Kruisteling is ’n standaardteelpraktyk in baie lande en speel ’n toenemend belangrike rol in kommersiële beesvleisproduksie in onder meer Amerika, Kanada en Australië. In sekere dele van Amerika en Kanada beoefen ongeveer 90% van die kommersiële vleisbeesboere kruisteling.

Opnames het egter getoon dat baie van hierdie kruisteeltstelsels nie goed beplan of doeltreffend toegepas word nie. In Suid-Afrika is 67% van die beeste wat in voerkrale afgerond word, kruisings. Kruisteling behels die paring van verskillende rasse van dieselfde spesie.

Die sukses daarvan lê in basterkrag of heterose, ’n verskynsel waarin kruisgeteelde diere se prestasievlak bo die gemiddelde prestasie van hul rasegte geteelde ouers uitstyg; asook komplementariteit, waar een ras se sterk punte die ander ras se swak punte aanvul.

Die groot verskeidenheid beesrasse in die wêreld dui op die moontlikheid om sekere raskombinasies te skep wat die produksie kan verhoog. In Suid-Afrika het ons Taurus-, Seboe- en Sanga-rasse, wat in kruisteling aangewend kan word.

VERSKILLENDE KRUISTEELTSTELSELS

Kruistelingstelsels kan hoofsaaklik in twee kategorieë verdeel word, naamlik ’n rotasiestelsel (waarin eie vroulike as vervangingsdiere gelewer word), en ’n terminale stelsel (waar alle kruisnageslag bemark word). ’n Kombinasie van die twee is ook moontlik.

Rotasiestelsel

’n Rotasiestelsel vereis die vestiging van twee of meer teelkuddes. Daar is twee soorte rotasiestelsels. In die tweerasrotasiestelsel word twee groepe kruiskoeie gevestig, soos hieronder aangedui.

Die belangrikste voordeel van rotasiekruisings is dat vervangingsverse binne die stelsel gelewer word: B (bul) x A (vroulik) —> A (bul) x AB (vroulik) —> B (bul) x ¾A¼B (vroulik) —> A (bul) x 3/8A5/8B (vroulik), ens.

Minstens twee teelkuddes is nodig, een wat met bulras A gepaar word en ’n ander wat met bulras B gepaar word. ’n Reeks alternatiewe terugkruise word in die tweerasrotasiestelsel gebruik.

Ná ’n hele paar geslagte is sowat twee derdes van die genetiese materiaal afkomstig van die een ras, terwyl die ander derde van die ander ras afkomstig is.

’n Drierasrotasiestelsel is dieselfde as ’n tweerasrotasiestelsel, behalwe dat ’n derde ras ingebring word, soos hieronder aangedui: C (bul) x AB (vroulik) —> B (bul) x ½C¼A¼B (vroulik) —> A (bul) x ¼C1/8A5/8B (vroulik) —> C (bul) x 1/8C?/16A5/16B (vroulik), ens.

Die nadeel van die drierasrotasiestelsel is dat dit moeiliker bestuurbaar is as die tweerasrotasiestelsel omdat minstens drie teeltroppe nodig is indien kunsmatige inseminasie nie toegepas word nie.

Terminale kruisteelt

In hierdie stelsel word ’n spesifieke rasegte bulras deurgaans met ’n rasegte of kruisgeteelde koei gepaar en al die nageslag word verkoop. Die nadeel van die stelsel is dat vervangingsverse van buite ingekoop moet word.

Wat die manlike lyn betref, moet daar voorkeur gegee word aan rasegte rasse met hoë groeipotensiaal en goeie karkaseienskappe.

Weens die buitengewone mooi voorkoms van die terminale verse, is boere in die versoeking om hierdie verse vir teeldoeleindes aan te hou, terwyl hulle geslag moet word. Dit is dan wanneer die hele stelsel in duie stort.

Rotasieterminaal

Dié stelsel kombineer aspekte van die rotasie- en terminale stelsels. Die rotasiedeel van die stelsel voorsien die vervangingsverse, terwyl al die nageslag (bulle en verse) uit die terminale deel bemark moet word.

Koeie kan in die rotasiegedeelte van die stelsel gehou word totdat hulle vier tot vyf jaar oud is. Daarna word hulle na die terminale deel van die stelsel geskuif en al hul kalwers word bemark.

Die grootste nadeel van hierdie stelsel is dat ’n groot kudde van minstens honderd koeie nodig is en dat die stelsel hoë bestuursvlakke vereis.

SINTETIESE RASSE

Die skepping van sintetiese rasse is hoofsaaklik daarop gemik om ras-komplementariteit vir verskillende eienskappe te benut om ’n “nuwe ras” met ’n algehele meriete in saamgestelde eienskappe te skep.

Dit bied die geleentheid om die genetiese samestelling van die nuwe ras te optimaliseer, wat klimaatsaanpasbaarheid en prestasie-eienskappe kan integreer. In Suid-Afrika is die Bonsmara en Simbra goeie voorbeelde van sintetiese rasse.

Een van die belangrikste voordele van ’n saamgestelde ras is dat die bestuur daarvan taamlik eenvoudig is, aangesien dit soos ’n raseg geteelde ras bestuur kan word.

Die grootste nadeel van sintetiese rasse is dat inteling mettertyd ’n verlies aan basterkrag kan veroorsaak, indien hulle uit ’n klein genetiese basis geteel is.

