Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê in ’n verklaring agt voerkrale wat deur die uitbreking in November 2019 geraak is, het toestemming gekry om hul beeste by twee gespesifiseerde abattoirs te slag. Meer as 9 000 beeste vanaf hierdie plase wat onder kwarantyn geplaas is, is reeds verwerk. Die departement sê sodra al die diere van die besmette persele geslag is, kan die kwarantyn opgehef word en boerderyaktiwiteite kan soos normaal voortgaan.

Mense kan nie bek-en-klouseer opdoen nie en die vleis van diere wat van die siekte herstel het, is veilig vir menslike gebruik. Spesiale maatreëls is wel vir die hantering van hoër-risikodele van die karkasse ingestel.

Die departement gaan voort om te skakel met die boere wie se vee deur die siekte geraak is. Die algemene verbod op die byeenbring van diere weens die uitbreking van bek-en-klouseer is op 17 Februarie opgehef. Die verbod is ingestel om die verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom.

Die departement het gesê dat rooivleishandel met die meeste handelsvennote herstel is. Die jongste handelsvennoot wat weer sy grense vir Suid-Afrikaanse rooivleis oopgestel het, is Eswatini.

Die departement benadruk die opheffing op die verbod beteken nie dat die uitbreking van bek-en-klouseer in die vrye-sone as ’n afgehandelde kwessie gesien word nie. Sodra die opvolgproses op alle persele waar die siekte voorgekom het, afgehandel is, sal ’n algemene waarnemingstrategie in al die gebiede wat deur die November 2019-uitbreking geraak is, van stapel gestuur word. Op grond daarvan sal die proses bepaal word waarvolgens Suid-Afrika sy internasionale bek-en-klouseervrye-status kan terugkry.

Goeie nuus vir uitvoerders

Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, sê dié verklaring van die departement is baie goeie nuus vir die rooivleisbedryf. “Omdat Suid-Afrika se beleggingstatus tot rommelstatus afgegradeer is en die rand skerp gedaal het, is dit belangrik dat rooivleisuitvoer moet gedy. Die bek-en-klouseerstatus van die land speel hier natuurlik ’n groot rol.”

Uitvoer van rooivleis na China is goed op dreef, maar dit is hoofsaaklik vleis met die been in, wat ’n laer waarde het. “Die hoë-gehaltesnitte staan op hierdie stadium effe stil, maar daar is reeds groot vordering gemaak om bande met die Midde-Ooste, waar hierdie snitte gesog is, te versterk. Boonop het een van Suid-Afrika se groot konkurente vir die Midde-Oosterse mark, Brasilië, besluit om sy aandag eerder op China toe te spits, wat mededinging vir die Midde-Oosterse mark verminder. Maar dan moet Suid-Afrika so gou moontlik sy bek-en-klouseervrye-status herwin om voordeel hieruit te trek.”