Dié klub se demonstrasie-dekgewasproewe by Drakensville naby Bergville in die provinsie se somerreëngebied het die afgelope seisoen ’n winterdekgewasperseel op droëland ingesluit. ’n Mengsel winterdekgewasse is op 10 Mei 2017 in baie droë grond aangeplant.

Hoewel die mengsel volgens akademiese voorskrifte na die ideale kombinasie plantgroepe kan lyk, het die proef bewys dat dit sonder vog op die regte tyd ’n duur projek kan raak. Dit het bevestig dat nie net vogbeskikbaarheid nie, maar ook deeglike taktiese beplanning nodig is as jy besluit op ’n geskikte winterdekgewasstrategie vir jou plaas in ’n somerreënstreek, sê Richard.

“Natuurlik is dit makliker om somerdekgewasse in ’n somersaaigebied te verbou, maar talle boere is onwillig om dekgewasse pleks van hul hoofkontantgewas te saai.

“In die meeste somersaaiboerderye is die winter waarskynlik die tyd wat ons as die beste beskou om ’n dekgewas te vestig omdat die lande dan nie ’n kontantgewas moet dra nie. Dis presies dan wat ons rasioneel in ons beplanning te werk moet gaan,” sê hy.

“Die boer moet nut uit sy dekgewas put omdat dit geld, tyd en moeite kos. Probeer om bykomende wins daarmee te verdien deur dit korrek en vir ’n spesifieke doelwit aan te plant. Besluit of jy dekgewasse vir blote bedekking wil vestig, of jy bemarkbare hooi of kuilvoer daaruit wil lewer en of jy dit as voerbank of weiding wil benut om bykomende boerdery-inkomste uit vleis, melk of wol te verdien.”

Die Drakensville-proef

Die dekgewasmengsel wat vir die geenbewerkingklub 2017-winterproef saamgestel is, het verskeie wortel-, peul- en graansoorte ingesluit (tabel).

Die mengsel is op ’n land gevestig waarop die vorige seisoen sojabone verbou is. Daar was nie veel plantreste op die oppervlak nie. Twee weke voor planttyd is een glifosaatbespuiting daarop toegedien. Richard sê hulle het op 120 kg saad/ha pleks van die aanbevole 50-60 kg/ha besluit omdat dit teen planttyd op 10 Mei so droog was.

“Die redenasies was dat saailinge met verloop van die groeityd gaan afsterf en dit goed sou wees om ‘reserwes’ aan te plant.” Op 12 Mei het 42 mm reën geval wat teen alle verwagtinge in vir goeie ontkieming gesorg het. Aanvanklik het die saailinge goed gegroei, tot 10-12 cm hoog met ’n geskatte produksie van sowat 2 ton droëmateriaal (DM) per hektaar, as dit bewei sou word.

Daarna het dit egter tot 6 September nooit weer gereën nie, soos wat normaal vir dié deel van die provinsie is. Teen begin September het die aanplanting duidelik droogteskade gely. Dit kon aan die swak kleur gesien word, die plante het nie die oppervlak bedek nie en dit het ook nie ’n blaredak gevorm nie, alles weens ’n gebrek aan opvolgreën.

Dit was ook opmerklik dat al die wortel- en peulspesies weens droogte gevrek het, terwyl die graanspesies – in hierdie mengsel die goedkoper swart- en withawer en stoelrog – sodanig oorleef het dat dit teen September, as dit weer reën sou gekry het, groei sou hervat en meer droëmateriaal vir beweiding sou lewer, sê Richard.

Die plan is om die proef vanjaar te herhaal, waarskynlik teen ’n laer saaidigtheid (nader aan 50 kg/ha) en hopelik met ’n vroeër plantdatum om ’n langer groeityd vir plantproduksie en beter bedekking toe te laat.