Perd en donkie se kind is nie sommer 'n hierjy nie. Boonop kan heelwat geld uit die teel daarvan gemaak word. 'n Kenner verduidelik hoe daar te werk gegaan moet word om muile te teel en reg af te rig.

Toe mnr. Piet Brits van Stillerus, naby Douglas, onlangs 'n geleerde paar muile vir R6 840 in Landbouweekblad geadverteer het, was hy verstom oor die reaksie. Van oor die land het belangstellendes geskakel. Een voornemende koper het selfs 'n veearts gestuur om vas te stel in watter kondisie die diere was.

Ook by die Trekdiersentrum by die Fort Hare-universiteit op Alice vestig die akademici deesdae hulle hoop op trekdiere om in die ontwikkelende dele van die land letterlik die wa deur die drif te help trek. Die Oos-Kaap se regering het onlangs uit Brasilië 'n reeks ligte werktuie ingevoer wat uitsluitlik vir trekdiere ontwikkel is.

Verskeie kommersiële boere wend reeds muile suksesvol in hul boerdery aan. Hulle word veral gebruik om met 'n karretjie voer en veelekke na relatief onherbergsame dele op die plaas te neem.

Kapt. Rassie Erasmus (46) van die vee-diefstaleenheid op Queenstown meen muile is van die beste trekdiere in Afrika. Hulle is uiters intelligent en ook baie sterk. Sedert hy vier jaar gelede begin het om dié diere te teel en af te rig, was hy verstom om te sien hoe maklik hulle onthou wat van hulle verwag word.

Tydens Landbouweekblad se besoek kon daar gesien word hoe 'n tweejarige vul, wat vier dae vantevore nog wild in die veld geloop het, na slegs drie lesse elke opdrag tot die letter uitgevoer het. Dit het gelyk of die muilvul Erasmus eerder as haar ma aanvaar het. Die vul het hom blindelings gevolg, selfs nadat die halter verwyder was.

Erasmus meen 'n muil bied die beste van albei spesies en toon nie een van die swak eienskappe van hul ouers nie. Hulle het die uithouvermoë en verdraagsaamheid van 'n donkie en die intelligensie en krag van 'n perd. "Waar 'n perd hom sal doodvreet aan 'n sak hawer, sal 'n muil net vreet tot hy versadig is en daarom kry hulle ook nie koliek nie."

Waar kwalik met vee naby sekere woongebiede geboer kan word, word muile nie maklik daar gesteel nie. 'n Muil sal nie net met die voornemende dief afreken deur hom katswink te skop nie, maar hul vleis word ook deur die meeste mense verafsku. Gevolglik spring hulle slag vir die pot vry.

Erasmus, wat versot is om perde af te rig (die Xhosa verwys na hom as Mahashe wat "perd" beteken), sê die grootste verskil tussen muile en perde is dat wanneer 'n fout gemaak word met die afrigting van laasgenoemde, dit mettertyd reggestel kan word. 'n Muil wat een keer verkeerd geleer is, kom egter selde weer reg.

Die teel van muile is 'n groot leerproses. "Daar is perdemerries wat, sodra hul op hitte kom, dadelik toelaat dat die donkiehings hulle dek. Dan is daar dié wat die donkie só skop tot hy heeltemal belangstelling verloor. Soms sal 'n perdemerrie wat die een jaar weier om deur 'n donkie gedek te word, die jaar daarna heeltemal gewillig wees."

Hy meen as 'n muil die dag befoeterd is en nie met die eerste probeerslag ingespan wil word nie, dit beter is om die dier vir die dag te los. "As hulle sagkens hanteer word, sal hulle gewoonlik die volgende dag doodluiters stilstaan om ingespan of opgesaal te word."

Hy het baie keer gesien hoe muile in die bosboubedryf sonder begeleiding boomstompe tussen twee punte sal sleep. "As middagete egter aanbreek, sal hulle verseg om 'n tree te gee totdat die werkers weer om 14:00 inval. Kom die middag vieruur, sal hulle ook net daar besluit dat hulle genoeg vir die dag gewerk het."

