’n “Rolls-Royce-koei” lewer elke jaar ’n fris speenkalf. Vir dié koeie moet die seleksieklem op reproduksie (tien keer belangriker as enige ander eienskap), aanpasbaarheid, geboorte- en volwasse gewig, kalfverlies en moederlike vermoë wees. Daarvoor is metings belangrik vir die stoet- én kommersiële beesbedryf.

Die belangrikste bepaling is inset (koeigewig) teenoor uitset (speenkalf). Reproduksie bepaal die boer se inkomste, dus hoeveel speenkalwers daar is. ’n Tussenkalfperiode (TKP) van so naby aan 365 dae as moontlik moet die mikpunt wees om sulke koeie te selekteer.

Die Suid-Afrikaanse speenkalfproduksiestelsel lê groot klem op die belangrikheid van ’n doeltreffende koeikudde. Hoe meer speenkalwers ’n boer lewer, hoe meer geld maak hy. Reproduksie is dus belangrik, terwyl die ander gewenste eienskappe veldaanpasbaarheid, melkproduksie en oorlewing vanaf geboorte tot speenouderdom is.

Voeromsettingsverhouding (VOV) word ook aktief geëvalueer sodat die boer nageslag kan lewer wat minder voer nodig het om ’n sekere gewigdoelwit te bereik – dus laer voerkoste en gevolglik meer wins. In sekere groot kuddes in Amerika neig die verhouding reeds na onder 5 kg voer vir 1 kg vleis geproduseer (5:1).

Dit is egter nog ver van visboerdery, waar die verhouding bykans 1:1 is.

Mnr. Danie Bosman

INKOMSTE 31% HOËR

Die inkomste uit speenkalwers in ’n ekstensiewe boerdery met ligter koeie kan tot 31% hoër as met swaarder koeie wees. ’n Koei wat 450 kg weeg, benodig 13,5 kg kos per dag vir onderhoud en produksie, teenoor ’n koei van 600 kg wat 18 kg voer nodig het.

Die ligte koei speen ’n kalf van sowat 200 kg (’n koei-tot-kalfverhouding van 44%) en ’n swaar koei se speenkalf weeg ongeveer 240 kg (40%). Die ligte koei se kalf-tot-koeiverhouding is dus 4% beter as dié van die groter koei. Kalfverliese moet so laag moontlik wees omdat dit die uitset nadelig beïnvloed.

Bosman het gesê meer kalfvrektes kom by koeie met swaarder moeders voor as by ligter koeie. In ’n sekere kudde het die vrektesyfer by groot koeie 8,3% beloop en by mediumgroot koeie 2,6%. By ligter koeie (400-450 kg) het geen vrektes tot op speenouderdom voorgekom nie.

Indien die TKP, kalfvrektes en koeigewig in ag geneem word, was die produksie per grootvee-eenheid (GVE van 450 kg) by die groter koeie in hierdie ontleding 176 kg, by mediumgroot koeie 205 kg en by ligter koeie 231 kg. Die inkomste uit die ligter koeie was dus 31% hoër as uit die swaarder, groter koeie.

Bosman het gesê hy het 25 jaar se ge- gewens van ’n bepaalde beesboerdery in die noordelike Bosveld geëvalueer. Die dragtigheid was aan die einde van hierdie tydperk 90%, die TKP 374 dae, die veldbelading 8 ha/GVE, die gemiddelde speengewig 247 kg en die volwasse koeigewig 570 kg.

Die kalfvrektes het egter van 4% tot 10% toegeneem.

“Die gevolgtrekking is indien die weiding in ’n ekstensiewe boerdery beperk is, word die interne fisiologiese balans van die dier versteur. Die groot koei kan duidelik nie genoeg kos uit die natuurlike veld kry nie. Dan moet sy van iets ontslae raak, want haar liggaam deurstaan die kalf. Dan vrek die kalf in menige geval met geboorte of kort daarna,” het Bosman verduidelik.

Die ligter koei van 450 kg kry nog genoeg kos in die veld en sal haar kalf behou en grootmaak, maar die koei van 600 kg kan dit in baie gevalle nie doen nie. Daarom het meer kalwers in hierdie geval met geboorte gevrek.

KOEIGEWIG BEPAAL BELADING

Boere moet hul veldbelading volgens hul koeie se gewig bepaal en nie bloot aan die hand van GVE/ha nie, het hy gesê. ’n GVE is tipies ’n koei van 450 kg, maar boere is geneig om te aanvaar dat elke koei gelykstaande aan 1 GVE is.

Op ’n plaas met genoeg weiding behoort die veldbelading met kleiner koeie (400 kg) 11,1 ha/GVE te wees – dus 180 koeie op 2 000 ha met ’n getalindeks van 135. Die belading met mediumgroot koeie (500 kg) moet 13,2 ha/GVE, wees – dus 152 koeie per 2 000 ha en ’n indeks van 114.

Die belading met swaarder koeie (600 kg) moet 15,1 ha/GVE beloop – dus 133 koeie op 2 000 ha met ’n indeks van 100. Dié plaas kan dus 35% meer ligte koeie van 400 kg as groot koeie van 600 kg dra. Die produksie per GVE sal ook heelwat hoër met ligter koeie wees omdat meer koeie aangehou kan word, met ’n gevolglike beter TKP en minder vrektes vanaf geboorte tot speenouderdom.

Drakensbergers is by die Winton-boeredag vir die praktiese demonstrasies gebruik. Bosman het gesê Drakensberger-bulkalwers het die afgelope vyf jaar gemiddeld 221 kg op 205 dae geweeg. Die koeie het 490 kg geweeg, met ’n TKP van 424 dae en vrektes voor speenouderdom van 2,8%. Teen ’n prys van R35 per kg kalf gespeen, is dit ’n stewige inkomste van R7 735 per kalf.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.