“Ons bedryf het in die afgelope jaar tien jaar gevorder, maar dit was harde werk en daar lê nog werk voor,” het mnr. Rothner Bekker, voorsitter van Sybokhaar Suid-Afrika (SSA), gesê.

Die diereaktiviste-organisasie het verlede Mei ’n opspraakwekkende video uitgereik waarin die mishandeling van bokke getoon word. Verskeie handelsmerke het daarna besluit om die verkoop van bokhaarprodukte te laat vaar.

Bekker het die bestuur van SSA, aanvanklik onder leiding van mnr. Deon Saayman, wat intussen aangestel is as bestuurder by Cape Wools, geloof vir wat dit reggekry het om die aanslag sodanig af te weer dat bokhaarpryse op veilings die afgelope jaar toegeneem het. “Ons weet dat ’n organisasie soos Peta nie sal opgee nie. Ons weet van ander bedrywe wat ook in die visier is.”

In Mei vanjaar, ongeveer ’n jaar ná die veldtog teen sybokhaar, het Peta ’n soortgelyke verslag en video teen die kasjmierbedryf uitgereik.

“Hoewel ons onsself as wêreldleiers kan beskou met ander wat ons volg, wil ons nie arrogant wees nie. Ons is bereid om hulp en raad te gee aan enige bedryf wat ons nader,” het Bekker gesê.

Mnr. Cobus de Klerk het in die voorsittersverslag van die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging genoem dat die volhoubare standaard tot naspeurbaarheid sal lei, wat die bedryf sal baat aangesien sy kliënte nie net in Port Elizabeth is nie, maar in Europese lande. “Die mense wil weet waar die bokhaar geproduseer word en hoe dit gedoen word.” 

Harde werk

Me. Lindsay Humphreys, nuwe bestuurder van SSA, sê die bedryf is gered omdat Saayman reeds in 2009 begin het om volhoubare praktyke in die bedryf in te voer. Die bedryf was dus met die uitreiking van die video goed op dreef met volhoubare praktyke en standaarde op die plaas.

Lindsay Humphreys
Me. Lindsay Humphreys. Foto: Verskaf

Humphreys en haar span het intussen met 75 handelsmerke vergader en kon ook die steun van verskeie groot handelsmerke in die afgelope jaar bykry nadat ongeveer 16 handelsmerke self die plase kom besoek het.

Die bokhaarbedryf beoog om vanjaar ’n internasionale volhoubare bokhaarstandaard, genaamd die “responsible mohair standard”, in te stel. Die hoop is dat die standaard tydens die Textile Exchange se kongres later vanjaar aanvaar sal word.

Textile Exchange is ’n internasionale organisasie wat spesialiseer in die ontwikkeling van volhoubare standaarde vir dierevesels. Sy lede sluit verskeie bekende handelsmerke, dieresorgorganisasies en veselbedrywe in. Die bedryf hoop dat alle bokhaarprodusente binnekort in Suid-Afrika deur die stelsel geouditeer sal word. “Volhoubaarheid is hier om te bly, anders gaan óns nie meer wees nie.”

Sy het boere ook verseker dat hulle deur SSA bygestaan sal word met die ouditprosesse. “Die enigste verskil tussen wat julle reeds doen en wat julle moet doen, is net papierwerk, en julle hoef nie alles alleen te doen nie, almal wil ’n positiewe ouditverslag sien.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.