie is op Dinsdag 7 Augustus by Houwhoek Inn, Grabouw. Die praktiese dag is op Woensdag 8 Augustus op die navorsingsplaas Tygerhoek buite Riviersonderend.

Die praktyk van beheerde spoorverkeer word by die konferensie “deurgetrap”. Kom luister wat mnre. Trevor Syme, ’n boer van Wes-Australië, en Hume Schönfeld, ’n boer van Caledon, daaroor te sê het.

Kaapse graanboere spring ongelukkig nie droogtes vry nie. Daarom kan dit goed wees om die konferensie by te woon en uit mnr. Clint Della Bosca, ’n boer van Wes-Australië en voorsitter van die Wes-Australiese geenbeweringsboerevereniging (WANTFA) se ervaring met boerdery in ’n lae reënvalgebied te leer.

Mnr. Izak Dreyer, ’n boer van Vrede in die Vrystaat, gaan oor dekgewasse en beweiding praat, en mnr. Andries van der Poll, ’n nuwe era graanboer van Gouda, gaan oor sy vordering praat.

Die dag word afgesluit met praatjies oor onlangse navorsing deur dr. Craig Galloway, navorser oor volhoubare landbou by Trace & Save, oor grondgesondheid in weidings en dr. Hendrik Smith van Graan SA en me. Lorren de Kock van Blue North oor die koolstofspoor van koringproduksie in die Wes-Kaap.

Praktiese dag

Proewe wat tydens die praktiese dag op 8 Augustus op Tygerhoek besoek word, sluit in dekgewasse en opvolggewasse, ’n skyfplanterproef met verskillende saaidigthede en kunsmis met plant, ’n lusern-insaaiproef, ’n proef oor mikrobiese funksionele groepe en proewe vir ’n biologiese benadering tot gewasbeskerming en die opbou van grond.

Dit kos R800 per persoon om die konferensie én praktiese dag by te woon. Studente betaal R600. Mense wat net die praktiese dag wil bywoon, betaal R200 en studente R100.

Kliek hier en bespreek op die Quicket-aanlynbesprekingswebwerf.

Navrae: Dr. Johann Strauss, selnommer: 082 907 3109.