Sorghum is goedkoop om te vestig, is droogtebestand, produseer ’n oormaat organiese materiaal en groei maklik en vinnig tot 1,5-2 m. Gevolglik is dit ’n uitstekende windbreker in jong boorde.

Mnr. Jarred Murphy, plaasbestuurder van Twaktuin-boerdery se Wittedrift-plaas, het presies dít die afgelope twee seisoene ontdek.

“Ons het aanvanklik sorghum geplant omdat ons gedink het dit sal ’n goeie windbreker wees, maar ons het toe gesien ons kan die sorghum tot drie keer per jaar platsny en dat dit buitengewone goeie organiese materiaal vir ’n dekgewas produseer.

“Omdat die jongbome nog nie so baie water soos volwasse bome nodig het nie, gebruik ons een van twee drupperlyne om die sorghum te besproei. Danksy die hoeveelheid organiese materiaal wat geproduseer word en die vog wat ons dus in ons sandgrond in die Sandveld as ’n deklaag bewaar, is daardie besproeiing op die sorghum oor en oor die moeite werd.”

Boere wat soortgelyke praktiese inligting en wenke vir die somer- of winterreëngebiede wil bekom, kan inskakel by twee geleenthede oor bewarings- en herlewingslandbou.

  • Landbouweekblad se webinaar oor die koste van herlewingslandbou word op 27 Julie (gewasse) en 28 Julie (vee) aangebied. Suid-Afrikaanse en Amerikaanse boere en kenners gee raad, deel suksesverhale en navorsingsresultate en verduidelik hoe om die regte berekeninge te maak.
  • Bewaringslandbou Wes-Kaap en die Soil Health Support Centre bied van 4-6 Augustus die Jack Human-bewaringslandbouweek aan. Dit behels ’n webinaar en twee praktiese dae, onderskeidelik op Langgewens (in die Swartland) en Grabouw. Die tema is Bewaringslandbou – Waardetoevoeging deur ervaring en navorsing.

Vir nog inligting oor dié geleenthede en om kaartjies te koop, stuur e-pos aan events@landbou.com