Woolworths, Spier-wynlandgoed en die Volhoubaarheidsinstituut se AgroEcology-akademie het die Living Soils Community Learning Farm in die Lynedoch-vallei gestig. Dis ’n drie jaar lange gidsprojek, wat jong boere sal oplei en ontwikkel in ’n poging om probleme rondom werkloosheid en grondhervorming op te los.

Spier het 3 ha grond en boerderytoerusting bygedra om die plaas te bedryf, Woolworths het R4,4 miljoen se finansiering oor drie jaar beskikbaar gemaak en die Volhoubaarheidsinstituut verskaf ’n projekbestuurder wat aan die stuur van die projek sal wees. 

Drie studente, in hul derde jaar by die AgroEcology-akademie, sal in die eerste jaar op die plaas touwys gemaak word. Hulle sal onder meer permakultuurpraktyke en sakebestuursvaardighede geleer word.

“Ons werk saam met plaaslike vennote om ’n model uit te werk sodat ons die regte aantal boere kan oplei om vaardighede en kennis op die plaas op te doen. Ons werk ook nog aan die seleksiekriteria,” sê me. Rirhandzu Marivate, projekbestuurder van die plaas. 

Die program wil ook aan die plaaslike gemeenskap se behoefte aan voedselsekerheid aandag gee. Dit, tesame met grondontledings, sal bepaal watter gewasse op die plaas verbou word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.