Erasmus verkies om muilvullens op die ouderdom van ses maande te speen. Hierna word hulle met 'n wit perdemerrie in die veld laat loop. Hoewel hy nie 'n verklaring daarvoor kon vind nie, is die muil vulletjies rustiger wanneer hulle saam met 'n wit of skimmelmerrie loop. In Amerika, waar muile jare gelede op groot skaal geteel is om in die mynbedryf te werk, was 'n klok om 'n perdemerrie gehang wat saam met hulle in die veld geloop het. Sodra die merrie (daar word na haar as die "bell mare" verwys) gevang word, sal die muile haar volg.

Erasmus bring sy muile op tweejarige ouderdom die eerste keer na die stal vir afrigting. Hulle kan met 'n vangriem gevang word. Hyself verkies om hulle eerder na 'n drukgang te bring waar 'n touhalter om die dier se kop gesit word. Die muil word hierna in 'n ring met 'n deursnee van 14 meter, wat met hoë houtpale omhein is, gebring. "Die geheim is om naby genoeg aan die dier te wees om goed met hom te kommunikeer, maar ook ver genoeg sodat hy jou nie kan raak skop nie. Die voordeel van 'n ring is dat daar nie enige hoeke is waarin die afrigter vasgekeer kan word nie. Dit is ook belangrik dat die omheining hoog en dig genoeg is sodat die dier wat afrigting kry se aandag nie deur ander bewegings buite versteur word nie."

Erasmus se afrigtingsmetode berus op 'n speletjiebeginsel. Druk word op die diere uitgeoefen, maar hulle word ook beloon, sodra hulle reg op 'n bevel reageer. Die dier word aanvanklik in die rondte gejaag totdat hy vassteek en hom reguit in die oë kyk. "Eintlik sê die dier op dié stadium hy is moeg." Terwyl hy die muil in die oë kyk, beweeg hy stadig nader en heg 'n polipropileentou aan die halter.

Hierna word die dier weggejaag, maar die tou word dadelik weer styf getrek. Die speletjie word herhaal totdat die afrigter en dier oogkontak maak. Bloot deur die tou met sirkelbeweging aan die agter- of voorkant van die muil te swaai, word hulle geleer om links of regs in die arena te hardloop.

Erasmus gebruik 'n leë graansak om die muile te sensibiliseer (gevoelig te maak) en te desensibiliseer (ongevoelig te maak). Aanvanklik sal die muil skrik en na agter beweeg. Die halter word stewig vasgehou terwyl die sak met stadige bewegings eers rondom die kop, pens, stert en ore gevryf word.

Wanneer die dier rustig hierop reageer, word 'n lus om die agterste kootgewrig gespan en styf getrek. Die muil se eerste reaksie is om die tou te probeer afskop. Sodra die dier skop, word die tou dadelik skiet gegee. Die doel van die oefening is om die muile te leer om hul bene op te lig sodat hulle nie in die trektoue verstrengel raak nie.

Die volgende stap is om 'n klaptoom oor die muil se kop sit. Dié toom bly aan terwyl die dier gevoer word. Wanneer die afrigting die volgende dag voortgaan, word die toom verskeie kere afgehaal en aangesit. Hierna word 'n ligte saal op die muil se rug geplaas en word die klaptoom met 'n gewone toom vervang. Die muil word dan in die ring met 'n sagte tipe trens gestuur. Die prosedures word vir 'n week lank herhaal.

Die vier basiese bevele wat Erasmus die muile leer is "whou" (vir stop), "back", "come here" en "up" (vir vorentoe). Sodra 'n muil met die bevele vertroud is, word 'n tuig met 'n lang tou aan hulle geheg. Die bevel "up" word gegee, terwyl die tou effens styf getrek word. Indien die muil vassteek, word die tou verslap en die bevel "up" gegee. "Kort voor lank word dit 'n speletjie en sleep die muil die volle gewig van die afrigter wat aan die tou vashou." Ná 'n paar dae word 'n trekkerband aan die tou vasgemaak.

