Die Suid-Afrikaanse herlewingslandbougemeenskap is een trappie nader daaraan om voordelige, inheemse nematodes te kan aankoop. Me. Sheila Storey, eienaar van Nemlab en besturende direkteur van NemaBio, het onlangs R50 000 gewen by die SA Innovation Hub se Winetech Pitching Den. Dit was ’n kompetisie waar eienaars van kiem-maatskappye hul sakeplanne kon voorlê aan voornemende beleggers.

“Ek is so opgewonde ek het bykans nie geslaap nie,” het Storey gesê nadat sy gewen het. “Die kontant is uitstekend, maar saam met die kontant het ons ook die geleentheid gewen om by die Vinitech-handelskou in Bordeaux in Frankryk in 2020 ons sakemodel te gaan voorlê en dus beleggers vir NemaBio te werf.” Die geleentheid in Frankryk is aan Storey gebied deur die Franse konsulaat-generaal.

NemaBio is ’n plaaslike kiem-maatskappy wat toegespits is daarop om inheemse nematodes te formuleer, te registreer en uiteindelik te kommersialiseer vir die gebruik van siekte- en plaagbestryding in die vrugte-, groente- en snyblombedryf. Die maatskappy het reeds ’n aantal doeltreffende, voordelige mikro-organismes geformuleer.

Die bio-reaktor waarvoor Storey finansiering soek, sal NemaBio in staat stel om hierdie organismes te vermeerder en op kommersiële skaal aan boere te bemark. “Die organismes wat ons ontwikkel, sal siektes peste en plae, soos valskodlingmot en kalanders, tydens die grondfase van hul lewensiklus uitwis. Die reaktor kos ’n enorme bedrag geld, maar volgens ons sakeplan sal ons die kapitaaluitleg binne vyf tot sewe jaar kan terugbetaal, juis omdat hierdie produkte ’n biologiese oplossing is vir siektes en plae veral in die uitvoerbedryf.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.