Sukses word nie uit die lug gegryp nie, en vennootskappe en ’n klein, toegewyde werkerskorps is twee stewige fondamente van die dubbelbekroonde Afrikan Farms. Nie net is die boerdery as die Landbounavorsingsraad se Nasionale Kommersiële Beesvleisprodusent van die Jaar aangewys nie, maar ook op die afgelope Aldam-veeskool as die plaas wat die afgelope tien jaar die meeste gevorder het.

Die stigter en voorsitter van Afrikan Farms, naby Amersfoort in Mpumalanga, is mnr. Vusi Khanyile, ook stigter van die Thebe-beleggingskorporasie. Khanyile, wat onlangs as uitvoerende voorsitter van Thebe afgetree het, het in 2000 begin boer. Vandag besit Afrikan Farms 4 500 ha en huur 1 500 ha by. Hiervan is 1 100 ha onder mielies en sojabone, en 180 ha is Eragrostis-weiding. Oeste van hierdie lande word op die plaas gebruik en ook bemark.

Die kudde bestaan uit 2 000 Beefmaster-tipe koeie (waaronder 1 200 teelkoeie). Ander vertakkings is ’n voerkraal met plek vir 400 beeste, 1 300 Dormer-teelooie, ’n voerkraal vir speenlammers en 4 ha onder appelbome. Die appelbome is in 2017 aangeplant en aanplantings word vir die volgende vyf jaar beoog.

Die bestuurder van die maatskappy se vleisbeesafdeling, mnr. Nsika Shabalala, het in 2011 by die boerdery aangesluit nadat hy in 2010 sy studie aan die Landboukollege Cedara voltooi het.

“My doel is om die beste beesboer op die Hoëveld te word en die afgelope agt jaar het dit my groot bevrediging verskaf om ons Beefmastertipe kudde te bestuur en te sien hoe ons beeste verbeter en by die omgewing aangepas het. “Hierdie eerbewys gee erkenning aan ons hele span, want elke afdeling se sukses hang saam met dié van ander afdelings.”

Mnr. Vusi Khanyile

Kudde fyn bestuur

Die span het suksesvolle, gevestigde beesboere geraadpleeg om kennis in te win en het daarop gekonsentreer om goeie bulle te koop en kunsmatige inseminasie (KI) met die beste beskikbare semen te doen. “Ons koop semen van boere soos Vaughn Skead van Estcourt, KZN, en Beefmaster-bulle van boere soos George Shawe in die Bloedrivier-gebied van KZN om ons kudde te ontwikkel.”

Volgens Shabalala mik hulle vir mediumgrootte beeste – hul volwasse koeie weeg sowat 500 kg en die bulle 700 kg. “Ons bring die koeie kraal toe wanneer ons hulle vir KI moet sinchroniseer, en wanneer hulle gedip, gedoseer en ingeënt moet word. Hulle word ingespuit met Multimin® (reg.nr. G2144, Wet 36 van 1947) en vitamien A en ons behandel hulle vir onder meer lewerslakke, bosluise, brucellose, rooiwater en hartwater.”

Shabalala verduidelik dat hulle die koeie in afsonderlike kuddes en kampe hou volgens hul fisiologiese status.

“Ons het ’n groep van sowat 300 speenverse en ’n ander groep van sowat 300 verse wat die eerste keer op sowat 18 tot 24 weke gepaar word, na gelang van hul gewig. Hulle moet nie ligter as 320 kg wees voor hulle gepaar word nie. Dan het ons ’n groep van sowat 140 verse wat vir die eerste keer kalf, ’n groep van sowat 500 wat vir die tweede of derde keer kalf en ’n volwasse groep van sowat 700 koeie.”

Hy sê hy gebruik ’n kaart om die beeste se verskuiwing tussen die kampe, tussen 50-200 ha groot, te rig. “Ons het suurveldweiding, wat oorheers word deur rooigras (Themeda triandra) en dekgras (Hyparrhenia hirta). Ons winters is straf. In die winter of tydens langdurige droogtes gee ons aanvullende lekke en hooi.

“In die winter gebruik ons voorafgemengde Voermol 450 (reg.nr. V4676) met bykomende mielies teen ’n gemiddelde daaglikse inname van 1 kg tot 1,4 kg per dier. Ons tegniese afdeling baal sowat 3 000 bale Eragrostis per jaar en hou dit vir wintervoeding. Ons begroot sowat twee bale per koei per dag vir die twee strafste wintermaande. Dié afdeling maak ook jaarliks mieliekuilvoer van sowat 50 ha mielies. In die somer gebruik ons ’n 50:50-fosfaat-soutlek.”

Shabalala sê al hul nie-vervangingsverse word na die voerkraal op die plaas gestuur, waar hulle vir 90 tot 120 dae bly voor hulle geslag word. “Die bestuurder van die voerkraal is mnr. Sibongeleni Mathenjwa, wat reeds sedert 2004 by Afrikan Farms werk nadat hy aan die Landboukollege Owen Sithole in Empangeni in KZN studeer het.”