Erasmus sê muile kan in minder as twee maande geleer word om 'n karretjie te trek en kan ná drie maande ingespan word om enige werktuig te trek. "Baie hang natuurlik daarvan af of die dier die ma se geaardheid het. As die ma 'n nuk het, word dit dikwels ook na die muilvul oorgedra en duur die opleiding langer." Dit is ook belangrik dat die afrigter sy tegnieke gereeld afwissel om dit vir die dier interessant te hou.

"Muile moet nooit ooreis word nie. Dit is dan dat hulle steeks raak." Om muile aan te moedig om na 'n stal te kom, beveel hy aan dat hulle daar gevoer word. "Dit is belangrik dat hulle 'n aangename assosiasie met 'n stal of arena het waar die afrigting plaasvind."

Erasmus is oortuig dat die afrigting van muile baie nuwe werkgeleenthede veral in die kommunale dele van die land sal kan skep. Daar kan ook geld met die teel en verkoop van die diere gemaak word, aangesien daar vir 'n geleerde muil tot R5 000 betaal word. Hy is besig om saam met die Trekdiersentrum op Fort Hare 'n video oor die afrigtingmetodes saam te stel.

Hy benadruk dat die metodes wat hy toepas, 'n kombinasie van tegnieke van ander groot leermeesters is.

Die mense is sy pa, wat hom 'n liefde vir diere geleer het en vier bekende Amerikaners — Charles Williamson, Buck Brannaman, Pat Perrelli en Monty Roberts — wat almal handleidings oor die afrigting van perde geskryf het.

  • Navrae: Kapt. Rassie Erasmus, sel 082 779 7239, faks 045 839 4433.
  • Wat is 'n botterkop?

    'n Muil is 'n kruising tussen 'n donkiehings en 'n perdemerrie. Waar die pa 'n perdehings is en die ma 'n donkiemerrie, word die nakomeling 'n botterkop (Hinnie) genoem. Vir alle praktiese doeleindes word na albei afstammelinge as muile verwys.

    'n Muil se ore is gewoonlik ietwat kleiner as dié van 'n donkie, maar het die vorm van dié van 'n perd. Die bouvorm van die muil is 'n kombinasie van die eienskappe van albei ouers. Die kop, heupe en bene lyk meer soos dié van 'n donkie. Anders as perde, het muile nie 'n tipiese nekbuiging nie, selfs nie as hulle uit Arabiere en die Warmbloed geteel word nie.

    Die haarkleed is 'n kombinasie van albei ouers. Bruin en ligbruin is egter betreklik algemeen. Muile het growwe maanhare, maar die stert lyk meer na dié van 'n perd. Die skree van 'n muil is 'n mengsel van die brei van 'n donkie en die runnik van 'n perd. Die klank is dus uniek.

    Die grootte van muile wissel ook aansienlik. Oor die algemeen is botterkoppe effens kleiner as muile. Hoewel muile nie kan voortplant nie (daar is enkele gevalle opgeteken waar hulle nakomelinge gehad het), het hulle 'n normale seksdrang. Dit word aanbeveel dat 'n muilhings op ses maande gekastreer word. Daar word ook beweer dat 'n muil wat nie gekastreer is nie, 'n swak trekdier is.

    Die beste kruisings is dié tussen 'n Spaanse of Kataloniese donkiehings en 'n perdemerrie wat 'n kruising tussen 'n kwart Percheron en 'n ligte tipe ryperd is. Die ideale gewig vir trekmuile is tussen 450 kg en 500 kg.

    Muile kan as ry-, pak- en trekdiere aangewend word. Weens basterkrag het hulle 'n baie goeie konstitusie en kan tot 30 jaar goed gebruik word. Hoewel muile die gewone perdesiektes kan kry en voorkomend behandel moet word, het hulle selde spysverteringsprobleme. Hulle toon ook 'n sterk weerstand teen bosluis-oordraagbare siektes.

    26 Maart 2004