Die skou word deur Landbouweekblad as mediaborg in belang van die landbou in Suid-Afrika ondersteun.

Adv. DeWaal Nigrini, voorsitter van die reëlingskomitee, sê dit is belangrik dat veral ’n nuwe skou sonder onderbreking voortgesit word om kontinuïteit te behou. Daarom is reeds met reëlings vir die skou begin. “Ons is besig om ’n sterk skou vir die sentrale deel van die land te vestig omdat ander groot landbouskoue soos dié in Pretoria en Johannesburg nie langer plaasvind nie. Ons het reeds die versekering van verskeie telersgenootskappe en telers gekry dat hulle die skou van 1 tot 5 September gaan ondersteun. Die Brahman-telersgenootskap gaan sy nasionale veiling op 5 September as deel van die skou aanbied.”

Kleinvee word vanjaar by die program ingesluit. Die nodige infrastruktuur gaan betyds aangebring word om kraaltjies vir skape en bokke te bou en geriewe te skep om die kleinvee onderdak te beoordeel.

Die onderskeie rasse se beoordeling sal soos verlede jaar met ’n interraskompetisie afgesluit word waartydens die opperste manlike en vroulike kampioene gekroon sal word.

Nadere besonderhede kan by me. Carla de Kock by 082 447 1650 verkry word.