Regter Elmarie van der Schyff het in die Gautengse hooggeregshof met koste ten gunste van die SABBS beslis dat die telersgenootskap ten volle geregistreer is en dat sy grondwet met sy rasstandaarde aanvaar word.

Die uitspraak beëindig ook die geding of swart Boerboele ingevolge die SABBS se rasstandaard wettig geteel, as rasegte Boerboele verkoop en gekeur mag word en aan skoue mag deelneem.

Dit volg nadat die departement van landbou, bosbou en visserye ingevolge die Wet op Diereverbetering (Wet 62 van 1998) verklaar het dat die swart Boerboel nie as ’n rasegte Boerboel erken word nie.

Mnr. Joel Mamabolo, registrateur van diereverbetering, het volgens Van der Schyff se uitspraak sy bevoegdheid oorskry deur sy vorige beslissings oor die genootskap te herroep.

Die SABBS het die saak vervolgens op appèl geneem, wat Mamabolo met koste verloor het. Hy het die SABBS en die appèlraad hof toe geneem om sy vorige besluite ten opsigte van die genootskap en sy registrasie en dus ook sy grondwet gekondoneer te kry.

Die registrateur se kantoor het nog nie die SABBS se regs- koste in die appèlraad-saak betaal nie.

TEENKANTING

Mnr. Koos van der Westhuizen, een van die stigterslede van die SABBS, sê daar kan bespiegel word dat die telersgroepe wat teen die swart Boerboel gekant is, aanleiding gegee het tot die pogings om die SABBS te ondermyn.

Die Boerboel is as ’n inheemse landras verklaar, wat beteken die diere mag nie sonder ’n permit van die registrateur se kantoor uitgevoer word nie.

Die swart Boerboel het die afgelope tyd baie gewild geraak, selfs in Amerika en Europese lande, met groot bedrae geld wat betrokke is.

Volgens Van der Westhuizen gaan die SABBS weer om uitvoerpermitte aansoek doen en as dit sonder geldige redes afgekeur word, sal siviele eise teen Mamabolo waarskynlik volg.