In die noordelike Bosveld se hartwatergebied kom ’n skaap nie sommer die mas op as hy nie teen dié gevreesde bosluisoorgedraagde siekte weerstand het nie; hy vrek maklik as ’n bontbosluis hom byt. Die pionierboere wat die Bosvelder uit die Bapedi, Dorper en Van Rooy geteel het, reken dié skaap is in ’n klas van sy eie en deins nie terug vir hartwater nie.

Lede van Limpopo se Pedistudiegroep (die ras se naam is later na Bapedi verander) wat in 2009 gestig is, wou die produksie van dié vetstert-kleinraamskaap deur infusie verbeter. Hul strewe was ’n “super-Bapedi” deur die ooie met ramme met goeie vleis- en groeikenmerke te kruis, naamlik Wit Dorper en Van Rooy, sonder om die Bapedi se gehardheid en aanpassingsvermoë prys te gee.

Die gevolg is ’n laesorg-, vetstert-veldskaap met die beste eienskappe van dié rasse, naamlik die Bapedi se weerstand teen hartwater en parasiete en vroeë geslagsrypheid, Wit Dorper se vroeë bemarkingsgereedheid en Van Rooy se langlewendheid, hoë melkproduksie, goeie haargehalte en lyflengte.

Omdat hierdie baanbrekerboere grootliks in die Bosveld boer, het hulle die skaap die Bosvelder gedoop en die Bosvelder-studiegroep gestig. Die groep het tans 35 lede, asook ’n aantal skaapboere wat nie lid van die studiegroep is nie, maar kommersieel met die Bosvelder boer. Die proses om die Bosvelder as ’n volwaardige ras by die registrateur van veeverbetering te registreer, het reeds begin.

Personeel van die registrateur se kantoor het bloedmonstens van die Bosvelder, asook die Bapedi en Van Rooy waaruit die Bosvelder geteel is, op van die plase geneem om die genetiese identiteit van elkeen op ’n wetenskaplike manier te bepaal. Hulle sal dan besluit of die Bosvelder as ’n nuwe ras geregistreer kan word. Die studiegroep het besluit om nie by SA Stamboek aan te sluit nie omdat die koste vir hulle te hoog is.

Bosvelderooie op oesreste. Die skape het uitstekende moedereienskappe en is baie vrugbaar.

Strawwe hartwatergebied

Mnr. Theo Hoffman, voorsitter van die Bosvelder-studiegroep, verduidelik die raskenmerke van hierdie poenskopskaap. Ramme moet sterk, robuus en vrugbaar wees en swaarder in die voorkwart en met ’n growwer haarkleed as ooie. Die ooie is in alle opsigte fyner as ramme en moet goeie, gebalanseerde bespiering hê en baie vrugbaar en produktief wees. Die stert moenie te swaar en nie breër as die buitedye wees nie. Enige kleurskakering is toelaatbaar. Voldoende pigment is noodsaaklik om die oë, ore en neus.

Hoffman en sy pa, Hoffie, boer saam op Mooiplaas tussen Middelburg en Groblersdal, wat strawwe hartwatergebied is. Hul familieboerdery sluit ook ’n saaiboerdery en beeste in. Die veldtipe word as suur oorgangsveld beskryf, bestaande uit witbuffel-, borseltjie- en suurgras. Hoffie het in 2011 van Groblersdal na Mooiplaas getrek nadat hy met melkbeeste, tabak en tafeldruiwe geboer het. Tot 1980 het hy in Zimbabwe geboer.

Hoffman het sy pa in 2013 na Mooiplaas gevolg. Nou boer hulle met Bosvelders en kommersiële Bovelderbeeste om speenkalwers te produseer. Saam met me. Karen en mnr. Egbert Hiemstra van Lydenburg is hulle die eienaars van ’n Brahmanstoetery.

Hulle saai mielies op 150 ha droëlande en 72 ha mielies onder ’n spilpunt vir die verkoop van graan. Die water kom uit opgaardamme wat gedurende die reëntyd deur strome gevoed word. Hulle pas goeie wisselweiding met die beeste en skape toe wat mekaar aanvul omdat hulle verskillende grasse verkies. In die ruie dele benut die skape ook die blare en peule wat van die doringbome afval.

Een van Hoffman se beste Bosvelderramme. Foto’S: Rudette Nel, Theo Hoffman

Van Bapedi na Bosvelder

Hoffman het in 2008 met Bapedi’s begin boer en later 200 ooie gehad. Om die Bapedi se groeitempo en vleiseienskappe te verbeter, het hy die ooie eers met Meatmasterramme gepaar, maar dié kruising was nie vir hom ideaal nie. “Die bouvorm was té plat en hulle was vatbaar vir hartwater.”

