Die konferensie, wat met die samewerking van die Riemland-studiegroep en Graan SA op 19 en 20 Maart hier gehou word, gaan 'n groot aantal mense lok. Van een ding kan almal seker wees: Hulle gaan lekker eet.

“Dit lyk asof daar sowat 500 mense gaan wees. Dalk 'n bietjie meer. Ons is in elk geval gereed en niemand gaan honger ly nie. Meer as 20 kg beskuit sal elke oggend gereed staan en baie kilogram vleis word verwerk,” laat weet me. Esmé Wales.

Sy en haar vennoot, me. Loni Roets, wat spesiaal vir die geleentheid van die Kaap af vlieg, is die twee voorvatters in die kombuis en is al jare lank 'n gedugte span. Hulle word bygestaan deur Arina du Plessis, Landbouweekblad se kosredakteur.

“Ek en Loni ken mekaar al van standerd twee af. Dit is nou 47 jaar. Ons bedryf ons spysenieringsonderneming, Olive Bread Caterers, al 24 jaar saam. Loni woon nou wel deesdae in die Kaap, maar vir groot stories, soos dié, vlieg sy op.”

Me. Esmé Wales en Loni Roets. Foto: Verskaf

Esmé en Loni weet wat hulle doen en het immers al vir pres. Jacob Zuma kos gemaak toe hy die groot hoenderslagplaas buite Reitz geopen het. Die afgelope twee jaar het hulle ook gesorg dat daar by VKB se top 100-geselligheid vingers afgelek word.

“Kyk, dit is harde werk en in die aande is jy heeltemal flou. Maar dit is vir ons lekker. Dit is ook 'n gawe inspuiting vir die dorp en gemeenskap, want byna ál die produkte kom van hier af. Ons maak die wors self, die vleis kom van hier af en die beskuit word hier deur iemand gebak. Dit is hoe dit gaan op klein dorpies. Omdat jy taamlik selfversorgend moet wees, raak jy kreatief. Daarom kan ons alles hier doen.”

Wanneer Esmé vinnig oor die spyskaart gesels, begin jou mond klaar water. Burgers met fyn lams- of varkvleis, ciabattabrood met hoender- of hamvulsel, gebraaide filet, vetkoeke en nagereg. Alles selfgemaak. Net een maaltyd word uitgekontrakteer, naamlik die laaste middag se osbraai.

“Nee, o jinne, toe ek hoor ons gaan 'n os braai, het ek dadelik gewonder hoe gaan ’n mens die ding gedraai kry!”

Country Ox van Parys gaan die osbraai hanteer. Daaroor is Esmé taamlik verlig.

*Landbouweekblad se konferensie oor bewaringslandbou met 15 sprekers word op 19 en 20 Maart op Reitz aangebied. Klik op dié skakel vir nog inligting en kontakbesonderhede. 

Hoofborge: Standard BankVKB en Monsanto/Dekalb.
Ander borge: Imperial Isuzu, Cape Gate, Nulandis, Beyerskloof en KWV 5 YO Brandy.