In die swaarste kleigronde op mnr. Scott Gonnerman se plaas kos dit 50 mm water slegs sewe minute om in die grond te sypel. ’n Dekade gelede het dit ’n uur geduur vir 12 mm water om in dieselfde stuk grond in te sak.

Gonnerman, ’n vierdegeslag-boer by Waco in die deelstaat Nebraska, Amerika, het hierdie merkwaardige verbetering bewerkstellig deur sy grond oor die afgelope dekade nie fisiek of chemies te versteur nie.

Gonnerman se sojabone word deur ’n kontrakteur geplant. Hy meen hulle het teen ’n te hoë spoed deur hierdie dik reste geplant en die resultaat was swak ontkieming.

Hy het ook diverse dekgewasse en ’n veefaktor by sy mielies, sojabone en kleingraanrotasies ingebring, wat die inhoud van organiese materiaal van 2,5% tot 3,5% verhoog het tussen verskillende landerye. Dit is bykans ’n verdubbeling sedert ’n dekade gelede.

“Ek glo winsgewendheid is 100% afhanklik van grondgesondheid. Te veel boere is afhanklik van produksiemiddele om ’n wins te maak. As jy oorhoeks bekommerd is oor jou produksie per hektaar, moet jy weet jy is in ’n doodloopstraat. Vir my is wins per hektaar die belangrikste aspek van my boerdery en dit word bepaal deur die gesondheid en doeltreffendheid van my hulpbronne.”

Gonnerman gee toe hy is aan die uiterste punt van die dekgewas-pendulum. Hy plant tot 18 verskillende soorte of kultivars elke keer as hy dekgewasse plant en maak seker dat daar minstens vier soorte in elke mengsel is wat hy nog nooit tevore geplant het nie.

Vierjaar-gewasrotasie

Scott se gewasrotasie begin met mielies in die somer.

regs: Só lyk mnr. Scott Gonnerman se gewasrotasie. Die kommersiële kleingrane wat hy aanplant, wissel na gelang van wat hy in die hande kry. Hy verkies om C4-grasse in hierdie tydperk te vestig sodat hy soveel moontlik koolstof uit die atmosfeer kan haal, maar dit is nie altyd moontlik nie.

Hy plant slegs kortgroeiers om seker te maak dat hy hawer ná die mielies as ’n dekgewas kan plant. Die hawer kry gewoonlik minstens 60 dae om te groei voordat die koue winters dit laat vrek.

In die Amerikaanse lente, teen middel-Maart, plant hy veldertjies wat hy as saad in Julie oes. Direk ná die oes plant hy sy groot dekgewasmengsel van 16-18 soorte. Hy laat hierdie mengsel een maal deur ’n vriend se beeste op hoëdrukbeweidingbeginsels bewei.

In die herfs plant hy nóg ’n dekgewasmengsel van meestal wintergrasse wat kan oorwinter en in die volgende lente weer vroeg aan die gang kan kom. Hierdie dekgewas word teen middel-Maart platgerol om onkruid te onderdruk en sojabone word daarin gevestig. Die soja word in September en Oktober geoes.

’n Kleingraangewas, soos korog of hawer, word in hierdie reste gevestig. Ná hierdie kleingraangewas, wat as saad geoes word, word beesmis teen ongeveer 13 ton/ha toegedien wat Scott R4 000 per hektaar kos om aan te koop, na sy plaas te vervoer en toe te dien.

Gonnerman plant ’n dekgewasmengsel bestaande uit 18 soorte in sy rotasie en plant dit gewoonlik ná ’n kleingraanoes in die lente. As hy sy dekgewasse op ’n spilpunt vestig, sal hy dit een maal ná plant met 7 mm tot 10 mm besproei indien nodig.

“Die mis is ’n groot bron van fosfate in my grond en voortaan hoop ek dit is die enigste fosfaatbron wat ek sal benodig.” Ná die beesmistoediening word ’n dekgewasmengsel van 18 soorte in die kleingraan-oesreste gevestig om deur die res van die somer en die winter in die grond te bly en bewei te word.

In die daaropvolgende somer word mielies geplant in die dekgewasreste wat plat gerol is.

Niks groei in die sak

Die beginsel wat hy in sy dekgewasstrategie aanhang, is ’n aanhaling van dr. Dwayne Beck.

Hy sê as dit in die sak is, kan dit nie groei nie. Ongeag die toestande, as dit tyd is om my dekgewasse te plant, dan plant ek dit. Die argument is dat alles dan in selfs die swakste toestande reg is sodat ten minste ’n deel van die saad kan opkom wanneer die toestande verbeter. Al kom dus net 25% van my dekgewasse op, is dit steeds die moeite werd.

“Die gebruik van baie kultivars is ’n versekeringspolis. As net 9 of 11 soorte van sowat 17 opkom, is ’n ryk verskeidenheid lewende wortels steeds in die grond aanwesig.”

