Vraag

Ek wil graag weet of u dalk vir my raad kan gee? Ons het ’n plaas van ongeveer 450 ha drie jaar gelede aan ’n beesboer verhuur. Die persoon het bykans 1 000 beeste op die grond aangehou. Die beeste was saans in ’n tydelike kraal waar daar groot hoeveelhede beesmis opgehoop het.

Die kontrak het verstryk en ons het weer gebruik van die plaas oorgeneem. Onlangs het ons weer van die landerye verhuur aan ’n ander persoon en die helfte van die beesmis vir die persoon gegee. Die vorige huurder dreig ons nou ná drie jaar dat hy die beesmis besit.

Raad

Gewoonlik bepaal huurkontrakte dat by die beëindiging van die kontrak die plaas met alle vaste bates daarop aangebring tydens die huurtermyn (geboue, strukture, ens.) die eienaar toeval. Verder bepaal dit gewoonlik dat die huurder met die verstryking van die huurtermyn die bates wat syne is, soos beeste en werktuie, van die huurperseel moet verwyder sodat die eienaar die plaas weer kan verhuur of self ongestoord kan gebruik.

Indien die huurder nie die mis uit die kraal verwyder nie, sal dit die eiendom van die eienaar word en sal die huurder nie, sonder dat die partye uitdruklik daartoe ooreengekom het, later daarop aanspraak kan maak nie. Enige regsgeding wat hy in elk geval sou oorweeg, sal binne drie jaar ingestel moet word, waarna enige soortgelyke eis verjaar en ’n hof dit nie sal aanhoor nie. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.