Dit volg op rekordpryse sedert 2017. Australiese kenners van die wolmark het die daling as skokkend beskryf.

Volgens abc.net.au het die Australiese EMI-indikator sy grootste daling sedert 2003 aangeteken met ’n allemintige 9,7%. Dit is 603 sent laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Die prys het tydens die vorige veiling met 4,5% gedaal.

Dié daling is so ’n groot skok vir die bedryf dat betrokkenes gevra het dat die mark gesluit moet word. Die handelsoorlog tussen China en Amerika as die grootste rede word aangegee en dit word vererger deur ’n swakker vraag van China.

Hoewel Suid-Afrika se wol teen hoër vlakke as Australiese wol verkoop word, volg Suid-Afrika se wolprys dieselfde prysneigings. 

Volgens mnr. Deon Saayman, bestuurder van Cape Wools, sal daar nie sekerheid op die markte wees voor die handelsoorlog tussen China en Amerika nie uitgesorteer word nie. Boonop sal dit ’n tyd lank duur vir die mark om hom weer te vestig en daar weer stabiliteit is.

“Die belangrikste is dat boere steeds vertroue moet hê in die veilingstelsel en die hele waardeketting, wat uitstekend funksioneer.” 

Suid-Afrika se eerste twee wolveilings vir die 2019-’20-seisoen is uitgestel, nadat die Suid-Afrikaanse Wol- en Bokhaarkopersvereniging (Sawamba) aan die veilings onttrek het weens die onsekerheid rondom die sertifisering van die nuwe seisoen se wol vir uitvoer na China.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.