Luidens ’n verklaring deur Cape Wools is plaaslike biosekerheidsmaatreëls ten opsigte van die uitvoer deur die Chinese doeane-owerheid aanvaar.

“Die bedryf kan homself ’n klop op die skouer gee omdat hy proaktief maatreëls getref het om die uitvoer van wol en sybokhaar te beskerm ná die eerste uitbreking. Danksy die maatreëls kan die bedryf in situasies soos hierdie verseker dat handelsaktiwiteit ononderbroke voortgaan.”

Dit sluit die onderhandelde gesondheidsertifikaat in wat voorsiening maak vir die inaktivering van bek-en-klouseer soos voorgeskryf deur die internasionale organisasie vir diergesondheid. Alle makelaars het die nodige maatreëls getref deur wolpakhuise volgens voorskrif te verhit.

China is die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse wol. Wolhandel tussen die twee lande is eers in September hervat nadat China in Februarie ’n verbod op die invoer van Suid-Afrikaanse wol geplaas het. Kopers in Suid-Afrika het egter voortgegaan om wol te koop om die mark aan die gang te hou. Dit het daartoe gelei dat die eerste twee veilings van die huidige seisoen uitgestel is weens onsekerheid oor uitvoer en die hoë koste om wol in Suid-Afrika te finansier as dit nie uitgevoer kan word nie.

Mnr. Deon Saayman, bestuurder van Cape Wools, sê dit geld ook uitvoer na die oorblywende internasionale bestemmings vir wol, aangesien Suid-Afrika nooit sy bek-en-klouseervrye status teruggekry het ná die vorige uitbreking nie. Uitvoer na onder meer Tsjeggië, Italië en Indië het ná die nodige onderhandelinge voortgegaan.

Staatsveeartse sal dus voortgaan om wol vir uitvoer te sertifiseer, en handel sal soos normaal voortgaan.