“Die opwindende ontwikkeling is ’n belangrike mylpaal in die reis van ons lewendehawebesigheid,” sê dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder van BKB se veebemarkingsafdeling.

“Ons het oor die afgelope dekade die Oos-Kaapse produsente suksesvol bedien. Die inisiatief met Robcaw onder die leierskap van Gary Cawthorn pas in by ons hernude strewe na ’n klem op gehalte-kliëntediens. Dit sal ondersteun word deur ons groep se leidende tegnologiestelsels. Die kliëntegesentreerde visie vorm die platform vir die gesamentlike handelsmerk van BKB-Riverview en Robcaw. Dit sal op die oostelike distrikte van die Oos-Kaap konsentreer, met Stutterheim as basis.”

Die inlywing bied vir BKB die geleentheid om opnuut op die bemarking van groot- en kleinvee te konsentreer in die oostelike dele van die Oos-Kaap.

“Die gesamentlike handelsmerk en gekombineerde bedryfsinisiatief verteenwoordig ’n beduidende stap na ’n hernude klem op uitnemende diens vir BKB-Riverview Robcaw. Ons herdefinieer wie ons is, dryf verandering aan en vorm die toekoms. Ons handelsmerk-etos was nog altyd gebou op vertroue, kredietwaardigheid en bedryfskennis; wat ons besighede vir menige jaar naatloos laat funksioneer het. Ons is trots op ons verhouding met ons kliënte en ons verbintenis tot ’n volhoubare omgewing teen die agtergrond van ons unieke Oos-Kaapse produksiegemeenskap en innoverende boerderytegnieke en ongerepte graslande.”

Die gebied grens aan die kommunale areas van die voormalige tuislande. BKB-Riverview Robcaw is reeds in die gebied betrokke by die bemarking van lewende hawe en wol.

“Dit verg ’n unieke benadering gegrond op ’n individuele produsentebasis. BKB het jare lange ondervinding in hierdie gebied.”