Só het mnr. Egon Zunckel, ondervoorsitter van die KwaZulu-Natalse geenbewerkingsklub, gesê op die herlewingslandboukonferensie op Ottosdal, wat Landbouweekblad met die samewerking met Graan SA en die Ottosdal-geenbewerkingsklub aanbied.

Zunckel het aan die sowat 300 boere en konferensiegangers foto’s vertoon van erge gronderosie wat hy in die distrik Viljoenskroon in die Vrystaat afgeneem het. “Ons grond gaan verlore voor ons oë en ons doen nie iets daaraan nie.” 

Zunckel pas reeds 22 jaar geenbewerkingspraktyke op sy plaas by Bergville in KwaZulu-Natal toe. Hy boer ook in die distrik Warden in die Vrystaat. Danksy die sukses wat hy reeds op sy plaas by Bergville gesien het, het hy nog nooit swaarmoedig van die plaas in Warden weggegaan nie. “Ek het geweet ons gaan dit in die Vrystaat ook regkry.”

Hoe het hy geenbewerking begin toepas? Hy was haastig om te plant en het een jaar vinnig sy mielies in koringstoppels geplant. Daardie mielies het sowat 2 ton/ha meer gelewer as die mielies wat konvensioneel aangeplant is. “Ek het myself afgevra, wat gaan hier aan?” 

Rondawel-effek

Zunckel het vertel hoe een van sy werkers eendag vir hom vertel het: “Die mense op die dorp sê ons jaag *&#%^@# aan!” Zunckel het later daardie dag sy grondtemperatuurmeter in die grond gaan druk, en dit het ’n grondtemperatuur van 20 °C gemeet. “En ek het geweet, nee wat, ons gaan aan.” 

Dekgewasse het ’n “rondawel-effek” op grondtemperature, het Zunckel gesê. “As dit koud is, is die grondtemperatuur warmer as die lug, en as die lug warm is, is die grond koeler as die lug.”

Die daling in sy reënvalsyfers in KwaZulu-Natal onderstreep verder vir Zunckel die belangrikheid van vogbewaring deur middel van geenbewerking en herlewingslandbou. Van 1970 tot 2018 was sy jaarlikse gemiddelde reënval 847 mm. Die laagste reënval wat hy in dié tydperk aangeteken het, was 421 mm vir ’n jaar en die hoogste was 1 549 mm. “Die afgelope vyf jaar is ons gemiddelde reënval 608 mm per jaar.”

Planeet B

Zunckel het gesê die toepassing van geenbewerking is slegs “ ’n pleister wat die bloeding” van die grond keer. “Dis baie belangrik dat ons herlewingslandbou toepas sodat ons ook die wond kan genees.” Hy was baie opgewonde dat hy reeds in die tweede seisoen van geenbewerking kon sien dat meer organismes in sy grond teenwoordig was met al die luggaatjies wat aanwesig was.

Hy het gesê dis baie belangrik dat boere moet onthou daar is nie ’n planeet B nie. “Hierdie is die enigste een wat ons het.”

Sy passie dat sy grond nie versteur moet word nie, het hom al sy middagete gekos, omdat hy met sy vrou baklei het omdat sy met sy kos oor sy landery aangery gekom het. “Onthou, die reëls van boerdery is nie in beton gegiet nie – ons moet altyd kan aanpas.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.