Die H5N8-stam van die voëlgriepvirus het verlede jaar die eerste keer kommersiële hoenderboerderye in Suid-Afrika getref, met verliese van meer as R1,5 miljard vir die bedryf. Dit het veral die eierbedryf in die Wes-Kaap getref.

Sowat 4,7 miljoen lêhoenders in Suid-Afrika is van kant gemaak of het gevrek, terwyl die braaihoenderbedryf sowat 700 000 teelhoenders verloor het. Wêreldwyd is hoogs aansteeklike voëlgriep, wat in verskeie stamme voorkom en veral in die winter toeslaan, die afgelope vyf jaar in 68 lande aangemeld.

In Amerika het dit tot die verlies van 28 miljoen voëls gelei, hetsy weens die siekte of deurdat voëls van kant gemaak is, in Europa 13 miljoen, in Asië 67 miljoen en in Afrika 8 miljoen.

Die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) verdeel voëlgriep in twee groepe: Laag aansteeklike voëlgriep, wat min kliniese tekens veroorsaak, en hoogs aansteeklike voëlgriep, wat ernstige kliniese tekens en ook ’n hoë vrektesyfer veroorsaak.

Vir ’n hele aantal jare het die hoogs aansteeklike H5N1-stam, wat in Asië ontstaan het en nie die stam is wat verlede jaar in Suid-Afrika uitbrekings veroorsaak het nie, die meeste aandag getrek weens groot uitbrekings wêreldwyd by mak en wilde voëls. Dié stam is in 1997 in Suidoos-Asië aangemeld en het van daar na verskeie lande in Asië, die Midde-Ooste, Afrika en Europa versprei.

Dr. Fambies van Biljon FOTO: VERSKAF

Die eerste aanmelding in Afrika was in 2006 in Nigerië. H5N1, wat in sommige lande in Asië nou endemies is, is al verbind met siekte en dood by mense wat in noue kontak met besmette voëls was. Dit is nie die geval met die H5N8-stam wat in Suid-Afrika aangemeld is nie.

Volgens die OIE was die eerste aanmelding van ’n H5N8-uitbreking in 2014 in Suid-Korea. Dit is in dieselfde jaar deur migrerende voëls na Europa en Amerika versprei. Die OIE sê faktore soos globalisering, internasionale handel, markte vir lewende voëls, boerderypraktyke en die teenwoordigheid van die virusse by wilde voëls dra tot die wêreldwye verspreiding van voëlgriep by.

Wilde voëls kan die virusse in hul asemhalings- of dermkanaal dra en raak nie noodwendig siek daarvan nie, hoewel die H5N8-virus in Suid-Afrika wel wilde voëls siek laat word het. Wilde voëls versprei die siekte wanneer hulle in die winter of somer na ander wêreldstreke migreer.

Dr. Celia Abolnik, Suid-Afrikaanse voëlgriepkenner en navorser aan die Universiteit van Pretoria, het op die onlangse AVI Africa-pluimveekonferensie in Kempton Park gesê Suid-Afrikaanse wilde voëls migreer onder meer na Wes-Afrika, waar hulle in kontak kom met wilde voëls uit ander wêreldstreke wat óók soontoe migreer, en wat voëlgriepvirusse kan dra.

Die OIE sê die voorkoms van die siekte by wilde voëls word wêreldwyd gemonitor.

Uitsluiting en bekamping

In sommige lande, veral waar die siekte endemies is, word inenting teen die siekte toegelaat, maar nie in Suid-Afrika nie. Dr. Fambies van Biljon, veearts van die pluimveeprodusent Sovereign Foods, het op die konferensie gesê omdat inenting nie in Suid-Afrika toegelaat word nie en die feit dat medikasie teen die virus nie bestaan nie, is biosekerheid produsente se enigste wapen.

Biosekerheid bestaan uit bio-uitsluiting, om ’n siekte buite hoenderhuise of ’n plaas te hou, en biobekamping, om te keer dat ’n virus wat op die plaas is, na ander hoenderhuise of plase versprei. Produsente moet besef hoogs aansteeklike voëlgriep kan in ’n trop hoenders teenwoordig wees lank voordat hulle kliniese tekens daarvan toon.

