Tien oeste in vyf jaar op droë- land. Dít is die stelsel wat mnr. Izak Dreyer van die plaas Skulpspruit by Ascent buite Vrede ontwikkel het om dekgewasse en vee in sy kontantsaaiery te integreer. Hy is nou halfpad deur die eerste vyfjaarsiklus en tot dusver was dit nog net suksesvol.

Sy beoogde stelsel lyk só:

  • Jaar 1: Mielies en winterdekgewasse.
  • Jaar 2: Mielies en winterdekgewasse.
  • Jaar 3: Sojabone en winterdekgewasse.
  • Jaar 4: Somer- en winterdekgewasse.
  • Jaar 5: Sojabone en winterdekgewasse.
Speenkalwers wei op winterdekgewasse op Skulpspruit. FOTO: IZAK DREYER

Hy boer in die somerreëngebied, maar tot dusver was die wins wat Izak uit die drukbeweiding van winterdekgewasse maak, so goed soos die inkomste uit ’n kontantgewas-oes; dus eintlik ’n ekstra oes. Sy kalwers het verlede winter op die dekgewasse gemiddeld 70 kg per kalf aangesit.

Die resultaat was 170 kg vleis wat per hektaar geproduseer is, en ná koste was hierdie wins R4 300 per hektaar. “Ons het nou twee jaar ná mekaar hierdie sommetjie reggekry. Ons gaan nie noodwendig elke jaar in April reën kry (om winterdekgewasse suksesvol op droëland te vestig) nie, maar dis die kans wat jy moet waag,” sê hy.

“Dis soos die Engelse uitdrukking sê, ’n window of opportunity. As die geleentheid daar is om koolstof te bou, moet jy hom benut.”

Gabe Brown se koolstofinhoudsiklus

Op die somerdekgewasmengsel, met ultrahoëdrukbeweiding, was die groei gemiddeld 800 g per kalf per dag. Die resultaat was 67 kg per kalf oor 84 dae, met 5,8 kalwers per hektaar; dus 389 kg vleis per hektaar, wat ’n inkomste van R8 000 per hektaar opgelewer het.

Teen die heersende mieliepryse is dit soortgelyk aan die inkomste wat Izak op droëland met ’n mielie-opbrengs van 10,5 ton per hektaar sou gemaak het. Sy gemiddelde langtermyn-opbrengs is net onder 6 ton mielies per hektaar.

Die beeste se groei op die somerdekgewasse stem heeltemal ooreen met die groei wat hy al oor baie jare op sy somerveld kry, sê Izak, wat al lank aan die omgewing se veldbulproewe deelneem. Die geheim met suksesvolle groei op dekgewasse, sê hy, lê in ultrahoëdrukbeweiding – amper 10 000 kloue per dag per hektaar.

“Hoe verder ons met die drukbeweiding vorder, hoe kleiner wil ons die kampe en hoe groter wil ons die troppe maak, en die diere meer gereeld te verskuif.” Die eerste keer toe ’n trop beeste ’n somerdekgewas-mengsel op Skulpspruit invaar en begin wei, het mnr. André Naudé, een van die plaasbestuurders, opgemerk dat dit baie beter klink as die idle van ’n nuwe John Deere-trekker.

Mnr. André Naudé, plaasbestuurder op Skulpspruit, staan op die land in hul somerdekgewasmengsel.

Mielie-opbrengste verbeter

Izak sê die besluit om in die eerste en tweede jaar mielies met mielies op te volg, is omdat hy meen dit is in hul wêreld die doeltreffendste gewas om soveel moontlik plantmateriaal te lewer waarmee ’n deklaag op die grond so vinnig moontlik opgebou kan word.

Hy kry gemiddeld 650 mm reën per jaar. Dus verhoog hy ook deesdae sy plantestand. Vanjaar het hulle 55 000 plante per hektaar geplant en hy oorweeg nou selfs 60 000 plante per hektaar.

Oor die redenasie dat dekgewasse jou lande uitdroog sodat daar nie genoeg vog vir die daaropvolgende kontantgewas is nie, sê hy: “Ons moet aanvaar dekgewasse ‘trek’ jou grond droog, maar ons het gaan kyk: Lande wat konvensioneel bewerk is, was teen die reëntyd ook kurkdroog.

Miskruiers was nooit op Skulpspruit te sien nie, maar sedert geenbewerking, dekgewasse en drukbeweiding daar toegepas word, is daar oral tekens van miskruieraktiwiteit. FOTO: IZAK DREYER

“Daardie lande waarop geenbewerking met dekgewasse gedoen is, kon danksy die beter praktyke, beter vogindringing en -bewaring baie vinnig weer die 40 mm reën opneem wat ons in een bui gekry het, terwyl dit op die konvensionele lande eenvoudig afgeloop het.”