Die skaapboerdery staan onder leiding van die hoofbestuurder van Afrikan Farms, mnr. Phakade Khanyile, wat in 2013 by die maatskappy aangesluit het. Voor dit het hy in die vleisbedryf in Newcastle in KZN gewerk. Nadat hy vier jaar gelede met Dormers begin boer het, is daar vandag 1 300 teelooie. Daar is twee lamtye, in die lente en herfs.

KI word meestal toegepas, en die vatpersentasie van 85 verbeter elke jaar. Hulle mik na ’n lampersentasie van 130. Phakade is Vusi se seun en Nsika is sy neef, maar hulle kry geen spesiale behandeling nie. Hulle moet hul waarde vir die besigheid bewys as deel van die span en vennootskap.

Vennootskappe neem jou verder

Wat gewasproduksie betref, werk Afrikan Farms saam met hul bure, die gevestigde mielieboere mnre. Dolf en Thys Bam. “Ons kombineer ons bewerkbare grond met hulle s’n vir skaalekonomie en het baie belê in gepaste toerusting,” sê Shabalala. “By Afrikan Farms is ons etos dat as jy ver wil gaan, jy saam met ander moet gaan, en wat mielies en sojabone betref, sou ons nie sonder ons bure gewees het waar ons vandag is nie.”

Onder die vaandel van die maatskappy WeGrow Farming verbou dié vennote mielies en sojabone op 1 600 ha hoëpotensiaalgrond, wat deel is van 6 200 ha grond wat deur die aandeelhouers besit word. WeGrow huur die grond van die aandeelhouers om mielies en sojabone te verbou. Op die vennote se visier is ’n varkvertakking wat ten volle in produksie gaan wees in Augustus 2020.

Goedkeuring is reeds gegee vir ’n sogeenheid van 9 600, waarvan die eerste eenheid uit 1 200 sôe sal bestaan. Alle plaaswerkers van WeGrow én gemeenskapslede sal aandeelhouers word deur ’n gemeenskapstrust en houermaatskappy.

Volgens Dolf, uitvoerende hoof van We-Grow, kan die sukses van die ooreenkoms aan vier faktore toegeskryf word. “Ons deelvennootskap is op ’n stwige grondslag gebou, ons bedryf al ons sake met integriteit, almal vertrou mekaar, en die bemagtiging van ons werkers en die omringende gemeenskap dra ook by tot die vooruitgang.”

Vandag het Afrikan Farms ’n gevestigde tegniese afdeling, bestuur deur mnr. Thinus de Jager. Hy het in 2016 by die maatskappy aangesluit. Die bedryfsbestuurder is mnr. Siphiwe Kumalo, ’n geoktrooieerde rekenmeester en voormalige senior ouditbestuurder by PricewaterhouseCoopers. “Ons boer vir die liefde van die saak, maar uiteindelik moet jy ’n wins maak en seker maak die besigheid word goed bestuur, aangesien die insetkoste so hoog is,” sê Shabalala.

“Met beeste dra jy die verantwoordelikheid en koste om hulle groot te maak. Wanneer dit by die verkoopslag kom, moet boere egter die markprys aanvaar. Ons is besig om dit met ons voerkraal te verander en ons wil ons eerste veeveiling op die plaas binne die volgende twee jaar hou om ons diere te vertoon en hopelik hoër pryse te kry. Ons praat ook met kleinhandelaars met die hoop om mettertyd klein- en groothandelaars regstreeks te voorsien.”

Volgens Shabalala is hulle optimisties oor die toekoms en hoop die grondkwessie kan op ’n opbouende manier uitgesorteer word. “Ons glo vas mense wat wil boer, moet toegang tot landbougrond hê sodat hulle tot die bou van ’n geborge landbousektor kan bydra.”

Afrikan Farms ontvang die eerbewys as die LNR se Kommersiële Beesvleisprodusent van die Jaar. Van links: Dr. Philip Strydom (LNR) en mnre. Martin Mhlongo (Molatek) en Nsika Shabalala (Afrikan Farms). Foto: LNR
Mnr. Nsika Shabalala bestuur die vleisbeesafdeling en mik daarna om die beste beesboer op die Hoëveld te word. Met die twee onlangse bekronings is dit nie ’n vergesogte droom nie.
Die maatskappy koop ook speenkalwers vir die voerkraal. “Die voerkraalafdeling gebruik van ons eie mielies, hooi en kuilvoer, en ons koop die res wat ons benodig van die Sernick-groep, wat dit vooraf meng,” sê mnr. Nsika Shabalala, bestuurder van die vleisbeesafdeling. FOTO’S: AFRIKAN FARMS, TENSY ANDERS VERMELD
Die Dormerkudde bestaan uit 1 300 teelooie. Al die nie-vervangingslammers word in die voerkraal op die plaas afgerond.
WeGro, ’n inisiatief tussen Afrikan Farms en twee mielieboere, die broers Dolf en Thys Bam, het in 2013 tot stand gekom en bestuur die saaiafdeling. Die afgelope seisoen was hul opbrengs sowat 9 ton mielies per hektaar en 3 ton sojabone op droëlande.

