Burger is een van die land se voorste telers en sy Boerbokke het al herhaaldelik op nasionale kampioenskapsbyeenkomste uitgeblink.

Die koper is die oud-apteker mnr. Boeram Venter en sy twee seuns, Nico en Leroux, wat op drie plase in die Coerney-vallei in die Oos-Kaap boer. Hulle diversifiseer ook met braaihoenders, ’n Bonsmara-stoetery, wild, kompos en toerisme. Boeram is in 2013 as die Oos-Kaapse Boer van die Jaar aangewys.

Die rekordbedrag het die gemiddelde prys van Burger se 44 ramme tot R63 272 elk opgestoot. Hoë pryse van R320 000 (die ram Corola), R200 000 elk vir die ram Apes en nog ’n ram en R130 000 (lot 5) is vir die naasduurste ramme betaal.

Mnr. Martin Compion, distrik Upington, het die hoogste prys van R65 000 vir ’n ooi betaal, met die twee naasduurste ooie R60 000 elk, gekoop deur mnre. Johan Strauss (Rietkuil) en Connie Coetzee (Prieska).  Altesaam 58 ooie is teen ’n gemiddelde prys van R31 172 elk verkoop.

Die veiling is gesamentlik deur GWK en André Kock en Seun aangebied met CDP Auctions wat die aanlyn veiling behartig het. Die afslaer was mnr. Deon Klopper.