Die enigste ander tweeling – twee ooitjies – in Suid-Afrika is in 2009 gebore. Die tweeling op High Riding Estate is ook twee ooie.

Jooste het met sy aankoms in Somerset-Wes ’n paar jaar gelede besluit dat hy alpakkas op sy kleinhoewe gaan aanhou pleks van perde soos die meeste van sy bure. Nou hou hy as deel van sy stoetery, Vicuna Alpacas, sowat 30 alpakkas aan wat elke jaar geskeer word. Die wol word meestal uitgevoer en tot R800/kg verkoop.

Hy vertel ’n alpakka-ooi dra gewoonlik amper ’n jaar aan ’n lam. “Wanneer dit dektyd is, sit jy ’n ooi by ’n ram. Sy sal gaan sit en hy sal haar dek. As sy gevat het, draai sy om en spoeg die mannetjie. Dan staan sy op en sy sal nie weer vir ’n ram gaan sit nie.”

Hy sê die spierwit tweeling se ma, Amalite, het so klein gedra dat hulle nie eens besef het sy is dragtig nie. Dít het die tweeling se koms ’n nog groter verrassing gemaak. “Vir die eerste paar dae het sy nie geweet wat om met die tweeling te doen nie. Ons moes hulle met ’n bottel voed. Sy het egter later besef dit is haar babas en nou is sy ’n goeie ma. Hulle het ’n paar dae gelede aan haar begin drink.”

Die tweeling se name, Genevie en Gemma, begin soos die ander lammers wat vanjaar op die kleinhoewe gebore is, met die letter G. Hulle word elke dag geweeg en daar word noukeurig rekord gehou van onder meer hoeveel melk hulle per dag inneem. Hulle sal binnekort hul eerste inentings kry.

alpakka-tweeling,
Mnr. Michael Schutte saam met die alpakka-tweeling, Genevie en Gemma. Foto: Verskaf