Navorsers van die Colorado-staatsuniversiteit in Amerika het na 292 studies en 12 verskillende produksiestrategieë in dié verband gekyk. Die studies het aspekte rakende verbeterde en konvensionele beesvleis- produksiestelsels reg oor Asië, Australië, Brasilië, Kanada, Latyns-Amerika en Amerika vergelyk.

Op grond daarvan kan die beesbedryf in sommige wêrelddele sy vrystellings volgens die navorsers met 50% verminder. Die grootste ruimte vir verbetering is op Brasiliaanse en Amerikaanse beesplase, luidens ’n verslag wat in die vaktydskrif Global Change Biology verskyn het.

“Daar is talle bestaande bestuursoplossings wat, indien dit reg aangewend word, die beesbedryf se klimaatspoor kan help krimp, al kan dit dit nie heeltemal uitskakel nie,” sê prof. Daniela Cusack, die hoofnavorser.

Boere kan hul veldbeesbestuurspraktyke veral op twee maniere aanpas. Eerstens behels dit verhoogde doeltreffendheid deur meer beeste per eenheid kweekhuisgas wat vrygestel word, te produseer. Dit beteken die produksie van groter koeie teen ’n vinniger tempo. Tweedens kan verbeterde grondbestuurstrategieë ook help om die grond- en plantkoolstof te verhoog wat vasgevang word in die grond wat bewei word.

Die bevindings toon ’n vermindering van 46% in die netto kweekhuisgasvrystelling per bees kan verkry word deur bestuurstrategieë rakende koolstofvaslegging in beweide gebiede toe te pas. Dit behels onder meer die gebruik van organiese grondwysigings en die heraanplanting van bome en meerjarige plantegroei in gebiede waar woude, bosveld en riviergebiede reeds agteruitgegaan het. Vrystellings kan met 8% besnoei word deur groeidoeltreffendheid te verbeter.

Die navorsers meen egter dit is uiters moeilik om ’n nul- netto vrystelling te behaal.

Luidens die navorsing kan die Brasiliaanse beesbedryf kweekhuisgasvrystellings met 57% verminder deur toenemend gebruik te maak van koolstofvaslegging of metodes om produksiedoeltreffendheid te verbeter. Dit sluit aspekte soos beter voergehalte, rasseleksie en kunsmisbestuur in. Geïntegreerde veldbestuur kan die grootste impak hê.

Dit behels intensiewe rotasiebeweidingstelsels, die byvoeging van grondkompos, die hervesting van plantegroei in gebiede wat agteruitgegaan het, en die aanplant van weidingsoorte wat gekweek is om koolstof in grond vas te lê.

In ’n paar van die Amerikaanse weidingstelsels wat bestudeer is, kan koolstofvasleggingstrategieë soos geïntegreerde veldbestuur en intensiewe rotasiebeweiding help om kweekhuisgasvrystellings met byna 100% te verminder. Die navorsers het gevind strategieë vir groter doeltreffendheid sal nie só ’n groot impak hê nie omdat talle boere dit reeds daar toepas.

Vleis- en melkbeeste is verantwoordelik vir sowat 78% van die totale kweekhuisgasvrystelings van vee, en 14-18% is weens menslike bedrywighede. Die verbruik van beesvleis het sedert 1961 verdubbel.

’n Toename van 80% in wêreldwye kweekhuisgasvrystellings word van 2009 tot 2050 voorsien weens die groeiende bevolking en hoër voedselproduksie, ook van vleis. Al word die beesbedryf doeltreffender, sal hoër produksie vanweë die groter vraag na vleis na verwagting tot ’n netto kweekhuisgasvrystelling deur beeste lei.