Só het Afrikan Farms oor 18 jaar gegroei

Mnr. Vusi Khanyile, voorsitter en stigtingsdirekteur van Afrikan Farms, het onlangs afgetree as uitvoerende voorsitter van die Thebe-beleggingskorporasie wat hy in 1992 gestig het, met onder meer oudpres. Nelson Mandela op die oorspronklike raad van trustees.

Hy het dié pos van 2010 tot 2018 beklee.

“Die oorsprong van Afrikan Farms kan teruggevoer word na my grootwordjare in ’n township in KwaZulu-Natal en my latere lewe in Soweto en die voorstede van Johannesburg. Omdat ek my hele werklewe in stede gebly het, wou ek altyd ’n stukkie grond, ’n stukkie van Afrika gehad het, wat ek my eie kon noem. Ek moes kon sê hierdie stukkie grond is deel van my en as familie is dit waar ons ons wortels gaan anker.

“Verskeie generasies van my familie het in Mooirivier in KwaZulu-Natal se Middelland gebly, en die vroeëre generasies aan die voet van die Lebomboberge.

“Ek is passievol oor die natuur, en ek is passievol oor beeste. Dit het my aangespoor om ons eerste plaas naby Amersfoort in Mpumalanga, 270 km van Johannesburg, te koop.

“Aanvanklik was my doel om ’n beeskudde op te bou en ek het myself as ’n veeboer gesien. Beeste het deur die eeue heen groot betekenis en waarde in Afrika gehad.

“Ek geniet ook ons skaapboerdery, maar is versot op beeste. ’n Gelyklopende passie is om die kwesbare en belangrike biodiversiteit op die plaas te bewaar, en die omgewing en die verskillende plant- en dierspesies beter te verstaan. Dit sluit ook in om van uitheemse indringerplantegroei ontslae te raak. Ons het ’n plig om die grondgehalte te verbeter.

“Ons het gou besef dat om suksesvolle beesboere te wees, moet ons mielies produseer. En omdat mielies stikstof uit die grond haal, moes ons sojabone plant wat die stikstof terugsit in die grond. Só het die gewasafdeling begin.” Hy pak die uitbreiding van die marknetwerk van Afrikan Farms van Johannesburg af aan.

“Ons strategiese visie is om ’n proteïenvoorsiener aan die mark te wees en ons rol in die toekoms van boerdery- en voedselsekerheid in Suid-Afrika te speel. Ons behoort nie proteïen in te voer as ons dit hier kan produseer, werk kan skep en Suid-Afrika se aandeel aan die wêreldwye uitvoermark kan vergroot nie.

“Op openbare beleidsvlak word die regte dinge gesê oor groei van die landbou en opheffing van mense, maar ons het meer suksesvolle projekte en ondernemings nodig. Skaal is belangrik. Ons moet die regte tegnologie en vernuwing inspan om volhoubaar te kan boer, opbrengs te verbeter en mense op te hef.”

“Ons het vaardigheidsontwikkelingsprogramme vir plaaswerkers en plaasbestuurders nodig. Jong swart mense wat wil boer of plaasbestuurders wil word, het opleidingsgeleenthede nodig en moet ondersteuning kry. Wanneer hulle uit kollege of universiteit kom, moet daar opleiding op plase wees om hulle te ontwikkel. Terselfdertyd moet ons baie bewus wees van die impak op die omgewing en ekostelsels.

“Daar is nie een antwoord oor die kwessie oor eienaarskap van plase nie. Party sakeondernemings voel dit is belangrik om die eiendom en grond te besit. Ander reken dit is nie hul kernbesigheid om in eiendom te belê nie en sal dus eerder huur. By Afrikan Farms doen ons albei.

“Die grondhervormingsinisiatiewe is reeds ’n aantal jare aan die gang, en oordrag van eienaarskap het in party gevalle plaasgevind, of dit aan gemeenskapsorganisasies is, of om mense die geleentheid te gee om te boer op plase wat aan die Regering behoort.”

Hy voel sterk daaroor dat die klem op prestasie en vennootskappe moet wees. “As kommersiële boere moet ons wedersyds voordelige maniere vind om met grondbegunstigdes saam te werk.

“Boerdery is ’n wetenskap én ’n besigheid. Dit neem lank om te bemeester en jy het kundiges nodig om jou te help om produktief te wees. Ons het byvoorbeeld oor baie jare hard gewerk om ons kudde met goeie teelmateriaal en voeding, en toegewyde bestuurders te verbeter. Dit werp nou vrugte af. Ons is baie dankbaar vir hierdie eerbewys, maar terselfdertyd het ons nog so baie om te leer en op te verbeter.

“Dit sluit in ’n begrip van die mark, marktoegang, en hoe om die versperrings tot marktoegang te oorkom. Dit is duur en ingewikkeld om meer aspekte van die waardeketting by ons boerdery in te skakel, maar ons het besluit dat ons verder as die plaashek móét gaan. Tot dusver kon ons beperkte hoeveelhede aan een of twee afsetpunte verskaf, maar die versperrings op toegang tot die kleinhandel- en voedselsektore is ontsaglik.”


© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.