Die konferensie vind plaas op Dinsdag 6 Augustus op Nooitgedacht buite Stellenbosch, terwyl die praktiese dag op Woensdag 7 Augustus op die Langgewens-navorsingsplaas buite Moorreesburg gehou word.

Prof. Beatrice Conradie, landbou-ekonoom van die Universiteit van Kaapstad, open die konferensie met ’n bespreking van die produktiwiteitsnavorsing wat sy op Langgewens se proefdata gedoen het. Sy het spesifiek gekyk na die impak van die insluiting van lupiene op die stelsels se ekonomiese volhouhoubaarheid.

Mnr. Johan Reyneke, biodinamiese boer van Reyneke Wines, Stellenbosch, gaan verduidelik wat hy gedoen het om die koolstofinhoud van sy wingerdgrond in ’n kort tydperk aansienlik te verhoog, en die uitwerking wat dit op sy boerderyproduktiwiteit het.

Vanjaar verwelkom Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) mnr. Chris Gazey, ’n navorsingswetenskaplike by die Wes-Australiese departement van landbou. Hy sal oor die bestuur van grondversuring en strategiese bewerking praat, terwyl mnr. Egon Zunckel, bewaringsboer van KwaZulu-Natal, die pad wat hy met bewaringslandbou loop, met konferensiegangers gaan bespreek. Hy gaan ook praat oor die veranderinge wat hy ná ’n besoek aan Amerika aangebring het.

Nog ’n wingerdboer, mnr. Johniby Rabie van Oorkant Boerdery, De Wet, gaan meer vertel oor die verskil wat die toepassing van bewaringslandboubeginsels en die insluiting van dekgewasse aan hul produksiepraktyke gemaak het, en hoe die verhoging van die organiese materiaalinhoud in hul sandgrond hul produktiwiteit verbeter het.

Die moontlike verskille in die mikrobiese samestelling binne wisselboustelsels op Langgewens en wat dit vir boere inhou, sal deur mnr. Casper Brink, bestuurder van Sporatec op Stellenbosch, bespreek word.

Mnr. Rens Smit, navorsingstegnikus by die Wes-Kaapse departement van landbou, se praatjie handel oor die uitwerking van dekgewasbestuur op die voedingswaarde daarvan as veevoer en die beskikbaarheid van voedingstowwe vir die volgende gewas.

Boere soos mnre. Hume Schonfeldt, Lourens van Eeden, Boeta Wessels, Wessel van Dyk en JP Bester, en me. Lisa Smorenburg en mnr. Rens Smit, navorsingstegnici van die Wes-Kaapse department van landbou wat jare lange ondervinding met dekgewasse het, gaan die konferensiedag afsluit met ’n besprekingsgroep oor hul praktiese ondervinding met dekgewasse.

Tydens die praktiese dag gaan plaaslike plantervervaardigers gesprek voer met konferensiegangers en kan verskillende bewaringsboerderyverwante proewe besoek word.

Vir nog inligting en om te bespreek, klik hier

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.