Dr. Danie Odendaal, ’n veeartsenykundige konsultant, sê die rooivleisbedryf moet help toesien dat ’n toegewyde kundige aangestel word om dieregesondheidskwessies, soos die voorkoms van beheerde siektes soos bek-en-klouseer, te koördineer.

Hy het op die jaarkongres van die Rooivleisprodusente-organisasie in Bloemfontein gesê die onlangse geval is ’n sprekende voorbeeld dat voorkomende maatreëls afgeskeep word wanneer die bedryf nie die staat se funksies ten opsigte van dieregesondheid monitor nie. Van die voorkomingsmaatreëls wat misluk, is wanneer geld tekort skiet vir entstof of die inenting nie gedoen word nie, of wanneer gemeenskappe in die beheerde gebied hul beeste in die Krugerwildtuin met siektedraende buffels in aanraking laat kom.

“ ’n Toegewyde kundige is nodig om te verseker al die basiese beginsels ter voorkoming van bek-en-klouseer bly in werking,” het hy gesê.

Buffels

Odendaal het ook voorgestel dat buffelkuddes reg oor die land gekarteer word. “Nieteenstaande dié buffels se siektevrye status, sou dit ’n ramp wees as bek-en-klouseer van kudde tot kudde versprei, aangesien buffels ’n onderhoudsgasheer vir die siekte is.”

Die voormalige departement van landbou, bosbou en visserye het vroeër die bek-en-klouseerbesmette gebied aan die internasionale dieregesondheidorganisasie, die OIE, verklaar.

Dit is gedoen vir amptelike erkenning in ooreenstemming met artikel 8.8.6 van die OIE se terrestriale dieregesondheidskode. Indien die verklaring aanvaar word, sal Suid-Afrika se status as bek-en-klouseer- vrye sone heringestel word, op voorwaarde dat die gebied binne een jaar skoongemaak word.

Kliniese inspeksies en serologiese waarnemings sal binne die beperkingsgebied voortgaan. Ingeënte diere sal as sulks geïdentifiseer bly om opspoorbaarheid toe te laat. Beperkings op die beweging van diere sal ook in dié gebied van krag bly (asook in die aangrensende gedeelte van die beskermingsone wat deel vorm van die siektebeheergebied), totdat die gebied weer in die vrye sone opgeneem kan word. Dié proses behoort binne twaalf maande ná die verklaring van die beperkte gebied afgehandel te wees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.