Dit is droog in die Klein-Karoo – al jare lank. Dit is die droogste in 60 jaar, volgens mnr. Swepie le Roux van Domein Doornkraal by De Rust, wat al dekades lank hier boer.

Een van sy bure, mnr. Barry Meijer, wat sy beeskudde van 400 tot 37 verminder het en net 14 ha van sy 50 ha weidingskampe kan besproei, sê dit is weens klimaatverandering. Hy meen boere het die gereedskap om klimaatverandering teen te werk deur herlewingslandbou om vernielde landskappe te herstel.

Meijer boer op die plaas Meijer’s Rust by Meiringspoort met Bonsmaras op aangeplante weiding. Daar is ook vakansiehuise, ’n kampplek en stap- en bergfietsroetes. Op die internet handel sy gunsteling- video’s oor die restourasie van die Loessplato in China en die werk wat in Ethiopië gedoen word.

“Die restourasie van die Loessplato is die belangrikste storie oor herlewingsboerdery. Dit is die storie van ons lewe. Dit is wat ons moet doen om die grond te verbeter.” (Sien “LBW vra . . .” vir die skakel na dié video, asook ander wat sy aandag getrek het.)

Die winterdekgewasmengsel wat in Mei geplant is, bevat rape, radyse, witmosterd, krulkool, lupiene, rooiklawer, erte, wieke, lusern en ’n mengsel van hawer, raaigras, korog, gars en stoelrog.

Meijer sê in Ethiopië word herlewingsboerdery op nasio- nale vlak gedoen. “Die boere moet hul vee van die grond afhaal, die gras met die hand sny en vir die vee bring. Hulle moet ook klippe pak en terrasse bou.”

Hy meen klimaatverandering is ’n feit, soos hy in wiskunde en wetenskap glo. “Ek glo ons kan dit verander, maar ons moet drastiese veranderinge in ons boerderye aanbring.”

Dié veranderinge is die beginsels van bewarings- en herlewingslandbou, wat beteken daar moet geen meganiese of chemiese bewerking van die grond wees nie, daar moet so lank moontlik lewende wortels in die grond wees, monokultuur moet vermy word deur wisselbou, dekgewasse moet geplant word, en daar moet diere in die stelsel wees. As boere dít kan regkry, sal klimaatverandering teengewerk kan word.

Meijer sê die beginsels kan toegepas word om die grond te rehidreer. “Mense sê ‘kyk hoe loop my rivier’, dan loop die bruin water af. Vir my is dit die slegste ding. Ek wil ’n dun stroompie helder water sien.”

Een van die groot voordele van bewarings- en herlewingsboerdery is dat die water in die grond insak, “byna soos ’n boorgat onder die plante”. Meijer sê hulle kry nog reënstorms, maar nou is daar min water wat afloop.

Die saadmengsel vir die winterweiding. Saad is een van Meijer sy grootste uitgawes, veral omdat hy nie saad kan hou nie.

PLAAS WAS ‘MISHANDEL’

Meijer het ’n interessante storie. Dit is nie aldag dat ’n Suid-Afrikaner emigreer en ná 30 jaar terugkom om hier te kom boer nie. Hy het in 1979 na Kalifornië verhuis en in die tyd toe hy daar was, Amerika deurkruis.

Nadat hy tien jaar gelede teruggekom het, het hy en sy dogter vir twee jaar deur Afrika gereis en toe op Meijer’s Rust kom afsaal. Hy het die Klein-Karoo gekies omdat hy van die omgewing hou en goeie herinneringe koester van die twee jaar wat hy op Oudtshoorn in die weermag was.

Die plaas wat hy gekoop het, was ongelukkig nie ’n ongerepte aftreeparadys nie. “Die plaas was vreeslik mishandel. Hier het volstruise geloop. Toe ek hier begin boer het, het ek geploeg, want ek moes water in die grond kry. Toe loop die los grond ook weg.”

Meijer sê hy het gehoor die Amerikaanse regering gee vir boere ’n produk wat water in die grond laat insak. Toe hy op die internet daarna soek, het hy op mnre. Ray Archuleta en Buz Kloot afgekom. “Buz Kloot het so Suid-Afrikaans geklink en oor wortels in die grond gepraat.”

Mnr. Barry Meijer se Semeato-enkelskyfplanter het ’n guillotine-meskouter-kombinasie.

Hy het Archuleta se demonstrasie gesien waar hy water gooi op grond wat op verskillende maniere behandel is, en hoe die water wat op die grond met lewende wortels gegooi is, skoon uitkom. “Toe besef ek ek moet ophou ploeg en na minimumbewerking oorgaan.”

Om te sê hy plant net weiding vir beeste, is eintlik nie waar nie, sê Meijer. Hy probeer grond “maak”. “Een ding wat alle boere gemeen het, is grond. En ek het nie grond nie. Ek het dooie stof. Grond is ’n lewende ding, en hoe maak ’n mens dit lewend?”

Dit is wat hy die afgelope vier jaar met die toepassing van herlewingslandboubeginsels probeer doen om iets op die ou volstruiskampe te laat groei. “Hier is nie bogrond op die plaas nie. Ek weet dit, want plekke waar daar nog nooit geboer is nie, het baie bogrond. By my is net klippe.”

