Nadat 300 mm reën binne 36 uur uitgesak het op die Wes-Kaapse departement van landbou se navorsingsplaas Tygerhoek net buite Riviersonderend, het slymmuf met die gepaste naam dog vomit slime mould, oftewel hondebraakselslymmuf, op hooi wat as grondbedekking dien, voorgekom. Me. Lisa Smorenburg, navorsingstegnikus van die direktoraat plantwetenskappe, het hierdie terugkeer van diversiteit waargeneem op 14 April vanjaar op ’n stuk grond waar sy herlewingslandboupraktyke toepas.

Die hondebraakselslymmuf is op verrottende hooi gevind.

“Die hooi is begin September 2018 in ’n dekgewaskamp gesny. Van die hooi is later in September uitgesprei in ’n klein kampie en groente is daarin geplant,” sê Smorenburg. “Ná ’n onlangse besoek aan herlewingslandboukenners in Amerika saam met die Soil Health Solutions-toergroep, was ek begeesterd om van die praktyke wat ek met die besoek geleer het, toe te pas.”

Sy sê die hooibale is op die spesifieke perseel uitgesprei om onkruid te bekamp. “Die hooi is een keer per week nat gemaak en ons het besluit om groente te plant om te sien wat gebeur in die grond en met die groente. Twee weke ná die swaar reën is die slymmuf waargeneem. Van ver af het dit soos ’n blomkool gelyk, maar daar is geen blomkool geplant nie. Dit was ook nie die vorige dag daar nie en het dus binne 24 uur so groot gegroei. Dit was bo-op die strooi en het lig van kleur, sag en klewerig gelyk.”

Smorenburg sê sy het nie geweet wat dit was nie. Sy het foto’s daarvan aan ’n plantpatologiegroep gestuur, wat dit nie op die oog af kon identifiseer nie. “Ek het toe die foto’s op die Facebookgroep Soil Regen geplaas om te sien of een van die internasionale lede dalk weet wat dit is. Dit blyk egter dat ons oorgenoeg plaaslike kundigheid het. Me. Sheila Storey van Nemlab kon dit as die slymmuf hondebraaksel (Fuligo septia) identifiseer.”

Smorenburg sê die slymmuf se spore is in die grond, maar dit word slegs waargeneem wanneer dit die vrugliggame vorm wat die nuwe spore dra. Die vrugliggame verander van roomkleurig na pienk en word dan later swart. Die spore word vrygestel as die oppervlak van die vrugliggame versteur word en ontkiem in warm vogtige toestande.

hondebraakselslymmuf,
Me. Sheila Storey van Nemlab sê hondebraaksel is nie ’n swam nie, maar ’n slymmuf. Dit het binne 24 uur verskyn en gegroei tot die uiteindelike grootte wat dit bereik het. Binne dae het dit weer verdwyn. Foto: Lisa Smorenburg
hondebraakselslymmuf,
Hierdie swam maak sy verskyning in warm, nat toestande. Dit voed op organiese materiaal en ander organismes, veral bakterieë. Ná slegs een dag verander die slymmuf van kleur namate dit ryp raak. Foto: Lisa Smorenburg
hondebraakselslymmuf,
Me. Lisa Smorenburg van die Wes-Kaapse departement landbou se navorsingsplaas Tygerhoek by Riviersonderend het hierdie ontdekking gedoen op dekgewas-hooi ná swaar reën. Ná slegs twee dae raak die slymmuf swart en verloor aansienlik volume. Foto: Lisa Smorenburg

Die swam voed slegs op verrottende organiese materiaal en ander mikrobes, veral bakterieë. Dit is dus ook verantwoordelik vir die hersirkulering van voedingstowwe wat weer beskikbaar raak vir ander spesies of plante. Die swam sal nie lewende plante aanval nie en is ook nie gevaarlik vir mens of dier nie.

“Die verskynsel ondersteun die idee van die biodiversiteit wat terugkeer met diversiteit bo en onder die grond, soos wat die strewe met bewarings- en herlewingslandbou die geval is,” sê Smorenburg.

Vir nog inligting kontak me. Lisa Smorenburg per e-pos by lisas@elsenburg.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.