Minstens 60% van dragtige koeie moet gedurende die eerste 30 dae van die kalftyd kalf. Dit beteken dat bykans 60% van die koeie ná die eerste 21 dae van die dektyd dragtig moet wees, want die persentasie dragtigheid se ekonomiese impak is vier keer groter as enige ander eienskap, met groeitempo in die tweede plek.

Dít was die boodskap van dr. Cliff Lamb van die universiteit van Texas A&M op die Federasie vir Vleisbeesverbetering se kongres in Amerika wat jaarliks gehou word; elke jaar in ’n ander staat met ’n universiteit met ’n departement dierkunde wat dan die gasheer is.

Vanjaar se geleentheid was die 50ste kongres en is by die Colorado-staatsuniversiteit in Loveland gehou. Die formaat is soortgelyk aan Suid-Afrika se Aldam-veeskool, maar is baie groter en is deur 500 afgevaardigdes bygewoon – omtrent ’n Veeskool op steroïede! Die tema was die opheffing van die vleisbeesbedryf.

Verskillende simposiums is tydens die kongres gehou. Op ’n simposium oor beginsels vir reproduksie het Lamb gesê om dit reg te kry dat 60% van die koeie in ’n kudde gedurende die eerste 30 dae kalf, moet verse maklik op 24 maande kalf indien hulle op ’n hoë voedingsvlak is.

As ’n boer byvoorbeeld 70 vervangingsverse nodig het, moet hy 90 verse laat dek en dan 70 verse in vroeë dragtigheid selekteer. Die teeltyd moet tot minstens 72 dae of selfs 65 dae verkort word. Wanneer verse vroeg kalf, styg die speengewig én die dragtigheidsyfer.

Lamb het gesê sinchronisasie en kunsmatige inseminasie (KI) help om die dragtigheid in die eerste 30 dae van die dektyd te verhoog. Die persentasie vroulike diere wat nie dragtig raak nie (dus die uitskotpersentasie), neem toe as die dektyd verkort word. Die boer moet gevolglik seker maak hy het surplus vroulike diere wanneer hy die teeltyd verkort.

Dit is ’n goeie praktyk om verse 20 dae vóór die ander koeie te laat dek of te semineer om die dragtigheidsyfer in die tweede kalftyd te verhoog. Hy het ook aanbeveel dat soveel bulle en verse moontlik vir voerdoeltreffendheid getoets word voordat die dektyd begin. Die GrowSafe-stelsel word daarvoor gebruik.

Om die ideaal te bereik dat 60% van die koeie in ’n kudde gedurende die eerste 30 dae van die kalftyd kalf, moet verse maklik op 24 maande kalf indien hulle op ’n hoë voedingsvlak is. Foto: Johan Coetsee

Genomiese teelwaardes

Die gonswoorde op die kongres was enkelstap-evaluasie vir beraamde teelwaardes (BTW’s) en genomies verrykte, beraamde teelwaardes (GBTW’s). Die verskil tussen die meeste beesrasse in Amerika en Suid-Afrika is dat die Amerikaners reeds GBTW’s met ’n betreklik hoë akkuraatheid het.

Goeie prestasiedata is ook beklemtoon. Om genomika deeglik te kan toepas, is goeie, fenotipiese data nodig om dit te rugsteun; die een hand was die ander. Die Amerikaners plaas groot klem op vroeë groei en vleisgehalte waarin die Angusbeesras ’n reuse-rol speel.

GBTW’s vir reproduksie is ook in aantog. Mnr. Michael Genho van Elanco-diere- gesondheid het gesê die belangrikste eien- skappe vir doeltreffende vleisproduksie is ’n hoë kalfpersentasie, vroeë groei, volwassekoeigewig, reproduksie, kondisietelling, karkaseienskappe en voerinname.

Ultrasoniese skandering moet op beeste gedoen word om die vleisgehalte te meet. Al daardie data moet gemeet, opgeberg, versprei en bemark word. (Hierdie aspekte is soortgelyk aan wat in Suid-Afrika as belangrik beskou word. Talle rasse is met behulp van die VGP of die vleisbeesgenomikaprojek, wat deur die staat gefinansier word, daarby betrokke.)

Mnr. Mark McCully, ondervoorsitter van Gesertifiseerde Angusvleis, het gesê dis duidelik die verbruiker is méér tevrede met vleis wat ’n hoë persentasie marmering het. Die vraag is of prestasie in die voerkraal ten koste van die strewe na vleis van ’n hoë gehalte vleis is.

Dr. Sarah Place, direkteur van navorsing na volhoubare beesvleisproduksie, het gesê beesvleis kry verkeerdelik die skuld vir die loslating van kweekhuisgasse. Die doeltreffendheid van beesvleis- of proteïenproduksie word egter nie in aanmerking geneem nie.

In die produksieproses van beesvleis is die uitset van proteïen van ’n hoë gehalte twee of drie keer groter as die inset, terwyl braaikuikens se uitset net 0,85 en varkvleis slegs 0,70 van die inset bedra. Die belangrikste rede daarvoor is dat beeste weiding met ’n betreklik lae tot baie lae voedingswaarde in proteïen van ’n hoë gehalte kan omskakel omdat hulle ’n herkouer-verteringstelsel het.

Meet ekonomiese eienskappe

Dr. Dorian Garrick, hoogleraar aan die Massey-universiteit in Nieu-Seeland, het gesê té min aandag word aan reproduksie, eetgehalte, menslike gesondheid, weerstand teen siektes, voerinname, voerdoeltreffendheid, prestasie oor die bees se hele lewensloop, dieregesondheid en omgewingskwessies geskenk.

“Al hierdie eienskappe openbaar fenotipiese variasie, is oorerflik en kan by ’n teelprogram ingesluit word.” My siening is dat dit moeilik is om ál hierdie eienskappe te meet en in twee of drie dollar-teelwaardes te kombineer.

Konsentreer eerder op die ekonomies belangrikste eienskappe, maar dan moet die wetenskaplike seker maak watter eienskappe wel die belangrikste is. Dr. John Pollack, afgetrede hoogleraar aan die Cornell-universiteit in New York, het beklemtoon die doeltreffendheid van beesvleisproduksie moet verhoog word.

Dit geld reproduktiewe eienskappe en doeltreffende groei vanaf geboorte tot aan die einde van die voerkraalfase. Talle eienskappe word nie voldoende in aanmerking geneem nie. Seleksie is ’n bewese, kostedoeltreffende meganisme vir verbetering.

“Seleksie moet op geheel-stelsel-indekse gegrond word. Dit moet uit beraamde teelwaardes vir ekonomies relevante eienskappe bestaan, wat op sinvolle, fenotipiese strategieë gegrond word, en met die gebruik van genomika gekombineer word. In hierdie strewe moet vernuwende telers die voortou neem.”

Mnr. Llewellyn Angus wat in 2017 die Landbounavorsingsraad (LNR) se eerbewys vir die nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar ontvang het, en me. Sanele Mbhele, wat as die LNR se Opkomende Vleisbeesboer van die Jaar bekroon is, het die kongres as deel van hul pryse bygewoon.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.