Hy het toe ’n Meatmasterram gebruik wat baie na Dorper geneig het. Sy lammers het die gewenste bouvorm en groei getoon. Gevolglik het hy begin om Bapedi-ooie met Wit Dorperramme te paar, met voorkeur aan ramme met langer bene vir goeie loopvermoë vir die plaas se heuwelagtige terrein, asook ’n goeie bouvorm met baie vleis.

Later het Hoffman hierdie ooinageslag met Van Rooyramme gepaar ter wille van langlewendheid, vleisgehalte, sterk moedereienskappe, baie melk, gehardheid en ’n sterk kudde-instink. “Die kombinasie van 50% Bapedi, 25% Wit Dorper en 25% Van Rooy is ideaal. ’n Duidelike Bapedi-voorkoms is verpligtend omdat dié ras die weerstand teen hartwater na die Bosvelder oordra.”

Sowat 90% van die ramme is sy eie aanteel, wat vir ’n goeie inkomste met speenlammers en stoorlammers van die veld af sorg. Hoffman doen soms selektiewe paring met Dorper- of Van Rooyramme indien die nageslag te veel na die een of die ander ras neig. Hy volg nie ’n dekseisoen nie sodat hulle regdeur die jaar slaglammers kan verkoop.

Jong ooitjies word gedek sodra hulle die eerste keer op hitte kom. Ooie moet voor die ouderdom van 18 maande die eerste keer lam en daarna ’n lamsyfer van 150% (drie lammers elke 24 maande) handhaaf, anders word hulle geprul. Die lammers word op 90-120 dae gespeen en dan afsonderlik van die ooie gehou.

Die ooitjies gaan ná ’n maand terug na die ooikudde, terwyl die ramlammers eenkant gehou word. Ramme met die potensiaal vir kudderamme word dan geselekteer. Die res word verkoop soos die vraag ontstaan; party as speenlammers en die res as stoorlammers wanneer hulle 120-150 dae oud is. Hoffman het die suiwer Bapedi’s teen gemiddeld 16 kg gespeen.

Die Bosvelders speen teen 25 kg en stoorlammmers wanneer hulle sowat 30 kg weeg. Hy het onlangs ’n ramlam teen 38 kg gespeen, wat hy as kudderam gaan gebruik. Die Bosvelder is ook gewild onder sommige wildboere wat baie geld in duur, skaars wildsoorte belê het voordat die pryse getuimel het.

Hoffman is baie tevrede met sy Bosvelders. “Ons ideaal was om ’n skaap vir die Bosveld te teel, maar wat ook op ander plekke sal aanpas. As hulle hier by ons kan oorleef, sal hulle op enige plek kan floreer. Hierdie gebied was weens sy beperkinge van veral hartwater nooit regtig skaapwêreld nie. Nou het ons die ras om die aanslae te weerstaan.” 

Me. Rudette Nel van die plaas Albion naby Thabazimbi met ’n arm vol Bosvelderlammers. Haar hele kudde is Bosvelders en bestaan uit 400 ooie. Foto: Rudette Nel

IDEAAL VIR DIE Bosveld

Me. Rudette Nel boer sedert 2008 saam met haar man, Jannie, op die plaas Albion by Rooibokkraal naby Thabazimbi. Sy sê die Bosvelders se vermoë om bosse te benut danksy hul voorliefde vir blare en peule maak dit die ideale skaap vir die Bosveld. “Nog ’n voordeel is dat dit ’n laesorgskaap is.”

Nel boer met die skape en haar man behartig die saai- en wildboerdery. Sy het in 2009 met Bapedi’s begin. Vandag is haar hele kudde van 400 ooie Bosvelders. Die skape loop op gemengde veldweiding met oorwegend soetgrasse en baie bosse. Hulle benut die bosse baie goed omdat hulle graag hoog wei en blare en peule vreet. In die droë wintermaande wei die skape ook op oesreste.

Nel volg nie ’n vaste dek- en lamseisoen nie. Die ramme is heeljaar by die ooie. Sy het ’n paar ramspanne wat omgeruil word sodat hulle ’n ruskans kry voor hulle weer na die ooie gaan. Die Bosvelder is baie vrugbaar. Ooie is vroegryp en lam selfs al op 12 maande vir die eerste keer. Haar teelbeleid is om slaglammers vir veral die informele mark te teel waar hulle ’n pryspremie kry.

Nel sê al hoe meer boere in strawwe hartwatergebiede belê in Bosvelderskape. Hartwater is ’n siekte wat deur die bontbosluis oorgedra word en kom in gebiede voor wat nie strawwe winters ervaar nie. “Hierdie geharde skaap se goeie weerstand is gevolglik ’n uitkoms vir boere in hartwatergebiede waar dit bykans onmoontlik is om met kleinvee te boer.”

