Kyk na jou grondgesondheid. Daar is min dinge so gerusstellend soos die reuk van vars grond. Dié reuk word deur twee gasse veroorsaak: geosmin en 2-metielisoborneool. Die gasse is hoofsaaklik ’n neweproduk van twee soorte grondmikroörganismes: aktinomisiete en swamme.

Hulle, en ’n magdom ander grondmikrobes, kom natuurlik in grond voor en help organiese materiaal ontbind. Die ontbindingsproses stel belangrike voedingstowwe van die organiese materiaal af vry.

Navorsers het nog ’n lang pad om te stap voordat hulle dié reuke aan ’n ware meetstelsel vir grondgesondheid kan koppel, sê mnr. Ivan Dozier, bewaringskundige van die staat Illinois in Amerika.

Voorlopig kan die opsporing van reuke in ’n “snuiftoets” gebruik word om grondgesondheid op ’n eenvoudige, dog doeltreffende manier te evalueer. Wanneer daar genoeg organiese materiaal in die grond is en die toestande is reg vir normale groei en die vervalsiklusse van organiese materiaal, dan word dié besonderse reuk van grond geproduseer.

As jou grond ’n skerp chemiese reuk het of na ammoniak ruik, beteken dit dit is tyd om jou plaagbeheer- of kunsmisprogram te bekyk. As jy vrot eier ruik, beteken dit probleme met dreinering of verdigting. En as daar geen reuk is nie, is dit ’n aanduiding dat iets buite balans is, hoe vreemd dit ook al kan klink, sê Dozier.

NAVRAE: Webwerf: www.prairiefarmer.com/soil-health/what-makes-soil-smell-so-good

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.