Dit lyk of net een jaar se somerdekgewasse Izak se lande – wat tradisioneel ondergemiddelde mielie-opbrengste gelewer het – na ’n gemiddelde vlak verhoog het, wys sy statistieke. Hy skryf dit toe aan die toevoeging van meer organiese materiaal in die grond.

Tussengewasverbouing is nog ’n herlewingslandboupraktyk wat Izak op die proef stel. Daarvoor gebruik hy ’n planter wat vir dié doel omgebou is. Hy sê hulle kry dit redelik reg as die mielies in die agtblaarstadium is, in 76 cm-rye. Dit is egter nog ’n probleem om dit oor ’n groot hoeveelheid hektare en sonder skade aan die kontantgewas te kan toepas, sê hy.

Hy oorweeg dit om die saad met behulp van ’n vliegtuig te saai. Een teken dat hulle op die regte pad is, is die miskruiers. “Daar was nooit miskruiers by ons nie, maar nou sien ons op die lande oral hul hopies grond langs die miskoeke en die tekens van hoe hulle die mis in die koeke verwerk.”

Mnr. Izak Dreyer FOTO: VERSKAF

Leer en probeer

Dit is ’n paadjie van leer en probeer, en hulle het die afgelope seisoen opnuut ’n paar lesse geleer, sê Izak. Hulle het die somerdekgewasse begin Oktober dalk ’n bietjie te vroeg geplant, en met te veel hawer. Hawer is allellopaties en kan die ontkieming van ander dekgewassoorte in die mengsel onderdruk.

Die sorghum en babala het ook weens koue nie goed ontkiem nie. Hy is wel bly oor die opslag-hergroei van voersorghum en radyse, wat beteken die volgende winterdekgewas is reeds halfpad gevestig en hoef nie weer geplant te word nie. Hawer onderdruk klaarblyklik winter-onkruide met allelopatie.

Dit kan dus wys wees om die hawer in ’n winterdekgewasmengsel eers ’n bietjie te laat groei voor die somergewas geplant word, sê Izak. Tot dusver het die somerdekgewasmengsel ná hawer ook die heel beste gevaar.

Dekgewas-opsies

Vir ’n boer wat met dekgewasse wil eksperimenteer, is daar verskeie soorte om van te kies wat reeds hul staal in mengsels in die somersaaigebied bewys het.

’n Algemene reël is om eenjarige somerdekgewassoorte van November tot Desember te plant nadat dit gereën het, en eenjarige winterdekgewassoorte in middel Februarie as dit gereën het, sê dr. Hendrik Smith, herlewingslandboukoördineerder van Graan SA.

Hy het op die Ottosdal-geenbewerkingklub se jaarlikse bewaringslandboukonferensie die volgende moontlikhede voorgestel, verkieslik in mengsels wat grasse, peulgewasse en brassicas insluit: Wintergewasse: Swarthawer (Avena strigosa). Hawer (Avena sativa). Rog (Secale cereal).

Akkerbone, soos wat hier op ’n droëlandproef buite Ottosdal in Noordwes groei, is ’n goeie weiding-dekgewasopsie vir die somersaaigebiede.

Radyse (Raphanus sativus). Korog (Hexaploid triticale). Weiwieke (Vicia dasycarpa). Somergewasse: Dolichos (slingerboon, Lablab purpureus). Mielies (Zea mays teen hoë plantdigtheid). Akkerboon (Vigna unguiculata). Fluweelboon (Mucuna pruriens). Sonneblom (Helianthus annuus). Sorghum (Sorghum bicolor). Babala (wit manna, Pennisetum glaucum). Sojabone (Glycine max). Sunhennep (Crotalaria juncea).

Vir die logistiek van die plantproses moet saadgrootte ook in berekening gebring word, sê Hendrik. Groter sade is dolichos, akkerbone, mielies en sojas. Die soorte met kleiner sade sluit sunhennep, voersorghum, kanola, radyse, weiwieke en babala in.

Mnr. Carel Kriek, ’n kontantgewas-somersaaiboer van Heidelberg, sê hy het dié taak drie jaar gelede aangepak toe hy sy eerste somerdekgewasmengsel geplant het. Op sy planter was plate vir sojabone en mielies.

Hy het toe kanola-plate op die 12 ry-planter bygevoeg, en kategoriseer nou sy dekgewasse in verskillende groepe volgens saadgrootte. As hy dekgewasse plant, is ry 3, 8 en 12 met die kanola-plate toegerus, vir die fynste sade, en ry 2, 5, 7 en 9 met die soja-plate. Tussenin is plate vir die heel groot sade.

Navrae: Mnr. Izak Dreyer, e-pos: izakdreyer@zippnorth.co.za of idddreyer@gmail.com; sel 083 406 8989; dr. Hendrik Smith, e-pos: hendrik.smith@grainsa.co.za; sel 086 004 7246.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.