Hy meen die “slegste ding wat ooit ontdek is”, is ’n ploeg. “In die begin het dit gewerk om koolstof vry te stel, maar elke jaar verloor ons ’n millimeter bogrond. Ná 300 jaar of 400 jaar vernietig die beskawing homself.”

Mnr. Barry Meijer in die winterdekgewas- mengsel op sy plaas Meijer’s Rust by Meiringspoort.

BRASILIAANSE PLANTER

Meijer gebruik ’n Semeato-geenbewerkingsplanter uit Brasilië om in Maart ’n winterdekgewasmengsel van rape, radyse, witmosterd, krulkool, lupiene, rooiklawer, erte, wieke, lusern en ’n mengsel van hawer, raaigras, korog, gars en stoelrog te plant. Vanweë die droogte het hy vanjaar eers in Mei geplant en teen middel Julie nog nie daardie kampe laat bewei nie.

Die planter het ’n skyf wat die grond oopsny en ’n skoen agter die skyf wat die grond bietjie oopmaak. Die rywydte wat hy gebruik, is 170 mm. In die somer plant hy ’n mengsel van ’n bietjie mielies, sorghum, soedangras, babala, vier soort lupiene, rape en radyse. Die mielies gee ’n bietjie hoogte en ’n plek vir die voëls om te sit.

Hy meen daar gebeur iets in die natuur as daar diere ook is. Hy dien nie kunsmis toe nie, en doen ook nie plaagbestryding nie. “Weet jy wat is die lekkerste van dié soort boerdery? Dit is eenvoudig. Ek stres nie oor hoeveel ek vir kunsmis moet betaal nie.”

Hy besef hy kan winsgewender gewasse op die plaas verbou, maar hy moet eers die bogrond opbou. Ongelukkig knou die droogte sy vordering. Hy het nie genoeg water om ál sy weikampe te beplant nie, en die beeste wat nog oor is, loop op plekke waar hulle nie behoort te loop nie.

Die plaas se gemiddelde reënval is 380 mm per jaar, maar van Junie verlede jaar tot nou het hulle net 210 mm gehad. “Die Grootrivier het ’n bietjie water gehad, en ek kon besproei, maar nie genoeg nie.”

Mnr. Barry Meijer meen die Bonsmara is die beste beesras vir Suid-Afrika omdat dit plaaslik ontwikkel is. Die droogte het hom gedwing om sy kudde aansienlik te verklein.

BEWEI KAMPE SO

Die dekgewaskampe kan vir die eerste keer bewei word 40 dae ná die plantdatum. Dit moet druk bewei word en dan vir 40 dae rus. “Jy laat nooit alles afwei nie. Jy wei ’n derde, vertrap ’n derde en los ’n derde. Dan is daar genoeg blare om te fotosinteer. As jy die plante té kort afwei, moet jy sestig dae wag voor jy weer kan laat wei.”

Meijer het elektriese drade in die kampe. Elke weistrook van 240 m by 12 m kan vir agt uur bewei word. “Ek vind die beeste wei vir sowat agt uur ’n dag, slaap vir agt uur en vir die res van die tyd lê en herkou hulle.” Hy maak die beeste vir sowat 18 maande groot tot 450 kg en verkoop hulle dan.

GOUSBLOM, KWEEK, UILE EN WILD

Die grond was kaal en Meijer sê hy het in sy lewe nog nooit so baie stof gesien nie. Hy maak vordering en die grond is besig om beter te word. “Jy sal nie glo hoe hard die grond was nie. Jy kon nie jou vinger in die grond druk nie. Dit is nou beter. Daar is erdwurms in die grond en daar groei al paddastoele.”

Hier kan ’n mens sien hoeveel beter die weidingmengsel lyk as die enkelgewas tussen die sproeiers.

Meijer gaan wys opgewonde na die gousblomme (Arctotheca calendula) wat in een van sy kampe opgekom het. In Amerika en Australië word dit as onkruid beskou, dog Meijer sê hulle bevat baie fosfaat. “Hulle is pioniersplante wat groei waar daar kaal kolle is. As die beeste gousblom vreet, word hulle spekvet.”

Hulle bied ook die voordeel van wortels in die grond wat hy nie geplant het nie. Hy los ook ander blomplante wat opkom omdat hulle insekte lok. Dit is seker die droogte wat die diere uit die omliggende veld en berge laat kom, maar dit is vir Meijer lekker om die elande en duikers te sien.

Hy het nie baie geduld met die bobbejane wat die radyse uittrek nie, maar is baie opgewonde oor al die uile en paddas wat weer op sy plaas is.

’n Interessante ding wat gebeur het, is dat kweek begin groei het toe hy die lande begin besproei het. Anders as baie Suid-Afrikaanse boere beskou hy kweek nie as ’n onding nie. “Waar kweek groei, groei die ander spesies beter, want daar is wortels in die grond.” “In die Klein-Karoo beskou ek kweek as grondbedekking wat die grond beskerm.”