Die Bobaas-Boerbokveiling, ’n gesamentlike veiling van die Lukas Burger-Boerbokstoetery van Griekwastad in die Noord-Kaap en die Rietkuil-Boerbokstoetery van Philippolis in die Vrystaat, sou aanvanklik by die Afridome op Parys aangebied word, maar weens die veilingsverbod ná die bek-en-klouseeruitbreking moes die verkopers ’n ander plan maak.

BKB werk al byna drie jaar lank aan ’n digitale veeveilingsplatform, wat deel vorm van sy program vir lewendehawe-naspeurbaarheid, saam met sy bestaande blokketting- en radiofrekwensie-identifikasie-tegnologie.

Volgens dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder vir vee, eiendomme en afslaers by BKB, is die platform uniek omdat dit die gewone ope-roepveiling (open cry) op ’n digitale platform dupliseer.

OMSET VERDUBBEL

Op die veiling van 15 Februarie is die twee duurste ramme vir onderskeidelik R110 000 en R100 000 verkoop. Ramme is teen gemiddeld R29 900 en ooie teen gemiddeld R19 027 verkoop. Die veiling se omset van R2,3 miljoen was bykans dubbel die omset in 2019.

Altesaam 65 geregistreerde bieërs het aanlyn deelgeneem, met 955 aanvaarde internetaanbiedinge en 915 mense wat aanlyn op die veiling ingeskakel het. ’n Koper uit Taiwan het ook aan die veiling deeelgeneem.

KOMMERSIËLE PLANNE

Al is die veiling aanlyn aangebied, is die formaat van tradisionele veilings behou omdat die afslaer uitgesaai kon word.

“Dit is ’n bonus dat ons ’n afslaer en veilingsklerk aktief deel van die veiling kon hou. Só kon ons die veiling meer aktief deur die bie- proses bestuur,” sê mnr. Jaco Maass, bestuurder van BKB Shift, wat verantwoordelik is vir BKB se digitale landbou-oplossings.

Die platform kan op ’n lae bandwydte funksioneer sodat ’n groot groep bieërs kan inskakel. Kopers kan ook via die platform met ’n veilingsklerk en die afslaer kommunikeer met vrae oor die diere of om inkremente te verhoog. ’n Digitale veilingkatalogus bevat die dier se Stamboekdata en ’n generasiestamboom, saam met ’n skakel na ’n video van elke lot.

Maass sê daar word beoog om soortgelyke data vir produksiediere te verskaf, sodat ’n koper vooraf kan spesifiseer hoeveel diere van watter geslag hy wil hê, van watter gewig en watter afwyking van die gewig af in die voorbeeld van speenkalwers.

BKB beoog om in April die eerste kommersiële digitale veiling aan te bied.