Volgens Janse van Rensburg het die aantal uitbrekings van Afrika-varkpes in Suid-Afrika sedert 2019 toegeneem. Verlede jaar is dit die eerste keer in die Oos-Kaap aangemeld en vanjaar is dit die eerste keer in die Wes-Kaap aangemeld.

“Sedert April 2019 was daar 84 uitbrekings van Afrika-varkpes buite die beheergebiede in Suid-Afrika, asook ’n uitbreking binne die beheergebiede. Tans is daar uitbrekings in die Oos-Kaap, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, Limpopo en die Wes-Kaap.”

Die beheergebiede vir Afrika-varkpes is in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal waar die siekte endemies by vlakvarke en sagte bosluise is. Beperkings op die beweging van varke en wildevarke, asook hul produkte geld binne die gebiede en wanneer die diere die gebiede verlaat om die verspreiding van die siekte na ander dele van Suid-Afrika te voorkom.

Die departement besef egter dat die beheermaatreëls hersien moet word aangesien baie kuddes besmet word weens kontak met besmette vleisprodukte en kontak tussen varke van verskillende gebiede op onder meer veilings.

Afrika-varkpes is ’n aansteeklike virussiekte by varke en wildevarke. Die vrektesyfer is hoog.

Uitbrekings lei gewoonlik tot ’n verbod op die uitvoer van varke en varkprodukte. Daar is tans geen behandeling of entstof daarvoor beskikbaar nie.

Met uitbrekings word kuddes van kant gemaak en die beweging van kuddes beperk as beheermaatreëls omdat die siekte so vinnig versprei.

Veeartse en boere

Mnr. Mongezi Menye, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse veeartsenykundige raad, sê veeartse moet die siekte met meer erns benader. “Ons vereis dat hulle streng protokolle volg wanneer hulle met varke op plase en by hul klinieke werk.”

Hy sê boere is soms huiwerig om gevalle van Afrika-varkpes aan te meld weens die finansiële skade en emosionele gevolge as hulle hul kuddes verloor. Boere moet enige tekens van Afrika-varkpes dadelik by die staatsveearts of ’n private veearts aanmeld wat dit dan by die departement sal aanmeld.

“Dit is ons etiese verantwoordelikheid as veeartse om die departement by te staan deur vinnige diagnoses en so gou as moontlik bewus te wees van die simptome pleks daarvan om varke vir ander moontlike siektes te behandel. Dit sal daartoe lei dat diere mekaar met die siekte besmet.

“As ’n gemeenskap kan boere saamwerk en hul bure beskerm. Dit sal die finansiële impak verminder.”

Die kliniese tekens van Afrika-varkpes is:

  • Hoë koors binne die eerste twee tot tien dae.
  • Die vrektesyfer kan tot 100% bereik aangesien die siekte vinnig versprei.
  • Aborsies by dragtige sôe, gebrek aan eetlus, depressie, moeilike asemhaling, swak agterpote, vomering, bloed in die neus of rektum, diarree en rooiheid van die vel op die ore, buik en bene.