Dít is die bevinding van navorsers wat die noorde van Namibië besoek het om die kulturele denkwyses te bepaal wat die manier beïnvloed waarop boere hul veetroppe in droogtetye bestuur.

’n Span geograwe van die Afrika-klimaat-en-ontwikkelingsinisiatief aan die Universiteit van Kaapstad en navorsers van die Universiteit van Namibië (UNAM) het van 2015 tot 2017 die noorde van Namibië besoek om te sien hoe boere gereageer het op die droogte wat die streek van 2013 tot 2016 geteister het.

Die meeste boere in Suider-Afrika beskou hul veetroppe as ’n belegging en verkoop diere wanneer ’n gesin kontant benodig om skoolgeld te betaal, herstelwerk aan ’n gebou nodig is of die koste van ’n kulturele gebeurtenis, soos ’n troue of ’n begrafnis, gedek moet word.

“Ons aanvaar gewoonlik dat die waarskynlike optrede tydens ’n droogte is om vee te verkoop as ’n manier om rykdom te beskerm wanneer die trop deur hongersnood bedreig word. Ons het egter gevind daar is baie redes waarom mense dit nié doen nie,” sê mnr. Cecil Togarepi, ’n landbou-ekonoom aan UNAM wat met Namibiese boere gepraat het.

Togarepi en medenavorsers het boere in Namibië wat deur die droogte geraak is, besoek om te bepaal hoe kulturele houdings oor vee-eienaarskap beïnvloed is, hoe die boere hul plase en kuddes bestuur het en hoe dit hulle in hul kwesbare omstandighede kan beïnvloed, aangesien die klimaat daar steeds verander.

Die navorsers het bevind dat baie boere verkies om ondanks droogtewaarskuwings hul belegging te waag deur nie hul kuddediere te verkoop nie, vanweë die tradisionele oortuiging dat ’n familie se rykdom en status verbind is tot die grootte van die familie se kudde.

Deur dít te verstaan, kan beleidmakers en ontwikkelingswerkers in droër dele van Suider-Afrika beter met gemeenskappe saamwerk om hulle te help om boerderyprakty- ke toe te pas wat die grootste bedreigings wat klimaatsverandering vir die toekoms inhou, te neutraliseer. “Boere hier het ’n sterk kulturele gehegtheid aan hul vee,” sê Togarepi. “Soos een boer gesê het: ‘ ’n Man ís sy vee.’ ”

Hierdie houding maak boere huiwerig om hul kuddes te verkoop, selfs wanneer daar voorspellings van ernstige droogte is. In dele van Suider-Afrika wat reeds halfwoestyn is, sal klimaatsverandering lei tot hoër temperature, minder voorspelbare reënval en langer droogtetydperke.

“Dit gaan boere se kuddes ’n baie groter risiko laat loop,” sê Togarepi. “Ons moet dink oor hoe om met gemeenskappe te werk, veral met tradisionele en godsdienstige leiers, op maniere wat hierdie oortuigings steeds eerbiedig, maar boere ook aanmoedig om besluite te neem wat hulle sal help om die skok van droogtes te absorbeer.”

Die Namibiese regering het reeds ’n beleid aanvaar wat klimaatslim landboupraktyke bevorder. Dit sluit in drupbesproeiing, oor- skakeling na droogtebestande graankulti- vars en veerasse, en tradisionele grondbewerking met trekdiere pleks van trekkers. Namibiese boere het egter nie gou hierdie praktyke aangeneem nie vanweë godsdienstige oortuigings, ’n vertroue in tradisionele kennis en die simboliese betekenis van sekere landboupraktyke, het die navorsers bevind.

Pleks van om hierdie houdings as ’n struikelblok te beskou, meen die navorsers dit kan in geleenthede omskep word. Deur met godsdienstige en tradisionele waardestelsels te werk, kan voorligtingsbeamptes klimaatslim praktyke bevorder op ’n manier wat die impak van klimaatsverandering en veranderlikheid op hierdie boere help verminder.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.