Raak so gou moontlik van enige oortollige diere ontslae en sien goed om na die reproduserende diere (ooie voor en tydens paartyd sowel as laatdragtige en lakterende ooie) en speen-ooilammers. Hulle moet in staat gestel word om 'n aanvaarbare voortplantingstempo te handhaaf.

"Dit sal die koste van droogtevoeding laag hou en verseker dat die boerdery steeds geld inbring," sê dr. Jasper Coetzee, 'n kenner van dierevoeding.

Droogtevoeding begin gewoonlik wanneer die weiding nie meer in minstens 30 % van die diere se voedingsbehoefte kan voorsien nie. Elke boer se droogtevoedingopsie sal afhang van sy finansiële situasie, of hy `n stoet- of kuddeboer is, watter grondstowwe hy beskikbaar het of kan kry sowel die duur en die intensiteit van die droogte.

Vir die meeste kuddeboere asook vir alle stoetboere is die beste opsie om so gou moontlik alle oortollige diere te bemark en slegs `n kernkudde van die beste teeldiere uit te hou. Die inkomste wat só verdien word, moet gebruik word om die kernkudde só te voer dat hulle steeds teen 'n aanvaarbare vlak produseer en reproduseer.

"Die mikpunt is om die diere deur die droogte te kry sonder om geld te gaan leen. Dit is 'n beter opsie as om alle diere teen groot koste vir oorlewing te voer - hulle sal desondanks swak produseer en voortplant."

Goeie teelooie en -ramme is die waardevolste diere aan die einde van 'n droogte. Hulle moet spesiale versorging en voeding gedurende die droogte kry. Alle oorslaan-oonooie en diere met gebreke moet so gou moontlik geïdentifiseer en bemark word.

In 'n rampdroogte verskuif die klem na oorlewing. In sekere omstandighede kan 'n gewigverlies van 15 % tot 20 % by droë diere toegelaat word. Byvoeding moet egter begin wanneer die skape 3 kg tot 4 kg bo hul toelaatbare minimum gewig is, want hulle gaan tydens aanpassing gewig verloor.

Produksie, en veral reproduksie, sal egter ingeboet word as reproduserende diere te veel gewig verloor. As teelooie te veel gewig verloor, sal dit lei tot 'n lae lampersentasies van 26 tot 47, hoë lamvrektes, swak lamgroei, 'n toename in boepenslammers, probleme om lammers markklaar te kry, 'n drastiese afname in wolproduksie en 'n toename in tenger vagte.

Dr. Coetzee sê hoe vroeër byvoeding begin, hoe minder word benodig om die dier te onderhou. Beter resultate word behaal as byvoeding vroeër op 'n laer peil as later op 'n hoër peil begin word.

Wanneer voldoende droë weiding of ruvoer (hooi) nog beskikbaar is, moet die diere (al word hulle net vir onderhoud gevoer) 'n gebalanseerde rantsoen van energie, proteïen, minerale en vitamiene ontvang.

Energieryke graan (mielies en kleingraan) moet nooit alleen as enigste byvoeding op droë weiding of saam met droë ruvoer gevoer word nie, want dit versuur die grootpens. Sodra die grootpens se pH onder 6,2 val, begin die mikrobes wat vesel verteer, vrek. Dit verlaag veselvertering en gevolglik die inname van droë weiding en ruvoer. In sulke omstandighede sal diere min wei en meer geneig wees om by die voerbakke te lê.

Die voer van slegs graan sal ook geneig wees om tot meer geboorteprobleme te lei, asook swak uierontwikkeling, abnormaal dik en taai bies, lae bies- en melkproduksie, baie lamvrektes en ooie wat lammers weggooi, swak lammers met geboorte en swak lammergroei. Vir die beste resultate moet graan altyd saam met proteïenbronne (soos een deel lupiene en twee dele grane) of as deel van 'n goed gebalanseerde lek of rantsoen gevoer word.