Hy kies dus die soorte en kultivars sodat die uiteindelike mengsel kultivars bevat wat in koue, hitte of in droogte goed kan presteer.

“Só is ek verseker dat daar altyd lewende wortels onder die grond sal wees en ’n bedekking bo-op die grond.” Die grondlewe en die werking daarvan onder die grond is wat Gonnerman eintlik wil hê.

Die insek- en grondlewe in Gonnerman se landerye het oor die afgelope tien jaar aansienlik toegeneem sedert hy so min moontlik chemiese stowwe gebruik en sy grond nie meer versteur nie. Hierdie tonnel in die grond is waarskynlik deur erdwurms gemaak, maar word deur ander insekte as ’n tuiste gebruik en dien ook as dreineringsgat waardeur reënwater die grond insypel.

“Voordat ek enigiets aanplant, vind ek eers uit wat in my grond aangaan deur grondmonsters na die gesaghebbende Ward-laboratorium in Kearney te stuur. Die resultate van die Haney- en Solvita-toets, asook ’n chemiese ontleding vertel my aan watter hulpbronbeperkinge en tekortkominge ek aandag moet gee. Ek sal dan my dekgewasmengsels en selfs my kleingraan so kies dat daardie tekortkominge oorkom word.

“As my grond se koolstofinhoud daal, sal ek meer C4-grasse plant. Wanneer die stikstofvlakke te laag raak, sal ek peulgewasse plant en wanneer ek die stikstofvlakke wil afbring, sal ek kontantgewasse, soos hawer en korog, plant.”

Tien maal meer wins

Met hierdie strategie het Gonnerman al groot sukses behaal. Hy oes tans gemiddeld 22 ton/ha mielies, terwyl die gemiddelde opbrengs in die Waco-omgewing 28,5 ton/ha is. Hy maak egter tien maal meer wins per hektaar as sy bure wat met ’n hoë-insetstrategie boer.

’n Vergelyking tussen die wins van mnr. Scott Gonnerman van Wako, Nebraska, en dié van die gemiddelde boer in sy omgewing dui aan hoe hy ’n groot wins op sy plaas van 115 ha kan behaal. “Ek het nie nodig om my dood te stres nie, omdat die meeste van die natuurlike probleme nie meer vir my bestaan nie. Deesdae is my grootste probleem die planne wat ek moet beraam om nóg koolstof en grondlewe in my boerdery te bou. Dit is lekker probleme om te hê.”

“Ek gebruik al ses jaar lank geen insek- of swamdoders nie. Met die plant van my sojabone en mielies dien ek 42 liter/ha 10:33:0 vloeibare kunsmis (N, P en K) toe. Die plan is om hierdie gebruik oor die volgende drie tot vyf jaar uit te faseer, namate die grondgesondheid, my dekgewasse en gewasrotasies verbeter om genoeg stikstof en fosfate in die grond te kry. Ons het egter ’n groot probleem met onkruid en het altyd ons mielies twee keer in die seisoen daarvoor bespuit.”

Hy het nou ’n dekgewasroller, die Roller Crimper, bestel en gaan die eerste vooropkoms-onkruidbespuiting daarmee probeer vervang. Vir maksimum bogrondse groei sal die dekgewasse tot in die blomstadium groei voor dit platgerol word.

“Dit beteken ons gaan een maand later moet saai, maar ek meen die hoër opbrengs vanweë minder mededinging en die laer koste omdat ons net een onkruiddoder hoef toe te dien, sal vergoed vir die verliese weens die later plantdatum.”

Gonnerman het egter in die huidige seisoen ’n goeie les geleer. Sy sojabone het ’n swak stand gehad op ’n land waar op sekere plekke ’n baie dik deklaag gelê het. Met nadere ondersoek het dit geblyk dat die planter nie deur die deklaag kon sny nie en die sojabone is nie in die grond geplant nie, maar bo-op die deklaag.

“Ek dink die platgerolde groen dekgewasse sal sagter en makliker wees vir die planter om deur te sny as die harde, droë oesreste. Ek voorsien dus nie dat die gerolde dekgewasse ’n probleem gaan wees nie, mits ons in dieselfde rigting plant as wat die dekgewasse platgerol is. Dan moet ons ook seker maak dat die oesreste onder die dekgewas nie te dik is vir die planter nie.”

Hy gebruik kontrakteurs om sy sojabone en dekgewasse te plant. “Dit is ’n probleem en ek sal verseker met die operateurs en eienaar van die kontrakteursmaatskappy praat om seker te maak die plantery vind ordentlik plaas.” Scott se mielieplanter, ’n John Deere 7000 vir ses rye, is al bykans 40 jaar oud en is al drie keer herbou.

