Dié besluit is geneem op ’n vergadering van verteenwoordigers van die ses grootste veeskoue in die land, naamlik die Bloemskou, die Royalskou, Nampo Alfa, Agri-Expo Livestock, die Nampo-oesdag en Nampo Kaap, tesame met, dr. Faffa Malan, die bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika en dr. Danie Odendaal, direkteur van die Veeartsnetwerk.

“Die doel van die vergadering was om ’n stel beste praktyke te vestig by elk van die onderskeie geleenthede om die bedryf holisties te dien en in die beste belang van vertoners op te tree,” lui ’n verklaring wat ná die vergadering uitgereik is. Hulle sê die huidige uitbreking van bek-en-klouseer was die grootste dryfveer vir die organisering van die vergadering.

“Daar word egter ook gepoog om die proses ’n stap verder te neem en die uitkoms wat voorsien word, is die inisiëring en implementering van ’n biosekerheidsprotokol spesifiek vir vee-tentoonstellings.” 

Opgehef

Die skou-organiseerders sal die protokol in werking stel sodra die verbod op skoue en veeveilings weens die bek-en-klouseeruitbreking in 2019 opgehef sal word.

Kleiner streekskoue sal ook ondersteun word met die implementering van die protokol.

Odendaal is deur die skoue gekontrakteer om ’n eenvormige biosekerheidsprotokol saam te stel wat al ses skoue kan volg.

Die ses skou-organiseerders sê die uitbrekings in 2019 en 2020 bring opnuut die belangrikheid van biosekerheid onder die aandag van alle belanghebbendes in die veebedryf.

“Daar rus ’n verpligting op die skouers van alle belanghebbendes om die uitbreking van siektes te voorkom en behoorlik te bestuur – dit is nie slegs ’n regeringsfunksie nie.”

Die belanghebbendes het hulself ook daartoe verbind om met die onderskeie owerhede saam te werk om biosekerheidsmaatreëls te ondersteun.