Die hoogste prys vir ’n ram was R85 000, die eiendom van Newgro-boerdery van die Karstengroep van Kanoneiland.

Die koper is mnr. Rod Gardner, ’n Nieu-Seelander wat boerderybelange in Thailand het. Die naasduurste ram was R80 000 wat vir ’n Boerbok van mnr. Johan Strauss van die Rietkuil-stoetery by Philippolis betaal is. Die koper is mnr. Joubert Horn van Van Zylsrus. ’n Ram van mnr. Lukas Burger se Kleinbegin-trust is vir R65 000 aan mnr. Kala Faheem van Gaborone, Botswana, verkoop.

Slegs 44 ramme van die aanbod van 49 is verkoop. Die omset van R1,1 miljoen beteken ’n gemiddelde prys van R25 000.

Volgens mnr. Gerrie Ferreira van Karoo Lewende Hawe van Oudtshoorn het hy vyf ramme vir Gardner aangekoop. Gardner se stoetery is met behulp van die genootskap in Suid-Afrika geregistreer en sy eerste ooie is reeds na Thailand uitgevoer. “Gardner is in sy skik met die diens van die genootskap en dat hy as boorling van Kiwiland soos ’n Springbok in Suid-Afrika behandel word,” sê Ferreira.

Die duurste ooi was een van die Nico Botha-Boerbokstoetery van Britstown wat vir R82 000 aan André Kock en Seun verkoop is.

BKB het die veiling aangebied en mnr. Danie Strauss was die afslaer.