Daar moet ook gewaak word dat seleksie vir ’n spesifieke eienskap, byvoorbeeld groei, nie die gene van een van die rasse in die kombinasie mettertyd verminder nie.

Persentasie basterkrag en beraamde toename in kilogram kalf gespeen per koei gepaar vir die verskillende kruisteeltstelsels
Die Iranese student Razie Khorshidi het haar doktorsgraad in Kanada verwerf. Sy het die toename in produksie van Charolais-Afrikaner-kruisings beraam. FOTO: VERSKAF

VOORDELE VAN KRUISTELING

Kruisteling lei tot verhoogde prestasie sonder veel addisionele insette. Reg aangewend, is dit ’n bestuursmeganisme wat produktiwiteit kan verhoog en die nageslag verbeter, sonder om produksiekoste noemenswaardig te verhoog.

Verder kan produksie baie vinniger verhoog word met kruisteling as met seleksie binne ’n bepaalde ras, danksy komplementariteit en heterose wat benut word.

Die mate van heterose en komplementariteit wissel na gelang van die kruisteeltstelsel wat toegepas word, terwyl sommige eienskappe ook beter reageer op kruisteling as ander.

Eienskappe met ’n laer oorerflikheid, soos vrugbaarheid en aanpasbaarheid, is geneig om ’n hoër mate van heterose te toon. In die Tabel word die verwagte basterkrag van die verskillende stelsels, asook die beraamde toename in kilogram kalf gespeen per koei gepaar, opgesom.

In die geval van vleisbeeste kan die doeltreffende gebruik van kruisteling spesifieke voordele inhou. Onder kommersiële boerderystelsels, met taamlike bestuurspraktyke, maar waar toestande steeds ekstensief is met relatief lae vlakke van voeding, kan terminale kruisteling met klein, inheemse koeie bydra om die produksievlakke van vleisbeeste te verbeter.

Met aardverwarming gaan dit nóg belangriker word. Die voordeel van só ’n kruisteeltstelsel is dat groot kalwers (groeiers) van klein teelkoeie gelewer word, bloot omdat die klein koeie minder vreet as die groot koeie.

Die hoër doeltreffendheid van só ’n stelsel spruit uit ’n potensiële toename in speengewig van tot 46% per koei gepaar, terwyl die voer-energiebehoefte slegs met 1% styg.

In Suid-Afrika is die gebruik van plaaslik aangepaste lae-insetrasse as moederlyne belangrik. Die produksiepotensiaal van die kruisnageslag word verhoog deur die gebruik van terminale vaderrasse.

Só ’n stelsel sal egter net lewensvatbaar wees as die natuurlike omgewing die hoër produksie kan ondersteun, en daar aan die nodige bestuursinsette voldoen kan word.

Voorbeelde van die resultate van vorige kruisteeltprojekte wat op Vaalharts uitgevoer is, word hieronder aangetoon. Die koeidoeltreffendheid is uitgedruk in kilogram kalf gespeen per grootvee-eenheid gepaar.

Met die verskillende kruise waar die Afrikaner as moederlyn gebruik is, was die toename in koeidoeltreffendheid as volg:

- 12% met Brahman x Afrikaner.

- 15% met Simmentaler x Afrikaner.

- 16% met Charolais x Afrikaner.

Wanneer die F1-Afrikanerkoei gebruik is, het die koeidoeltreffendheid met tot 48% toegeneem. In die geval van die Charolais-Afrikaner-kruising, was daar ’n toename van 27% in die waarde van die vleis en 27% minder voer is gevreet van speen tot slag, in vergelyking met die rasegte Afrikaner.

In die geval van Angus-bulle wat met Nguni-koeie gekruis is, het die koeidoeltreffendheid met 22% toegeneem. Sulke stelsels van terminale kruisteling kan waardevol wees vir die kommersialisering van geïdentifiseerde individue onder die opkomende boere en vir kommersiële boere. In só geval sal die stelsel sterk leun op inheemse of aangepaste rasse as moederlyne.

Onlangse navorsing op Vaalharts dui daarop dat ’n rotasiekruisteeltstelsel met inheemse rasse (Afrikaner, Bonsmara en Nguni) lewensvatbaar kan wees vir die opkomende vleisbeessektor.

In só ’n geval sal teelplase beskikbaar gestel moet word waar rasegte bulle vir só ’n “heen-en-weer” kruisteeltstelsel geteel en aan die boere beskikbaar gestel word.

Staatsproefplase kan sinvol hiervoor aangewend word. Die sukses van enige van hierdie kruisteeltstelsels sal afhang van hoe goed die stelsel bestuur word en die gehalte van die diere wat gebruik word.

Teelwaardes is beskikbaar vir alle rasse in Suid-Afrika, wat dit maklik maak om bulle vir kruisteling te selekteer. Dit is egter moeiliker om gehalte-vervangingsverse te bekom.

Miskien het die tyd aangebreek vir kontrakparings, waar verse van ’n sekere genetiese samestelling bestel kan word by ’n boer met goeie vroulike diere. Met dank aan prof. Frikkie Neser, me. Anette Theunissen en me. Georgette Pyoos-Daniels vir hul bydrae tot die artikel.

Prof. Michiel Scholtz is ’n afgetrede spesialisnavorser in toegepaste diereteelt by die LNR-diereproduksie op Irene waar hy nou op kontrak betrokke is. In sy navorsing lê hy klem op klimaatslim vleisbeesproduksie.