Die hoop bestaan egter dat dit wel later vanjaar by Parys sal kan plaasvind nadat feitlik alle ander skoue in die land vanjaar voor die aanslag van die koronavirus moes swig.

Adv. DeWaal Nigrini, voorsitter van die skou, het nog gehoop die onlangse verslapping van reëls deur pres. Cyril Ramaphosa sou ook goeie nuus vir byeenkomste soos skoue inhou, maar dit het nie gebeur nie. Bywoning word steeds tot maksimum 50 mense op ’n keer beperk. Hy sê nadat die reëls bestudeer is, is dit duidelik dat die toepassing daarvan ’n risko vir die deelnemers en organiseerders sal inhou as die skou wel soos aanvanklik beoog van 1-5 September sou plaasvind.

“Die uitstel van die skou beteken boere moet hul vee langer voer. Ons besef dit is ’n teleurstelling vir die boere, maar ons leef in vreemde tye,” sê Nigrini.

Voorlopig is die skou na 28 September tot 2 Oktober aangeskuif, maar net die tyd sal leer wat die situasie dan in Suid-Afrika sal wees.