“Daar is niks presisie aan my planter nie. Hy moet swaar genoeg wees om die mielies 25 mm diep te plant, en dit is dit. Ek maak nie my geld deur ingewikkelde, duur masjinerie te gebruik nie. My geld kom van die feit dat ek volgehoue goeie oeste behaal sonder om my dood te betaal aan produksiemiddele.”

Gonnerman gebruik steeds die 7000-sesryplanter van John Deere wat hy in die 1970’s aangeskaf het om sy mielies te plant. Dit is reeds drie maal herbou en die kunsmisbakke agter die saadbakke hou nou ’n sementsteen om ekstra gewig op die skyfplanters te plaas sodat dit deur die oesreste kan sny. Gonnerman dien vloeibare kunsmis op die plantdatum toe.

Plant vlak op diepte

In sy dekgewasmengsel, waar talle sade van verskillende groottes is, is dit vir Gonnerman belangrik om seker te maak dat die saad in grond geplant word waar inderdaad vog is.

“Ek plant al my sade, ongeag die grootte, 25 mm tot 30 mm diep in die grond. Dit verseker dat al die sade goeie grondkontak het en dat daar genoeg vog is. Dr. Dwayne Beck beveel gereeld aan om ‘vlak in diepte’ in droë toestande te plant.

“Om dit reg te kry, verwyder ons die toedrukwiel van die planter. Die skywe sny dus ’n plantvoor, die saad word daarin geplaas en die plantvoor word net nie toegedruk nie. Dit beteken die saad lê dieper, in my geval ongeveer 30 mm diep, waar daar wel meer vog sal wees, maar dit het nie die probleem om deur 30 mm se bogrond te moet beur nie.”

Hy het redelik sukses met dié strategie bereik, maar dit is nie altyd nodig nie en dit word nie as ’n reël toegepas nie.

Inkomste uit dekgewasse

Gonnerman se dekgewasmengsel kos hom R750/ha en hoewel hy nie die regstreekse inkomste op daardie koste kan bereken nie, het hy al bereken dat hy ten minste 200 kg stikstof per hektaar in ’n seisoen kan mineraliseer bloot deur die doeltreffende werking van grondmikrobes.

“Wanneer ons grondmonsters trek voor ons korog en gars saai, is daar ongeveer 60 kg stikstof per hektaar in die grond. Wanneer ons die grondmonsters neem nadat die korog en gars geoes is, is daar steeds ongeveer 60 kg stikstof in die grond oor sonder dat ons enigsins stikstof tot die grond toegevoeg het. Die korog-gars-mengsel benodig ongeveer 200 kg stikstof per hektaar om die oeste te lewer wat ons afhaal, wat van 10 ton/ha en 12 ton/ha wissel.

“Dit is ’n bewys dat die mikrobes in die grond die stikstof uit die atmosfeer gemineraliseer en aan die plante beskikbaar gestel het. Hierdie werking is slegs moontlik omdat ek gesonde grond het, wat grootliks aan die dekgewasse te danke is. Jy kan dus aanvoer die 200 kg stikstof per hektaar is die inkomste uit die dekgewasse.”

Die wortels van die vorige oes is steeds sigbaar in hierdie grondkluit waar dekgewasse nou begin groei. Soos hierdie wortels verrot, sal tonnels in die grond ontstaan, soos duidelik op die foto gesien kan word. Die spasie en die koolstof in die grond sal na beraming 4 500 m3 water per hektaar tot 1,8 m diep kan opberg. Dít is wat Gonnerman in staat stel om net 25% van die normale besproeiing in sy omgewing toe te dien.

Bespaar water

Hy meen water gaan so skaars raak dat dit ’n waardevolle bate gaan wees vir enigiemand wat toegang tot ’n varswaterbron het.

“Hier in die suide van Nebraska het ons van die grootste waterbronne met water van die beste gehalte. Ek het heelwat waterregte en as ek kan boer sonder dat ek veel besproeiing nodig het, sal ek my water aan stede, soos Omaha en Lincoln, kan verkoop.” Hy besproei reeds slegs 25% van wat hy tien jaar gelede besproei het en ook van sy bure se gebruik.

“Namate die grond se koolstof- en materiaalinhoud verhoog, sal my behoefte aan besproeiing ál kleiner raak en my produksie sal ál meer teen droogtes bestand wees, juis omdat my grond se indringingstempo en waterhouvermoë so goed is.” Met die verkoop van water, kan Gonnerman dus nóg ’n inkomstebron verseker.

Navrae: Mnr. Scott Gonnerman, e-pos: scott2g@hotmail.com
  • Landbouweekblad het danksy borgskappe van VKB en Pannar ’n toer van Suid-Afrikaanse boere na die Amerikaanse Midde-Weste meegemaak. Die doel van die toer, wat deur mnr. Willie Pretorius, konsultant van die Kaapse firma Soil Health Solutions georganiseer is, was om herlewingslandboupraktyke daar te gaan bekyk. Hou Landbouweekblad dop vir nog artikels oor die toer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.