In sy rol as nasionale tegniese bestuurder vir Green Cover Seed, die voorste dekgewasmaatskappy in Amerika, werk hy nou saam met boere om herlewingslandbou op plase te vestig. Sy boek, The Drought Resilient Farm, is ’n samevatting van die lesse wat hy oor die jare geleer het oor hoe herlewingslandbou boere se veerkragtigheid merkwaardig kan verbeter.

Strickler is een van die hoofsprekers op Landbouweekblad se konferensies oor herlewingslandbou wat in Maart plaasvind. Ons het ’n paar vrae aan hom gestuur.

Jy was ’n paar jaar gelede nog baie skepties oor herlewingslandbou. Hoe het die kopskuif plaasgevind?

Ons menings is gegrond op ons belewenis. Toe ek op kollege hoor die professors praat die hele tyd van “no till”, het ek gedink dit kan nie werk nie, want ek het grootgeword met die idee dat daar geen manier is dat dit kan werk nie. Ek het nie geweet hoekom dit “nie kan werk nie”, ek het net geweet “dit werk nie”.

Die enigste boere wat ek in daardie jare van gehoor het wat nie hul lande omgeploeg het nie, was lui boere wat ekstra werk vermy het. Hulle het natuurlik net so swak gevaar op hul lande wat nie bewerk was nie as op hul lande wat wel bewerk was.

Oor dekgewasse was ek net so skepties. Hoe kan jy ’n dekgewas plant wat al jou vog in die grond gebruik en dan daarná nog ’n gewas plant en ’n behoorlike oes verwag?

Eers ná kollege het ek by boere uitgekom wat suksesvol geboer het sonder bewerking en met dekgewasse. En dit selfs in droë gebiede. Toe het ek gesien dat ons nooit veel vog in ons grond behoue laat bly het met al die geploegery nie. Die bietjie wat daar was, het verlore gegaan as gevolg van verdamping. Ek het gesien hoe oeste wat in ’n laag dooie dekgewasse gegroei het, baie beter vaar in droë seisoene as dié wat in kaal, omgewerkte grond moes opkom.

Maar die moeilikste en meer onlangse kopskuif wat ek moes maak, was oor die nodigheid van sintetiese bemesting. Jy kan my tog nie vertel dat jy gewasse daarsonder kan plant nie. Enige idioot weet wat dan gaan gebeur, daar gaan basies niks opkom nie. Maar sien, my ondervinding met saaiery was nog altyd in verswakte grond. Ek het nog nooit grond gesien wat doen wat dit eintlik kan doen as daar die regte biologiese aktiwiteit plaasvind nie. 

En toe gebeur daar so paar jaar gelede iets by my lande wat my anders laat dink. Ek het rog geplant en my sakke saad is in die veld, in die koelte van ’n bos bome gebêre. Daar het natuurlik saad gemors. Op die lande, waar ek meer as 100 kg/ha stikstof, 20 kg/ha fosfaat, sulfaat, koper en sink moes toedien op grond van aanbevelings ná grondtoetse, het die rog 1,5 m hoog gestaan. Heel normaal. In die veld, waar die saad gemors het en nog nooit bemesting gebruik was nie, was die rog 2,5 m hoog. 

Wat het daardie ongelooflike groei laat plaasvind? Duidelik het die veld dit gehad en nie die lande vol van duisende dollars se bemesting nie. Die verskil was biologiese lewe. En nou is my klem om die biologiese lewe op lande te herstel.

Jy help deesdae ander boere om oor te skakel na herlewingslandbou. Wat is die heel eerste stappe wat hulle moet doen?

Die eerste stappe is om bewerking stop te sit en om elke dag groeiende plante in die grond te hê. Die doel is om grondmikrobes op te bou. Om dit te doen moet ons ophou om hul habitat uitmekaar te skeur. Ons moet hulle beskerm teen die hitte en verdroging wat die son veroorsaak. En ons moet hulle daagliks kos gee met wortelafskeidings. As ons dit nie doen nie, kan die biologie nie herstel nie.

Tot hoe ’n mate reken jy kan herlewingslandbou die nagevolge van klimaatsverandering vertraag of stopsit?

Die ekstra voordeel van gesonde grond met ’n goeie hoeveelheid grondmikrobes is dat daardie mikrobes en hul neweprodukte ’n opbergplek vir koolstof word. Koolstof in die grond kom oorspronklik van koolstofdioksied uit die lug. 

Daar is vir my gesê as ons die organiese inhoud van die wêreld se landerye met een persentasiepunt kan verhoog, sal die atmosfeer se koolstofdioksiedvlakke terugkeer na hoe dit was voor die industriële tye. Ek weet uit my eie en ander boere se ondervinding dat dit baie maklik is om lande se organiese inhoud te verhoog deur geen bewerking, dekgewasse, inenting van mycorrhiza-swamme en beweiding deur diere. Ek dink in die meeste gebiede is ’n verhoging van ’n persentasiepunt heel bereikbaar binne ’n dekade.

Hoe vinnig is herlewingslandbou aan die groei in Amerika? En wat is die redes vir boere wat dit nie wil doen nie?

Ons het ’n groot belangstelling in herlewingslandbou, maar die pas waarteen boere dit aanvaar en toepas, is nog baie stadig. Baie boere kom na herlewingskonferensies toe, maar dan gaan hulle huis toe en gaan voort met hul ou metodes. Herlewingslandbou is vir baie boere moeilik om te verstaan, want so groot deel daarvan druis in teen dit wat ons al die jare van “goeie boerderymetodes” geleer is. Soos om grond deeglik om te werk, lande skoon te hou van ander plantegroei tussen gewasse, toedienings van bemesting, ens. Dit is nie maklik om nou heeltemal daarvan weg te draai nie.

Vir van my bure is skoon bewerkte lande absoluut pragtig. Hulle glo jy is lui as dit nie so lyk nie. Ek wil graag die sielkunde agter boere verstaan voor ek die dag doodgaan. Maar ek twyfel of ek dit gaan regkry.

Sommige mense sê dat herlewingslandbou daarop konsentreer om grond en plante gesond te kry en nie om meer kos vir die groeiende wêreldbevolking te produseer nie. Wat is jou antwoord daarop?

As ons toelaat dat ons grond verder verswak, gaan ons glad die wêreld in die toekoms kan voed nie. Dit lyk vir my na ’n treurige toekoms as ons gaan probeer om kos te produseer op verweerde grond sonder organiese inhoud of enige biologiese lewe. Die natuurlike hulpbronne om sintetiese bemesting mee te vervaardig raak ook op. Wat gaan ons doen as daardie dag aanbreek?

Die “jy moet die wêreld voed”-aanslag werk net goed uit vir die internasionale graankopers wat groot wins maak uit die oorvloed graan wat boere teen ’n verlies produseer. Dit lyk nie vir my asof daardie goedkoop graan ooit uitkom by die mense wat honger ly nie.

Was jy al voorheen in Suid-Afrika? En waarna sien jy uit?

Ek was nog nie en ek sien ongelooflik uit. Afrika was al so lank ’n droombestemming vir my.

Ek wil vier dinge doen. Ek wil meer leer oor boerdery in die land. Ek wil nuwe vriende maak uit verskillende dele en met verskillende ervarings. Ek wil bietjie van die wildlewe beleef. En ek wil daardie yslike witdoodshaaie sien wat ons so op TV gewys word.

Klik hier vir meer inligting oor Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensies en om kaartjies te koop.