Die berghaan, oftewel stompstertarend, soos dit in die verlede genoem is, het soveel interessante name. Die wetenskaplike Terathopius ecaudatus verwys na “mooi gesig” (Terathopius) en “stertlose voorkoms” (ecaudatus).

Francois Levaillant noem dit in Engels bateleur, wat Frans is vir ’n touloper en verwys na die voël se kenmerkende wiegende vlug. Dié vliegpatroon is ’n aanpassing om te vergoed vir die kort stert.

Elkeen van dié name het ’n klein bietjie waarheid daarin, wat gesamentlik die voëlsoort se unieke eienskappe raakvat.

Dié voëlsoort word as een van die ikoniese en gewildste Bosveld-voëls beskou. In vlug kan hulle tipies en sonder veel inspanning met opgedraaide vlerkpunte sweef en ’n spoed van tussen 50 km/h en 80 km/h bereik. Berghane kan tot 400 km per dag vlieg terwyl hulle vir kos soek. Hulle is geneig om nie op bewolkte dae te vlieg nie.

Die berghaan is onmiskenbaar wanneer dit rustend is, met sy swart veredos, grys skouermerke met kastaiingbruin mantel, rug en stert. Die washuid, veerlose gesig en bene is helderrooi. Dit het losser vere om die kop en gesig wat in die wind kan waai. Dit lyk dan groter as wat dit werklik is.

Mannetjies lyk nie soos wyfies

Van al die arende en slangarende is dit slegs by die berghaan en kroonarend waar merkbare verskille tussen die mannetjie en wyfie is. Die rustende berghaanmannetjie het swart slagvere en die wyfie het ’n liggrys vlerkpaneel. In vlug het die wyfie ’n breër wit ondervlerk, terwyl die mannetjie swart sekondêre vliegvere het.

Die onvolwasse voël is bruin met ’n grysgroen washuid en gesigvel en sy stert is langer as dié van volwasse voëls. Dit duur bykans 6 jaar voor die swart vere begin ontwikkel en 7 tot 8 jaar voor die volledige volwasse veredos ontwikkel het. Die berghaan is nader verwant aan die slangarend as aan die arende. Dit is die enigste arend wat doelbewus ’n klappende klank met die vlerke maak met vertoonvlugte tydens broeityd.

Dit jag laag oor die plantegroei op soek na kos. Veral kleiner soogdiere verteenwoordig die grootste gedeelte van hul voeding en hulle jag ook voëls en reptiele. Ongelukkig het hulle ook ’n voorliefde vir diere wat op paaie doodgery is, en dit stel hulle bloot om self raakgery te word. Roofarende neem ook gereeld hul kos af.

Vandag kom hulle net in groter reservate en aangrensende gebiede voor. Hulle verkies Kalahari-doringveld, savanne en mopanieruigtes en vermy bergagtige, swaar beboste en boomlose habitatte. Dit is dus geen wonder nie dat die Kgalagadi-oorgrenspark, die Kruger-wildtuin en die groter parke in Zoeloeland as hul laaste vestings beskou word.

Die berghaan se voorkoms maak dit een van die gewildste voëls in die Bosveld. Foto’s: Carin Malan

bedreigings

Die berghaan se getalle het tydens die twintigste eeu drasties gedaal. Berghane word as bedreig bestempel. Hul getalle het oor 40 jaar met 50% afgeneem. In dieselfde tydperk is daar in Swaziland gevind 25 broeipare het tot slegs 4 verminder. Na raming is minder as duisend volwasse voëls in die natuur oor. Hul getalle sal waarskynlik oor die volgende 27 jaar met ’n verdere 20% afneem.

Die daling is hoofsaaklik weens vergiftiging. Habitatverlies, wat meebring dat hul prooi verminder (veral buite bewaarde gebiede), speel ook ’n beduidende rol. Dit is kommerwekkend dat hul getalle in bewaarde gebiede blykbaar ook afneem weens vervolging en vergiftiging deur veeboere buite die parke. Dit bevestig weer dat buffersones rondom bewaarde gebiede aangemoedig behoort te word. Die benutting van berghane vir die moetie-bedryf moet ook ernstig ondersoek en nagevors word.

Boonop is die berghaan een van net ’n paar groot roofvoëls wat slegs een eier lê. Indien die broeipoging misluk, is hulle geneig om eers ’n jaar of langer later weer te probeer. Hulle is ook bekend daarvoor dat hulle maklik hul nes sal verlaat wanneer hulle versteur word en dan nie weer terugkom nie. Dis dalk nóg ’n verklaring vir dié voëlsoort se dalende getalle.

Die roofvoëlgroep van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe het bewusmakings- en opvoedkundige veldtogte vir grondeienaars en kleinveeboere in veral die Noord-Kaap begin en dit het ’n gunstige invloed op die aantal vergiftigings gehad.

Berghane word dikwels by watergate waargeneem waar hulle drink, was en tooi en soms bloot net rondsit tot groot vermaak van veral fotograwe. Die berghaan is net nog ’n ikoniese voëlsoort wie se bewaringstatus buite bewaarde gebiede dringende aandag benodig. 

Rig navrae oor die korrekte gebruik van gifstowwe aan dr. Gerhard Verdoorn van die Griffon-gifinligtingsentrum by 082 446 8946.

Dr. Anton Odendal is ’n lid van BirdLife Overberg en woon op Hermanus.

’n Groot aantal voëlkykklubs is bedrywig in Suid-Afrika. Kontak me. Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste. Vir gratis opvoedkundige plakkate en hulpmiddels oor sekretarisvoëls, kontak Chrissie Cloete by chrissiecandraw@gmail.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.