Mnr. Johan Mouton van RCL Foods het op Landbouweekbladen Breedplan se Veeskool by Aldam in die Vrystaat die voorbeeld van twee groepe lammers voorgehou waarmee hy ’n proef gedoen het. 

Die eerste groep diere het hy as normaal geklassifiseer. Hy het hulle uit ’n groot kudde gaan uitsoek. Hulle het ’n voeromsettingskoers van 5,2 kg voer vir elke kilogram liggaamsgewig gehad en gemiddeld 260 g per dag gegroei oor die 62 dae wat hulle in die voerkraal gestaan het. Elke dier het gemiddeld 83,2 kg voer vir dié tydperk gevreet.

Die tweede groep lammers was uit ’n stoetery. Hulle het ’n voeromsettingskoers van 4,56 gehad en gemiddeld 310 g per dag gegroei. Hulle was slaggereed as A2-lammers op 52 dae en het gemiddeld elk net 72,9 kg voer gevreet. Teen die huidige vleispryse het genetiese eienskappe ’n verskil van R41 inkomste per dier tussen die groepe teweeggebring.

Johan sê die sleutel tot winsgewendheid is om die voeromsettingsverhouding in voerkrale aanhoudend laer te bestuur. “Maak seker jy koop die regte lam om te voer. Koop lammers met goeie genetiese eienskappe.” Hy het boere afgeraai om hulle blind te staar teen die hoeveelheid dae wat diere in ’n voerkraal staan. “Kyk eerder na die kondisie van die dier as om jou voerkraal op ’n periode-grondslag te bestuur.”

Johan sê ’n mens leer gou om die vetklassifikasie van ’n lam met jou hande op die dier se rug aan te voel. “As jou dier by A2 of A3 kom, moet jy slag. Dit help nie om dan nog ’n paar dae te voer tot op ’n teikengewig nie; dit gaan bloot meer vet aan die karkas sit en die oomblik wat die vet by A4 verbygaan, begin mens inboet op jou prys. Jy kan R4/kg tot R5/kg minder kry vir jou vetter dier.”

Aanpassing

Johan sê hoewel daar baie gewag gemaak word van ’n spesifieke voermengsel vir ’n aanpassingsfase, die groeifase en die afrondingsfase moet boere in gedagte hou dat dit diere elke keer omtrent 14 dae kos om die suurvlakke in die rumen te stabiliseer wanneer van voer verander word. Daarom beveel hy aan dat nuwe lammers wat van die veld af kom, vir die eerste drie tot vier dae net lusern kry om te vreet. Van dag vier af kan boere hul gewone voerrantsoen teen sowat 300 g per dier per dag bygee en die rantsoen met 100 g per dag vermeerder. Van dag tien af kan die skoon lusern weggeneem word en diere kan dan die voerrantsoen kry totdat hulle geslag word.

Op dié manier boet ’n mens nie elke keer ’n bietjie groei in wanneer van rantsoen verwissel word en die diere eers weer moet aanpas nie. “Die data wys dat hierdie stelsel werk,” sê hy, maar waarsku dat boere nie moet skrik as hulle teen dag 12 of 13 sien van hul diere het diarree nie. “Die moeilikste ding om te doen wanneer jy dit sien, is niks. Moenie lusern uitsit nie! Jy moet deurdruk. As dit ná twee of drie dae nog so lyk, dan kan jy maar weer lusern uitsit.”

Johan sê dit is belangrik om te onthou net 10-15% van die diere kry diarree wanneer ’n mens die skoon lusern wegneem. Oor die ruvoer in ’n voermengsel sê hy diere wat 15% ruvoer van ’n lae gehalte, soos mieliestronke, gekry het, het gemiddeld R52 per dier minder verdien as diere wat 30% lusern by hul voermengsel gekry het.

Voerkraal-wenke

  • Goeie, skoon en koue drinkwater is belangrik. Sorg dat die water wat in jou krippe vloei, koud is. Plaas voer en waterbakke so ver moontlik van mekaar af om te voorkom dat kos wat aan die skape se bekke vassit, in die water beland.
  • In ’n voerkraalstelsel wil ’n mens diere uit jou voerkraal hê voordat hulle tande wissel omdat hulle geneig is om kondisie te verloor wanneer hulle tande wissel.
  • Jy wil ’n skoon vloer- of grondoppervlak in jou voerkrale hê wat effe afhel na een kant sodat reënwater nie opdam nie. Maak, as dit moontlik is, voorsiening vir 0,5-1 m² skaduwee per dier.
  • Stofbeheer is belangrik. In ’n beesvoerkraal is die verskil tussen stofbeheer en geen stofbeheer 100 g per dag. Dit is dalk nie so belangrik met skape nie, maar steeds belangrik.
  • Hou voertrôe skoon. Waar ’n mens selfvoerders gebruik, moet hulle een maal per dag leeggemaak en skoongemaak word om speekselbesmetting te keer. Dit sal help om siektes te voorkom.
  • Hoewel die aanvaarde norm 1,5 m² per skaap in ’n voerkraal is, meen Mouton groter is beter en dra by tot beter groei per dag. Hy beveel 5-6 m² per skaap aan.
  • Dieselfde geld voerruimte; 20-30 cm per dier is optimaal, al sê die beskikbare litteratuur 15 cm per dier.
  • Skei die geslagte van mekaar en groepeer diere van dieselfde grootte saam.
  • Bou van die begin af ’n hospitaalkraaltjie vir diere wat uitsak of skaam vreters is. As een werker oor ’n kraal toesig hou, sal dit help om daardie skaam vreters en siek diere vroegtydig te identifiseer.