Wanneer voldoende droë weiding en/of ruvoer beskikbaar is, moet voldoende proteïen aangevul word om die verteerbaarheid daarvan te verhoog asook die inname daarvan te stimuleer. Die rumenaktiwiteit van die mikrobes kan gestimuleer word deur elke skaap elke twee tot drie weke te doseer met 'n mengsel van 15 ml tot 20 ml asyn, bruinsuiker en gis (suurdeeg). Dr. Coetzee beveel aan dat 750 ml asyn met 2 kg bruinsuiker en vier pakkies gis in 5 l water opgelos word.

Droë en middragtige ooie (tweede en derde maand van dragtigheid) kan tydens droogte net vir onderhoud gevoer word. Sjokoladegraan (200 kg heel graan plus 25 kg sjokoladekonsentraat plus 4 kg voerkalk) kan met welslae as onderhoudvoeding vir droë en middragtige ooie gebruik word, maar dan móét daar nog voldoende droë weiding wees of droë ruvoer moet bygegee word.

Sjokoladegraan kan teen 200 g tot 300 g per skaap per dag gevoer word. Alle diere moet gelyktyktydig kan vreet. Solank genoeg droë weiding nog beskikbaar is, kan 'n klaargemengde proteïenlek (wat in die handel beskikbaar is) tot drie keer per week teen 100 g tot 180 g per dier per dag aan droë en middragtige ooie gevoer word. As weiding skaars of nie beskikbaar is nie, moet ruvoer teen 500 g tot 1 000 g per dier per dag saam met die lek gegee word.

Selfs ál is daar nog voldoende droë weiding moet deurvloeiproteïen en energie aan laatdragtige, lakterende en jong ooie gegee word. Dit moet ook by prikkelvoeding van teelooie ingesluit wees. Deurvloeiproteïen sal uierontwikkeling bevorder, bies- en melkproduksie verhoog asook weidingsinname stimuleer. Laatdragtige en lakterende ooie moet daagliks gevoer word.

'n Deurvloeiproteïenlek kan teen 250 g tot 500 g per ooi per dag aan hierdie diere gevoer word solank volop droë weiding beskikbaar is. As die weiding skaars of nie beskikbaar is nie, moet ruvoer teen 1 kg tot 1,5 kg per dier per dag bygegee word.

Sjokoladegraan moet nie vir laatdragtige en lakterende ooie gevoer word nie omdat dit dieselfde probleme as die voer van graan alleen kan veroorsaak. Sjokoladegraan kan wel as prikkelvoeding en vir die uitgroei van jong ooie gebruik word.

Wanneer geen of min droë weiding, asook geen hooi of ander ruvoer beskikbaar is nie, moet na droogtekorrels oorgeskakel word. Droë en middragtige ooie kan twee tot drie keer per week gevoer word, maar laatdragtige en lakterende ooie elke dag.

Droogtekorrels moet minstens teen 500 g tot 750 g per dier per dag aan droë diere gevoer word. Middragtige ooie moet minstens 750 g tot 1 000 g per dier per dag kry. Vir laatdragtige, lakterende en jong ooie, sowel as vir prikkelvoeding van teelooie, moet minstens 1 kg tot 1,5 kg droogtekorrels per ooi per dag plus die regte deurvloeiproteïenbevattende lekke gevoer word.

Wanneer die droogte gebreek is, moet die diere verkieslik van die weidings (aangeplante én natuurlike weiding) weggehou word totdat voldoende groen weiding beskikbaar is. Dit sal voorkom dat hulle agter die groen opslag aanhardloop - iets wat talle swak diere laat vrek.

Sodra voldoende weiding beskikbaar is, moet die diere geleidelik oor ongeveer sewe dae daarop aangepas word deur hulle aanvanklik net vir een tot twee uur per dag te laat wei en elke dag die tyd te verleng. As diere nie aangepas word nie kan dit tot spysverteringsteurnisse en vrektes lei.

