Mnr. De Wet Mouton, voorsitter van die Afrikaner-beestelersgenootskap van Namibië, het met die bekendstelling in Windhoek gesê die Afrikanerbees het ’n unieke storie. Hulle wil dit deel van die storie oor Namibië maak vir besoekers wat ’n ervaring van die land wil hê. Daarom gaan telers ’n geleentheid aan boere, slagters en restauranteienaars bied om dié handelmerkvleis aan te bied.

Die ras het sagte vleis danksy sy genetiese eienskappe. “Dis nie die enigste bees met sagte vleis nie, maar die hele pakket van onder meer gehardheid en aanpasbaarheid is tot die Afrikaner se voordeel. Hy kan sagte, smaaklike vleis van die veld af produseer met slegs ’n lek. Dit verskaf aan die verbruiker ’n gesonde produk,” het hy gesê.

“Dus is die fokus op ’n nismark wat vryloopvleis bo voerkraalvleis verkies.”

Die Afrikaner moet met ’n geïndustrialiseerde vleisbedryf meeding, grootliks weens die omvangryke voerkraalbedryf. Gelukkig verkies baie mense veldvleis, wat die mikpunt met Afribeef is.

Mnr. Colin Nott, nasionale koördineerder van die Namibiese Weidingsforum, het gesê weens die dalende drakrag van die veld wat onder meer aan bosindringing toegeskryf word, en stygende boerderykoste neem die boerderyrisiko’s toe.

Beesboere moet jaarliks 7% produktiewer wees en skaapboere 2% doeltreffender net om hul huidige vlak van winsgewendheid te behou. Die boer moet sorg dat sy belading met sy veegetalle tred hou en ook sy veldtoestand verbeter.

Mnr. André Mouton van Afribeef Namibië het gesê daar is 1 500 tot 2 000 Afrikanerkoeie in Nambië; dus ’n betreklik klein aanbod en Afribeef kan nie op groot skaal wegspring nie. Die eerste stap in die bou van ’n waardeketting is om die mark en aanbod van dié vleis te laat groei. Omdat die aanbod na verwagting aanvanklik klein sal wees, sal die klem eers op die gasvryheidsbedryf wees, wat aan méér as net die gesogte snitte bekend gestel gaan word. 

Mnr. Jaco du Preez van Butchery on Wheels op Okahandja sal die vleis verwerk en verouder.

Alles begin egter by die boer en méér vennote is nodig, wat kleinboere insluit.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.