Onkruid se naam veronderstel dat dit ’n ongewenste ding is, maar op Twaktuin-boerdery by Clanwilliam word onkruid in sitrusboorde noukeurig tot voordeel van die boerdery bestuur.

Mnr. Robert Paterson, eienaar van Twaktuin-boerdery, gebruik graag dekgewasse en deklae in sy boorde om grondgehalte te verbeter, onkruid te onderdruk en vog te bewaar. Ná die eerste goeie reën laat hy egter die sagte, eenjarige onkruid vir 40-75 dae in die jong boorde floreer.

“Dit is organiese materiaal wat gratis en sonder enige insette hier opkom. Sodra die onkruid sowat heuphoogte bereik, voordat dit blom en saad maak, sny ons dit plat en los die materiaal op die grond. Dit help om die toediening van ons winterstikstof te vergemaklik. Twee tot drie weke later sal ons dan met rugsakke en kontakdoders deur die boorde stap en die onkruid spuit wat nie heeltemal van die platsny gevrek het nie. Dit gebeur egter selde dat onkruid die platsny-aksie oorleef.”

In die eerste maand of twee van die winter, is jong sitrusbome nie baie aktief nie en dus is daar nie ’n gevaar dat onkruid skade aan die bome sal aanrig of met voedingstowwe en vog sal meeding nie, sê Patterson. Hy het dus ’n goeie hoeveelheid organiese materiaal ingewin met baie min insette.

Patterson is verder daarop toegepits om dekgewasse in die werksry te vestig en ’n deklaag van kaf of houtskaafsels onder die bome te vestig.

Boere wat soortgelyke praktiese inligting en wenke vir die somer- of winterreëngebiede wil bekom, kan inskakel by twee geleenthede oor bewarings- en herlewingslandbou.

·      Landbouweekblad se webinaar oor die koste van herlewingslandbou word op 27 Julie (gewasse) en 28 Julie (vee) aangebied. Suid-Afrikaanse en Amerikaanse boere en kenners gee raad, deel suksesverhale en navorsingsresultate en verduidelik hoe om die regte berekeninge te maak.

·      Bewaringslandbou Wes-Kaap en die Soil Health Support Centre bied van 4-6 Augustus die Jack Human-bewaringslandbouweek aan. Dit behels ’n webinaar en twee praktiese dae, onderskeidelik op Langgewens (in die Swartland) en Grabouw. Die tema is Bewaringslandbou – Waardetoevoeging deur ervaring en navorsing.

·      Vir nog inligting oor dié geleenthede en om kaartjies te koop, stuur e-pos aan events@landbou.com