Die groep het verlede week tydens ’n werksessie by die Citrusdal Country Lodge besluit om ’n dekgewasproef in ’n suurlemoenboord te begin. Mnr. Jaco Visser, produksietegnikus vir Viking in Citrusdal, het die saad bewillig en sal die proef bestuur.

“Ons wil deur hierdie proef die lewensvatbaarheid en kostedoeltreffendheid van die regte dekgewasmengsels in ons omgewing toets,” sê Visser. “Ons gaan begin met twee dekgewasmengsels. Een proef is oorwegend peulgewasse en die ander is oorwegend grasse. Ons is opgewonde oor wat ons hieruit gaan leer en hoop om dit ’n langtermynproef te maak.”

Mnr. Hardie van der Merwe van die plaas Oewerdal net buite Citrusdal het ’n perseel in ’n drie jaar oue suurlemoenboord beskikbaar gemaak vir die proef. Atlantic Fertilizer het van sy gekomposteerde hoendermisprodukte vir die proef geborg en Omnia het ingestem om ontledings van grondmonsters voor en ná die proewe gratis te doen.

Meet om te weet

“Ons hoofdoelwit met die dekgewasse is om materiaal op die bankie te kry sodat die grondvog in die boomry bewaar kan word,” sê Visser. “Tweedens wil ons onkruid in die werkry en die boomry onderdruk. Met die toetse wat Omnia vir ons borg, gaan ons ook die voedingstowwe in die grond, die grond se koolstof- en organiesemateriaalinhoud en die mikrobe-lewe in die grond voor en ná die proef kan meet.”

Visser beoog om net ná die eerste winterreën die proewe te saai. “Hopelik het dit teen Paasnaweek al lekker gereën. Ons sal ’n gedeelte van die proewe platsny en op die bankie verplaas en die ander net platrol om die verskil in onkruidonderdrukking in albei proewe te sien.”

Akademici gee raad

Dr. Johann Strauss, navorser oor volhoubare gewasstelsels by die Wes-Kaapse departement van landbou, en mnr. Rens Smit, een van sy studente, is besig met ’n dekgewasproef in die Sandveld. Hulle het tydens die werksessie raad aan die Olifants-herlewingslandboustudiegroep gegee oor veral die keuse van dekgewasse.

Mnr. Matthew Addison van Hortgro, wat al vir vyf jaar lank in Ceres navorsing doen oor die gebruik van dekgewasse in die sagtevrugtebedryf, het raad gegee oor die praktiese uitvoering van so ’n proef. “Hoe meer kennis ons uitruil, hoe vinniger gaan ons produktiewe oplossings vind. Dit is ’n stap in die regte rigting.”