’n Bosvelder-ooi met haar lam op Hoffman se plaas. Die Bosvelder is deur pionierboere uit die beste eienskappe van drie inheemse skaaprasse geteel. Die Bosvelder-studiegroep beoog om dit binnekort as volwaardige ras te laat registreer. Foto: Charl van Rooyen

GROOT INFORMELE MARK

Daar is ’n groot vraag na Bosvelder-slaglammers en volwasse skape vir tradisionele seremonies en feeste. Informele handelaars is bereid om ’n premie van ongeveer R4/kg lewende gewig méér vir geharde skape soos die Bosvelder te betaal. Die uitstekende vleisgehalte en verbeterde karkasgewig maak die Bosvelder ook gewilder onder slagters en kleinhandelaars.

Die studiegroep hou jaarliks ’n eliteveiling op Bela-Bela waar diere vooraf streng gekeur word. Dragtigheidsondersoeke word op al die ooie uitgevoer, terwyl ramme as vrugbaar en vry van Brucella ovis bewys moet word. Die diere op die veiling word met ’n waarborg teen vrektes weens hartwater verkoop.

Die studiegroep is tans besig met ’n projek waar alle diere wat as Bosvelders gekeur is, met ’n unieke identifikasiemerk aangedui en op ’n databasis aangeteken sal word.

Mnr. André Bester (regs) en sy pa, ook Andé, wat hom gereeld met raad en daad bystaan. Hy hou die skape saam met wild aan en boer ook met Bonsmarabeeste. Foto: Charl van Rooyen

Skape saam met wild

Mnr. André Bester boer die afgelope ses jaar op die plaas Zoete Inval naby Bela-Bela. Hy hou sy Bosvelderskape saam met wild aan en op dié manier wend hy die wild se infrastruktuur doeltreffender aan. Die boerdery bestaan uit 200 Bosvelderooie (saam met die lammers en ramme meer as 300 stuks), 150 Bonsmara-stoetkoeie en swartwitpense, njalas, koning-wildbeeste, blesbokke, hartwater-springbokke, rooibokke, koedoes, waterbokke en vlakvarke. Die wild is vir die teel van trofeediere en biltongjag.

“Boerdery was altyd in my bloed. My pa, André, was voorheen ’n tabak-en-skaapboer en my oupa, Andries, het met Bonsmaras geboer. Albei het by Brits geboer. Ek het aanvanklik grond gehuur en later die plaas by Bela-Bela gekoop. Wild was my eerste boerdery en die beeste het later bygekom. Twee jaar gelede het die skape ’n derde vertakking van die boerdery geword. Die woonplaas is aanvanklik vir kleinwild ontwikkel en hou jakkalse en rooikatte uit. Dit is dus ook voordelig vir die skaapboerdery.

“Ek het klein kampies van 15-30 ha vir die wild gemaak en het goeie hanteergeriewe waarin dit maklik is om ook met die skape te werk. Hulle loop saam met die wild. Die wild en skape het verskillende weigewoontes en benut die veld dus beter.”

Hy het ook aangeplante bloubuffelgras en eenjarige tef wat elke jaar afgesny, gebaal en opgeberg word. Wanneer nodig, word dit vir die wild en vee gemaal. Die skape kry in die somer ’n fosfaatlek en in die winter byvoeding wat uit ’n mengsel van ruvoer, mielies, minerale en spoorelemente bestaan. “ ’n Mens kan op enige plek met Bosvelders boer, want hulle is goed aangepas. Veral die weerstand teen hartwater is baie belangrik. Die vetstertskaap is ook by jagters gewild vir die maak van droëwors.

“Sodra ’n boer die Bosvelder se eienskappe vasgeteel het, is dit maklik om met die bloedlyne voort te gaan. Ek volg die beleid van 50% Bapedi, 25% Wit Dorper en 25% Dorper. Die skape kan baie warm somers en strawwe winters trotseer en is gras- én bosvreters.”

Bosvelders is ook bosvreters en benut die blare en peule wanneer daar in die winter en ander droë tye min grasweiding is. Foto: RUDETTE NEL

Bester se boerdery is op slaglamproduksie gemik en hy verkoop lammers wat deur die aankopers op die plaas gelaai word. Die ooie lam drie keer in ’n tydperk van twee jaar. Die lammers ondergaan drie seleksies. Die eerste meting is speenwaardes. Daarvoor weeg Bester die lammers by geboorte en wanneer hulle op honderd dae gespeen word. Dan kan hy die groeitempo per dag bepaal. Dit verskaf ook die ooi se melkindeks, dus hoe goed elke ooi haar lam grootmaak.

