Sedert die siekte in April op ’n wildsplaas naby Lichtenburg voorgekom het, is uitbrekings op 13 ander plekke in Mpumalanga, Gauteng, die Vrystaat en Noordwes aangemeld. Volgens die department se amptelike verslag aan die internasionale organisasie vir Dieregesondheid (OIE) is 1 605 varke tot dusver met die virus besmet. Altesaam 652 het van die siekte gevrek en ’n verdere 906 is van kant gemaak en die karkasse vernietig.

Die siekte het nou al by Lichtenburg, Delmas, Daveyton, Heilbron, Vanderbijlpark, ’n paar plekkke by Nigel en Koppies, asook by Marikana voorgekom. 

Didiza en die LUR’e vir landbou in die provinsies waar die siekte voorgekom het, het ’n taakspan op die been gebring om te kyk na maniere hoe voorkom kan word dat die siekte na ander provinsies versprei. Sy het varkboere versoek om seker te maak dat besmette diere afgesonder en deur ’n gemagtigde persoon van kant gemaak word. Didiza het gesê sy sal ook die minister van finansies en die minister vir samewerkende regering en tradisionele sake se hulp vra om die probleem te help hanteer. Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê aansporingsmaatreëls kan help om die verspreiding van varkpes te keer. Die uitbrekings het meestal by kleinboere voorgekom en die bedryf is bang boere gee toe aan die versoeking om hul varke te probeer verkoop as hulle weens die siekte begin vrek.

“Al is die regering se geld skaars moet boere aansporings ontvang as hulle die siekte aanmeld en daar moet oorweeg word om hulle te vergoed vir diere wat van kant gemaak moet word. Dit is nie duidelik wat die koste hieraan verbonde sal wees nie, maar die risiko wat die siekte inhou, kan vir die bedryf ernstige nadelige gevolge inhou,” sê hy.

Dit het ook maatskaplike gevolge as ’n kleinboer al sy varke sonder vergoeding moet uitwis. Sihlobo sê benewens aansporings moet veral kleinboere se kennis van die siekte opgeskerp word.

Dr. Peter Evans, hoof van verbruikersversekering by die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (Savpo), het vroeër bevestig daar is geen geneesmiddel vir die siekte nie. Die enigste manier om die verspreiding daarvan hok te slaan, is om besmette varke van kant te maak, die gebied te ontsmet en vir minstens 60 dae geen nuwe varke daar aan te hou nie. Die siekte hou geen gevaar vir mense in nie.

Sodra ’n bevestigde geval van die siekte voorkom, word die gebied met die hulp van provinsiale veeartse, Savpo en die dierbeskermingsvereniging onder kwarantyn geplaas en die besmette diere van kant gemaak. Ander varke binne ’n omtrek van 3 km word ook getoets en veilingrekords nagegaan vir moontlike kontak met ander varke.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.