Skape moet nie honger wees wanneer hulle finaal op die groen weiding uitgeplaas word nie. Gee dus hul daaglikse rantsoen voordat hulle laatmiddag na die weiding gejaag word. Laatdragtige ooie sal waarskynlik aanvanklik byvoeding moet ontvang om domsiekte te voorkom.

Wenke vir voeding

Maer diere op proteïengebrekkige en skaars weiding moet nie ureumryke produkte gevoer word nie, tensy dit met graan of melassemeel verdun is.

Erg verhongerde diere (veral dié wat vir 'n tyd lank

'n proteïengebrekkige rantsoen ontvang het) kan in 'n groot mate hul vermoë

verloor om ammoniak tot ureum in die lewer om te sit. Selfs 'n lae ureuminname

kan dan toksies wees. In sulke omstandighede moet produkte wat baie ureum bevat,

met omsigtigheid aanbeveel word omdat dit tot ureumvergiftiging kan lei.

  • Die kripspasie hang af van die grootte van die krip, die aantal skape en

    die hoeveelheid voer. As 'n klein hoeveelheid voer daagliks gevoer word, moet

    minstens 150 mm per skaap toegelaat word. Die ideaal is dat alle diere

    gelyktydig kan vreet, wat kripspasie van 300 mm tot 450 mm per dier

    vereis.

  • As hooirakke nie beskikbaar is nie, moet die bale oopgebreek en wyd
  • versprei word om diere vrye toegang te gee. Ronde bale kan oopgerol word.

  • Skaamvreters (soms tot 10 % van 'n kudde) sukkel om by droogtevoeding aan
  • te pas. Hierdie diere moet apart gevoer word. Goeie hooi moet eers gevoer

    word. Die graan- of konsentraataanvullings kan mettertyd bo-op die hooi gegooi

    word om hulle te leer om dit te vreet.

  • Bloednier kan 'n probleem wees tydens droogtevoeding weens die verandering
  • van weiding na kragvoer of van kragvoer na groenweiding nadat die droogte

    gebreek is. Diere behoort dus voorkomend ingeënt te word.

  • Vitamien A-tekorte kan voorkom wanneer diere langer as drie maande nie
  • toegang tot groen weiding gehad het nie. Dit behoort dus aangevul te

    word.

  • Droogte se enigste goeie resultaat is om diere wat swak aangepas is, uit
  • te wys. Hierdie diere moet gemerk word en later, wanneer hul kondisie verbeter

    het, bemark word.

Vroeg speen verminder druk

Die risiko van vrektes by suiplammers verhoog as hul daaglikse groeitempo minder as 100 g (kleinraamooie) of 150 g (grootraamooie) is. Hierdie risiko kan gedurende droogtes verminder word deur die lammers vroeër te speen.

Die lammers moet verkieslik minstens 20 kg weeg as hulle vroeg gespeen word. Baie sal vrek as hulle ligter as 15 kg is. Lammers wat vroeg gespeen word, moet vooraf al 'n gebalanseerde kruipvoer kry. Dieselfde voer moet ná speentyd gevoer word tot hulle minstes 30 kg weeg. Lammers behoort nie gespeen te word as hulle nog nie minstens 250 g kruipvoer per lam per dag vreet nie.

Diere wat nie markklaar is nie, moet so gou moontlik afgerond en verkoop word omdat dit meer ekonomies is as 'n onderhoudsrantsoen oor 'n lang tydperk. Die diere moet geleidelik op die voerkraalrantsoen aangepas word. Tydens die aanpassingsperiode moet genoeg vreetspasie wees sodat alle diere gelyktydig kan vreet en ruvoer moet vrylik beskikbaar wees.

Boepenslammers vaar baie swak in voerkrale en neem baie lank om af te rond.

As sjokoladegraan vir afronding gebruik word, moet ruvoer vir die volle afrondingstyd voorsien word sodat die skape na hartelus kan vreet. Lammers, veral onder 25 kg, vaar swak op sjokolademielies omdat hul inname laag is weens die harde pitte. Daarteen gee sjokoladekleingraan, veral gars, uitstekende resultate.

18 Julie 2003