“Die ontkiemingstyd is gewoonlik 3 tot 7 dae, maar dit kan tot 21 dae wees,” het Van Biljon gesê. Dit is des te meer rede waarom biosekerheid te alle tye nagekom moet word.

Wilde voëls

Die virus word nie net deur wilde, migrerende voëls tussen wêreldstreke versprei nie, maar wilde voëls is ook een van die bronne van verspreiding tussen hoenderhuise en plase. In Suid-Afrika het verskeie wilde voëlspesies verlede jaar positief vir die virus getoets.

Dit is opgespoor by ’n verskeidenheid kusvoëls, asook valke, mossies, bloukraanvoëls, vinke, uile, skoorsteenveërs, tarentale en eende.

“Dink ’n bietjie watter van hierdie voëls jy op jou plaas sien,” het Van Biljon gesê. Die mis, vere en eiers van wilde voëls – dus ook hul neste – is ’n groot risiko vir die oordrag van voëlgriepvirusse na hoenders op ’n plaas. Watervoëls kan damme, mere, riviere en stilstaande water rondom hoenderhuise besmet.

Verspreiding

Siek voëls skei die virus uit in die lug en in hul mis.

Daar is verskeie maniere hoe die virus, benewens deur wilde voëls, verder tussen hoenderhuise of plase kan versprei, soos deur lugvloei tussen hoenderhuise, besmette drinkwater, die beweging van mense tussen plase, toerusting en gereedskap, voertuie, vragmotors wat voer bring, besmette hoenderbeddegoed, die verskuiwing van eiers en die metode waarvolgens dooie hoenders verwyder word.

Van Biljon sê as ’n hoenderhuis nie behoorlik skoongemaak en ontsmet word nie, kan die virus van een produksiesiklus tot die volgende daar oorleef. Dit is belangrik dat produsente weet hoe lank die virus buite hoenders kan oorleef. Sien die tabel .

Maatreëls vir voorkoming

Wilde voëls

Die heel belangrikste voorsorgmaatreël is dat wilde voëls glad nie toegang tot hoenderhuise moet kan kry nie. “ ’n Mens moet eenvoudig nooit ’n wilde voël binne ’n hoenderhuis sien nie,” het Van Biljon gesê. Voëls moet dus nie by luggate en waaiers kan inkom nie.

Daar moet ook geen voëlneste binne of bo-op hoenderhuise wees nie. ’n Produsent moet voorsorg tref dat voer nie buite hoenderhuise gemors word nie, want dit sal wilde voëls lok. Dieselfde geld waterplasse buite hoenderhuise, wat gedreineer of weggepomp moet word. Bestry insekte en knaagdiere omdat dit ook wilde voëls sal lok. Gebruik voëlafweerders en -verskrikkers, waar nodig.

Stewels

Van Biljon het gesê die gebruik van verskillende stelle stewels vir buite en binne hoenderhuise is uiters belangrik, na sy mening belangriker en doeltreffender as voetbaddens omdat vere en mis ná ’n voetbad aan die sole van stewels bly kleef. Hy stel die gebruik van stelle wit en stelle swart stewels voor.

Swart stewels is vir buite op die plaas en elke personeellid moet sy eie stel per plaas hê, wat nooit binne-in ’n hoenderhuis kom nie. Elke werker moet dan ook sy eie stel wit stewels per hoenderhuis hê, wat hy aantrek as hy die hoenderhuis binnegaan, en wat binne die huis bly.

Water

Chloor moet, in die verhouding van 1 tot 3 dele per miljoen, tot hoenders se drinkwater toegedien word om die water te ontsmet. Die chloorvlakke moet daagliks nagegaan word.

Besoekers

Pas ’n stelsel toe dat geen besoeker op die plaas toegelaat word as hy in die drie dae voor sy besoek op ’n ander hoenderplaas was nie.

