Mnr. Mongezi Menye, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse veeartsenykundige raad (SAVC), sê dit is belangrik dat boere nou biosekerheidsmaatreëls toepas om die verspreiding van siektes te stuit.

Hy sê die toepassing van goeie biosekerheidspraktyke op elke vlak van ’n boerdery is die beste manier om dit te doen. “Vinnige en eenvoudige maatreëls wat deel vorm van daaglikse praktyke op ’n plaas, sal boere se finansiële langlewendheid verseker deur die verlies van diere weens siektes te beperk.”

Die doel van biosekerheid is om risikobewustheid te bevorder en maatreëls daarvolgens toe te pas wat nuwe siektes keer voor hulle deur die plaasingang kom. Dit neem nie net die aankoop van nuwe vee in ag nie, maar ook die vervoer van diere, mense, toerusting en voertuie.

Biosekerheidsreëls vir veeagente is op 13 November 2020 in die Staatskoerant afgekondig. Die reëls probeer verseker dat die Suid-Afrikaans vee- en wildbedryf voldoen aan die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se riglyne en dat spesifieke veiligheidsmaatreëls op veilings toegepas word om die verspreiding van siektes tussen diere te beperk.

Menye sê boere kan die volgende praktiese riglyne gebruik om biosekerheid op hul plase te bevorder:

• Gaan nuwe diere se gesondheid na voordat hulle gekoop word;

• Stel ’n biosekerheidsbeampte aan wat by die SAVC geregistreer is;

• Koop slegs nuwe diere deur agente aan wat by die landbouprodukte-agenteraad (Apac) geregistreer is;

• Hou nuwe diere vir 14 dae apart van jou ander vee sodat hulle gemonitor kan word en daar genoeg tyd is vir simptome van enige siektes om duidelik te word;

• Pas ’n gestruktureerde immunisasieprogram toe om diere se gesondheid en welstand te onderhou, asook die oordrag van siektes tussen troeteldiere en vee te verminder.

Menye waarsku dat hoewel die toepassing van ’n biosekerheidsplan duur kan wees, dit ’n boer nie naastenby so baie sal kos as om sommige of al sy diere weens siektes te verloor nie. “Terwyl die volg van ’n deeglik ontwerpte biosekerheidsplan nie ’n absolute waarborg is dat aansteeklike siektes nie ’n plaas kan bereik nie, kan boere nie bekostig om die voordele daarvan te ignoreer nie.”

Volgens Menye is die bevordering van biosekerheid alle belanghebbendes in die landbousektor se verantwoordelikheid. “Hoewel siektes steeds hul weg na jou plaas kan vind, is vroegtydige optrede die beste manier om die verspreiding van siektes te stuit en te verseker dat daar nie ’n finansiële implikasie vir al die boere in Suid-Afrika is nie.”

Hy meen die voordele van gesonde diere is nie net vir verkopers van belang nie, maar speel ook ’n belangrike rol in die besluite wat verbruikers neem wanneer hulle inkopies doen. “Verbruikers wil gemoedsrus oor die gesondheid van vee hê. ’n Opbouende verhouding tussen kopers en verkopers sal tot die bedryf se voordeel wees.”