Vraag

Ek het my eerste perd gekry en wil graag meer weet oor die voorkoms van bosluise by perde. Hoe kan ek dit bestry? Die perd bly in die veld.

Raad

Verskillende bosluissoorte in Suid-Afrika kan op perde voorkom. Die klimaat, plantegroei en gashere op die plaas sal bepaal watter soorte bosluise kan voorkom.

Hardedopbosluise se lewensiklus bestaan uit larwes, nimfe en volwasse bosluise. Die larwes is klein en daar moet mooi gekyk word om hulle in die ore of tussen die hare raak te sien. Volgesuigde wyfies is groot en kan maklik raakgesien word. Bosluise suip bloed en as daar baie bosluise op ’n dier teenwoordig is, kan die dier bloedarmoedig of anemies raak.

Sommige bosluise (die bont- en bontpootbosluise) het lang monddele en as die perd nie betyds behandel word nie, kan sere by die vashegtingsplekke ontstaan. Hierdie sere lok weer vlieë (spykerwurmvlieë) wat hul eiers in die wonde lê. Dit kan tot die dood van die dier lei as die wonde verwaarloos word.

In gebiede waar die bruinoorbosluise voorkom, kan daar só baie bosluise in die ore voorkom dat die ore selfs kan afval as die dier nie behandel word nie. Hierdie bosluise skei ook gifstowwe af wat die dier kan vergiftig.

Die rooipootbosluis (Rhipicephalus evertsi evertsi) is die draer van die parasiet Theileria equi wat galkoors veroorsaak. Die rooipootbosluis en die bontpootbosluis (Hyalomma truncatum) is draers van die parasiet Babesia caballi wat ook galkoors veroorsaak.

BEKAMPING

Ondersoek jou perd weekliks vir bosluise. Kyk ook in die ore, maanhare, oksels, lieste, uier, skede van die hings, onder en op die stert, en op die bene en veral in die hare bokant die agterkant van die hoewe.

Gebruik middels wat vir bosluisbekamping by perde geregistreer is. Middels wat amitras bevat, kan dodelik vir perde wees. Bespreek moontlike dipmiddels met jou plaaslike veearts of besoek Landbou.com vir inligting. Tik in die soekfunksie: Bosluise by perde, vir ’n lys van dipmiddels.

’n Perd se vel is gevoeliger as dié van beeste en kan newe-effekte tot gevolg hê. Dipmiddels kan met ’n spons of handspuit aangewend word. Begin om die perd van die bolyn af te benat en spuit die vloeistof teen die rigting waarin die hare lê. Sorg dat die dier goed nat is. Indien bosluise slegs in sekere dele voorkom, soos onder die stert, kan kolbehandeling toegepas word.

Spuitkannetjies met bosluisdoders is ook beskikbaar. Onthou om handskoene en beskermende klere te dra wanneer middels aangewend word.