Personeel

Hulle mag nie tuis hul eie hoenders of ander voëls aanhou of in kontak daarmee wees nie.

Klere

Verskaf plaasspesifieke beskermende klere.

Stort

Elkeen wat die hoenderhuis betree, moet voor die tyd, maar óók ná die tyd stort. “Selfs as die koningin of die grootbaas van die maatskappy die hoenderhuis besoek, moet dié reël toegepas word,” het Van Biljon gesê.

Hande

Ontsmet hande met alkoholjel by die ingang tot die hoenderhuis wanneer jy in die huis ingaan en weer wanneer jy uitgaan.

Gereedskap

Ontsmet gereedskap en toerusting wat na die plaas gebring en weggeneem word. Moet nooit ’n gereedskapskis of enige gereedskap op die huisbeddegoed neersit nie. Die ideaal is om afsonderlike stelle gereedskap per plaas te hê, het Van Biljon gesê.

Twee plase

Moenie twee van jou plase op dieselfde dag besoek nie.

Voertuie

Die wiele en modderskerms van voertuie wat op die plaas aankom, moet ontsmet word. Slegs noodsaaklike voertuie moet binne die plaas toegelaat word.

Eiers

Berook eiers voordat dit na die broeiery gebring word.

Dooie voëls

Plaas dooie voëls in plastieksakke voordat jy dit uit die hoenderhuis neem en ontsmet die buitekant van die sakke.

Wanneer die siekte jou plaas tref

Selfs al kan dit soms lank duur voordat kliniese tekens en vrektes sigbaar is, moet ’n mens altyd op die uitkyk wees daarvoor. Vrektes bly die belangrikste aanduiding van ’n moontlike probleem. Ander tekens sluit in asemhalingsprobleme, ’n swakker voerinname, ’n daling in eierproduksie en puntbloedings op die bene of pote.

Hoe meer hoenders siek word, hoe vinniger versprei die siekte. Van Biljon het as voorbeeld vertel hoe vinnig vrektesyfers verlede jaar in ’n hoenderhuis met teelmateriaal vir braaihoenders versnel het. Normaalweg vrek 5 hoenders per dag. Die vrektes het gestyg van 5 hoenders per dag tot 33 hoenders die volgende dag en 267 hoenders die dag daarna.

Die toename in vrektes was onder henne sowel as hane. Sodra dit drie keer soveel as gewoonlik is, selfs dubbel soveel, moet nadoodse ondersoeke gedoen word om die oorsaak van die vrektes te bepaal.

Sodra hoogs aansteeklike voëlgriep gediagnoseer is, is dit uiters belangrik om vinnig op te tree: Die betrokke trop hoenders moet binne 48 uur van kant gemaak word. ’n Bees-burdizzo (kastreertang) kan gebruik word om die hoenders van kant te maak.

’n Mens het ’n span van vier mense per burdizzo nodig: Een om die burdizzo te hanteer, een om die hoender vas te hou, en twee om hoenders te vang. Met ’n burdizzo kan ’n mens volgens Van Biljon sowat 400 hoenders per uur van kant maak. Hy het egter gesê dat Suid-Afrika ander, beter metodes moet ondersoek.

Personeel van die Georgia Poultry Laboratory Network in Atlanta, Amerika, gebruik brandbestrydingskuim om hoenders van kant te maak. FOTO: CARIEN KRUGER

In Amerika word brandbestrydingskuim gebruik. Dit werk vinnig en net een of twee mense is nodig om die werk te doen. Dit kan net gebruik word waar hoenders op die grond aangehou word, nie waar hoenders in hokke bo die grond is nie.

Van Biljon sê dit is belangrik om reeds vóór die siekte jou plaas tref, ’n plan gereed te hê oor hoe jy hoenders van kant gaan maak, asook ’n plan vir die opruiming van die karkasse, soos om dit te begrawe of te komposteer. Dit is verder goed om die staatsveearts in jou omgewing te ken omdat die plaas in kwarantyn geplaas gaan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.