Elke lam word met ’n oorplaatjie gemerk sodat hy individuele rekordhouding kan toepas. Hierna staan al die lammers vir ses weke op kraal waar hulle ’n gebalanseerde voerkraalmengsel kry teen 1 kg meel per dag, asook ad lib ruvoer. Aan die einde van die voerkraaltyd weeg Bester almal weer.

Die verskil tussen die begin- en eindgewig verskaf die gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT). Die geboortegewig is sowat 3,5 kg of méér vir enkellammers en 1,8 kg vir meerlinge. Die speengewig is 25-30 kg. Die GDT is 200-300 g per dag in die voerkraal. Wanneer die ramlammers uit die voerkraal kom, weeg hulle 32-35 kg.

Bester behou die 30% beste rammetjies op grond van hul GDT en bouvorm. Hulle is dan op die veld tot die ouderdom van 270 dae, waarna hulle weer geweeg word. Dié tydperk toon hoe goed elke lam vir homself op die veld kan sorg. Die 10% beste ramme word geselekteer as teelramme vir eie gebruik of om te verkoop. Hulle kan dadelik begin dek.

Al die ooilammers wat die seleksie slaag, gaan op elf maande terug na die trop nadat dieselfde seleksie as met die rammetjies gedoen is. Die ramme en ooie wat afgekeur word, word dadelik vir slagdoeleindes verkoop. Bester verkoop net lewende slagdiere aan aankopers wat hulle op die plaas laai. Hy het dus self geen risiko’s met die vervoerproses en bemarkingskoste nie.

Die skape word deurgaans visueel beoordeel volgens raseienskappe, bouvorm en teelwaardes om van swak diere ontslae te raak. Bester prul byvoorbeeld diere met skewe bekke en swak kruise en laatryp ooie. Die seleksieproses word met die dekseisoene gekoördineer.

Die ooitjies word op elf maande vir die eerste keer gedek. “Ek volg ’n deeglike proses om ooie met dieselfde eienskappe saam te groepeer en hulle dan met spesifieke ramme te paar. Die verhouding van ramme tot ooie is een tot dertig.”

Bester en sy Anatoliese herdershond by ’n troppie ooie. Die hond loop by die skape om seker te maak roofdiere val hulle nie aan nie. Die Bosvelder is ’n geharde, laesorg-, vetstertskaap en ideaal om in die Bosveld mee te boer. Foto: Charl van Rooyen

Bester het spesifieke dekseisoene wat op die eerste dag van al die ongelyke maande val. Hy gebruik koggelramme wat tien dae voor dektyd by die ooie gesit word om hulle gereed te kry. Die geselekteerde ramme gaan dan vir ’n dektyd van 36 dae na die ooie. “Elke ram het ’n bykomende, spesifieke kleur oorplaatjie. Omdat al die ooie ná die dekseisoen in een bestuursgroep teruggeplaas word, word dieselfde kleur merker by die ooie aangebring wat saam met ’n spesifieke ram geloop het. Dit vergemaklik die rekordhoudings met lamtyd om elke lam se vaar te identifiseer.”

Deur middel van dié dekstelsel het Bester deurgaans lammers wat gespeen en verkoop word. Hy behandel net vir hartwater wanneer die diere siek is. Verder pas hy die gebruiklike voorkomende behandeling toe, soos doserings, vitamien A- en vitamien E-spuitstof vir ’n ekstra aanvulling, spons-, milt- en lamsiekte en bloednier wanneer daar ’n drastiese verandering in weiding en voeding is.

Die skape word elke drie maande in die reënseisoen vir bosluise behandel. Lammers word vier weke ná geboorte vir melklintwurm behandel. Hy gebruik die Famacha-kaart om inwendige parasietbesmetting te monitor. Dit behels die ondersoek van die oog se slymvlieskleur vir bloedarmoede weens besmetting met onder meer haarwurm. Dan hoef Bester net besmette diere te behandel. “Ek doen so min chemiese behandeling moontlik om die skape se gehardheid te behou.

Vir sy skape en beeste gebruik hy die Bengufarm-rekenaarprogram. Dit is vir hom belangrik om volgens SA Stamboek se standaarde te meet en te weeg sodat hy ’n goeie databasis van bepaalde ramme en ooie se nageslag het. Sy veewagters weeg die skape en teken die gewigte aan. By geboorte hou hulle rekord van watter ooie gelam het.

’n Lam kry ’n oorplaatjie met ’n unieke identiteitsnommer en dieselfde bykomende kleur merker as die pa. “Ons boekhouding is só akkuraat, ek kan enige tyd sien in watter kamp ’n spesifieke ooi loop, of sy dragtig is, of sy reeds gelam het en hoeveel lammers sy al gehad het.”